Van Rooyen NO v Rorich Wolmarans & Luderitz (146/2008) [2008] ZASCA 135 (26 November 2008)



DIE HOOGSTE HOF VAN APPèL

REPUBLIEK VAN SUID-AFRIKA


UITSPRAAK


Saaknommer: 146/08

Geen gesagswaarde

In die saak tussen:



PIETER BERNARDUS VAN ROOYEN NO APPELLANT



en



RORICH WOLMARANS & LÜDERITZ ING RESPONDENT



Neutral citation: Van Rooyen v Rorich Wolmarans & Lüderitz (146/08) [2008] ZASC 135 (26 November 2008)



CORAM: SCOTT, BRAND, COMBRINCK ARR, BORUCHOWITZ et GRIESEL WNDE ARR


DATUM: 4 NOVEMBER 2008


GELEWER: 26 NOVEMBER 2008


GEKORRIGEER:


OPSOMMING: Insolvensie – feitevraag of aan respondent as aktevervaardiger opdrag deur kurators van 'n insolvente boedel gegee is om die opbrengs van die verkoop van boedelbates aan 'n derde oor te betaal.





BEVEL


Op appèl vanaf: Pretoria Hooggeregshof (Ledwaba R)

Die appèl word van die hand gewys met koste.


UITSPRAAK


COMBRINCK AR (Scott, Brand, ARR, Boruchowitz et Griesel Wnde ARR stem saam)


[1] Die appellant, in sy hoedanigheid as kurator van die insolvente boedel van Johannes Jacobus Smith, het in die Pretoria se Hooggeregshof aksie ingestel teen die respondent, 'n ingelyfde maatskappy wat handel dryf as prokureurs, vir betaling van 'n bedrag van R809 806. Die verhoor het voor Ledwaba R gedien wat die eis van die hand gewys het met koste. Met verlof van die hof benede wend die appellant hom nou in hoër beroep na hierdie hof.


[2] Die appellant het sy eis gegrond op 'n mandaat wat deur hom en sy mede-kurator in die boedel, mnr Lüderitz, aan respondent gegee is om twee eiendomme wat uit die boedel verkoop is aan die kopers oor te dra. Die respondent, so is beweer, moes aan die kuratore verreken vir die fondse ontvang. In stryd met die mandaat het die respondent '. . . nalatiglik versuim om toe te sien dat die voormelde opbrengste van die betrokke transaksies aan die gemelde boedel oorbetaal word . . ..' As gevolg van die nalatige versuim het die boedel skade gely aangesien die fondse aan 'n maatskappy, De Mist Trust Corporate Services (Edms) Bpk ('De Mist') betaal is. Die bedrae is nooit van die maatskappy verhaal nie aangesien dit gelikwideer is. Die respondent het in sy pleit beweer dat deel van die mandaat gegee deur een van die kuratore, 'n mnr Lüderitz, behoorlik daartoe gemagtig, was dat die koopsom aan De Mist betaal moes word. Die bedrae is aan laasgenoemde as behoorlik gemagtigde verteenwoordiger van die kuratore betaal en die mandaat is dus behoorlik uitgevoer. Daar was ook 'n spesiale pleit van verjaring wat deur die verhoorhof verwerp is. Daar is geen kruisappèl teen daardie bevel en niks verder hoef daaroor gesê te word nie.


[3] Behalwe vir die kernvraag oor wat die terme van die mandaat was, was meeste van die feite wesenlik tot die saak nie in geskil nie. By die voor-verhoorkonferensie is die volgende feite erken, en ek haal aan uit die notule:

'1.2 Die feit dat die Eiser en wyle A H W Lüderitz te alle relevante tye mede-kuratore was in die insolvente boedel van Johannes Jacobus Smith;

1.3 Die feit dat, gedurende ongeveer die begin van Mei 1996, die Verweerder opdrag ontvang het om namens die twee gemelde kuratore, twee transporte te behartig ten aansien van die verkope van onroerende eiendomme uit die insolvente boedel, te wete :

1.3.1 die transport van Gedeelte 29 van die plaas Witfontein en Gedeelte 1 van die plaas Vleiland aan ene E van Niekerk;

1.3.2 die transport van Gedeelte 16 ('n gedeelte van Gedeelte 3) van die plaas Vaalbank aan K N en M M Grobbelaar;

1.4 Die feit dat dit 'n uitdruklike, alternatiewelik stilswyende, verder alternatiewelik geïmpliseerde terme van die Verweerder se opdrag was dat hy dit op 'n behoorlike en professionele manier en sonder nalatigheid sou verrig ten einde toe te sien dat die transporte insake voormelde transaksies behoorlik en korrek plaasvind en geregistreer word;

1.5 Die feit dat die transporte inderdaad in die naam van die kopers plaasgevind het;

1.6 Die feit dat die Verweerder op 31 Julie 1996 'n tjek ten bedrae van R512 380 ten gunste van De Mist Trust Corporate Services getrek het ten aansien van die Van Niekerk transaksie;

1.7 Die feit dat op 1 Augustus 1996 die Verweerder 'n tjek ten bedrae van R307 428 ten gunste van De Mist Trust Corporate Services getrek het ten aansien van die Grobbelaar transaksie;

1.8 Die feit dat die Verweerder bogemelde feite op 11 Junie 2003 skriftelik aan die Eiser bevestig het tesame met afskrifte van die betrokke tjeks;

2.1 Die feit dat gemelde wyle Lüderitz te alle relevante tye 'n direkteur van De Mist Trust Corporate Services (Edms) Bpk was;

2.2 Die feit dat gemelde wyle Lüderitz te alle relevante tye 'n direkteur van die Verweerder was;

2.3 Die feit dat die Verweerder te alle relevante tye die enigste aandeelhouer en gevolglik houermaatskappy van gemelde De Mist Trust Corporate Services (Edms) Bpk was.'

[4] Die appellant het voor die verhoorhof getuig en twee getuies geroep. Die getuienis was daarop gemik om te bewys dat daar 'n verpligting gerus het op die respondent as aktevervaardiger om die opbrengs van die verkope van die boedel se eiendomme slegs aan die kuratore en niemand anders oor te betaal nie. Respondent het mnr Endres geroep wat getuig het oor die bepalings van die mandaat. Daar dien gemeld te word dat dit gemene saak op die getuienis was dat dit vry algemeen voorgekom het onder insolvensie-praktisyns dat trusmaatskappye of beslote korporasies, wat deur hulle gestig is, gebruik word om die praktiese bereddering van die boedels en die dag tot dag administrasie daarvan te behartig.


[5] In sy betoogshoofde het appellant se advokaat aangevoer dat die crux van die saak is of die respondent nalatig opgetree het al dan nie. Hy het egter nie met die vraagstuk in betoog voor ons volhard nie. Die appèl moes slaag, het hy aangevoer, op die enkele grond dat daar nie bewys is dat dit 'n term van die mandaat was dat die koopsomme aan De Mist oorbetaal moes word nie. Lüderitz is voor die verhoor oorlede en die enigste persoon wat kon getuig oor die terme van die mandaat was die aktevervaardiger in die respondent se diens, gemelde Endres. Die getuie se getuienis, so is betoog, was teenstrydig met wat hy by 'n insolvensie-ondervraging gesê het en ook teenstrydig met die pleitstukke. By die insolvensie verrigtinge het hy gesê dat hy nie opdrag van Lüderitz gekry het om die bedrae aan De Mist oor te betaal nie, maar wel van 'n mnr Brough, 'n diensnemer van De Mist. In die pleit is beweer dat Lüderitz die opdrag gegee het. In sy getuienis in die hof het hy gesê daar was 'n algemene praktyk by respondent dat waar Lüderitz 'n kurator was in 'n boedel bedrae ontvang namens die boedel aan De Mist verreken moes word. Endres se getuienis moet dus verwerp word met die gevolg dat die term waarop respondent staat maak nie bewese is nie.


[6] Die enigste vraag in die appèl is derhalwe of dit deel was van respondent se mandaat dat die gelde ontvang uit die twee kooptransaksies aan De Mist as verteenwoordiger van die boedel betaal moes word, al dan nie. Soos tereg deur die advokaat vir die respondent uitgewys is die onus op die appellant om te bewys dat die term nie deel van die mandaat was nie.1


[7] Endres het as volg getuig oor die aangeleentheid:

'Waarom het u in hierdie geval van hierdie insolvente boedel en wat al die transporte betref wat daaronder geresorteer het, aan De Mist verreken en betaal? --- U edele van my voorgangers by die firma insluitende mnr Danie Kolver het voorheen die insolvente boedel oordragte hanteer, nadat mnr Kolver . . . Mnr Kolver is in 1995 of 1996 weg by die firma en daarop het ek voortgegaan om hierdie insolvente boedel oordrag te hanteer. Dit is aan my oorgedra deur my voorgangers en was dit ook algemene praktyk by die firma om in boedels waar mnr Lüderitz die aanstelling het en waarvan De Mist Trust die verteenwoordigers was om die administrasie te hanteer aan De Mist te verreken.

Verstaan ons die getuienis dat dit was bestaande instruksie in die praktyk vanaf, in die firma dat dit is hoe u dit moes doen? --- U edele dit was 'n staande praktyk en instruksie by die firma en dit was voor hierdie boedeloordragte so gedoen gewees en ook vir 'n hele tydjie daarna.

Van wie het u verstaan kom hierdie staande instruksie? --- U edele ek het verstaan dat dit 'n staande instruksie vanaf mnr Dolf Lüderitz, die kurator, was.''

Sy getuienis is deur die verhoorhof aanvaar en daar is ook 'n uitdruklike bevinding dat sy getuienis nie teenstydig is met dit wat hy by die insolvensieverhoor gesê het nie. Na deurlees van Endres se getuienis by die insolvensieverhoor is ek van mening dat die verhoorhof volkome korrek was in hierdie opsig. Al was daar hier en daar 'n geringe teenstrydigheid is daar geen basis waarop Endres se getuienis van die algemene praktyk as onbetroubaar of ongeloofwaardig beskou kan word nie. Appellant het, toe Endres se getuienis in kruisverhoor aan hom gestel is, erken dat hy nie in staat is om dit te weerlê nie.


[8] Die waarskynlikhede is ook stewig aan die kant van die respondent. Dit is hoogs onwaarskynlik dat Endres sonder die bestaan van die praktyk op eie houtjie die bedrae aan De Mist sou oorbetaal. Daar was in dieselfde boedel 'n derde oordrag van 'n eiendom aan 'n mnr Prinsloo. Daar is dieselfde prosedure gevolg en is die koopsom na Endres se wete ook aan De Mist oorbetaal. Die bedrag het later in die boedelrekening beland. Endres het ook in 'n kantoormemorandum, gedateer 6 Maart 2000, verslag gedoen aan Lüderitz oor oordragte van eiendomme uit die boedel J J Smith en by elke transaksie is gemeld dat die bedrag aan De Mist betaal is. Die memorandum, volgens Endres, is sonder protes deur Lüderitz ontvang. Daarbenewens het Lüderitz self, so het Endres getuig, van die tjeks wat aan De Mist uitgemaak is, as direkteur van respondent, mede-onderteken. Daar was ook niks buitengewoon of vreemd daaraan om die bedrae aan De Mist te betaal nie. Die maatskappy was belas met die praktiese dag tot dag taak van bereddering van die boedels. Daarbenewens was die respondent die alleen-aandeelhouer in die maatskappy en Lüderitz 'n direkteur.


[9] Ek is gevolglik van mening dat die verhoorhof se bevinding dat dit wel 'n term van die mandaat was dat die opbrengs van die verkope aan De Mist oorbetaal moes word, onaanvegbaar is. Streng gesproke was die hekkie te hoog vir die respondent gestel en al wat bevind moes word, soos hierbo vermeld, was dat appellant nie daarin geslaag het om te bewys dat daardie term nie deel van die opdrag was nie.


[10] Die appèl word van die hand gewys met koste.




……………………..

P C COMBRINCK

APPÈLREGTER




APPEARANCES:


FOR APPELLANT: C L H HARMS

M H VAN TWISK


INSTRUCTED BY: SURITA MARAIS PROKUREURS

PRETORIA

CORRESPONDENTS: NAUDES ING

BLOEMFONTEIN



FOR RESPONDENT: M MARITZ SC


INSTRUCTED BY: GELDENHUYS LESSING MALATJI ING

PRETORIA

CORRESPONDENTS: HONEY PROKUREURS

BLOEMFONTEIN



1 Stocks & Stocks (Pty) Ltd v Daly & Sons (Pty) Ltd 1979 (3) SA 754 (A) te 762G-H.

▲ To the top