S v Mofokeng (130/1993) [1994] ZASCA 11 (15 March 1994)


CG SAAKNOMMER: 130/93

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak van:

AARON JOHANNES MOFOKENG Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: HEFER, VAN DEN HEEVER et HOWIE ARR AANGEHOOR: 28 FEBRUARIE 1993

GELEWER: 15 MAART 1993

UITSPRAAK VAN DEN HEEVER AR

2 Appellant kom in hoër. beroep ingevolge a 316 A (1) van die Strafproseswet Nr 51 van 1977 teen slegs die doodvonnis aan hom opgelê deur Malherbe R in die Rondgaande hof op Vrede nadat die appellant skuldig bevind is aan moord. Op 'n gepaardgaande aanklag van roof met verswarende omstandighede is hy gevonnis tot 12 jaar gevangenisstraf.

Appellant het by die verhoor daaraan skuldig gepleit dat hy op Vrydag 18 September 1992 mev A S Kruger in haar huis op Harrismith helder oordag vermoor het. Die wyse waarop sy haar dood gevind het en dat dit juis sy was, het Harrismith diep geskok. Sy was 'n weduwee van om en by 65, nog gesond en aktief, wat alleen gewoon het nadat haar kinders almal uit die huis is. Hoewel sy nie meer buitenshuis gewerk het nie na haar aftrede as boekhoudster by die firma waar sy vroeër in diens was, was sy betrokke by die Vroue Landbou-Unie, by vele ander liggame, en by verskeie sportsoorte.

3 Appellant het verskillende weergawes gegee van hoe hy toegang tot haar huis verkry het. Hy het 'n bekentenis voor die landdros van Bethlehem kort na sy arrestasie afgelê. 'n Pleitverduideliking is ingedien toe hy by sy verhoor skuldig gepleit het. Hy het nie getuig op die meriete van die aanklagte teen hom nie, maar het wel getuienis afgelê 'nadat hy skuldig bevind is en etlike vorige veroordelings erken het. Die hooftrekke van sy verhaal het dieselfde gebly, maar die besonderhede kom nie in alle opsigte ooreen nie. Sy mondelinge getuienis soos deur kruisverhoor getoets, is die mees verdoemende weergawe, en waarskynlik ook die naaste aan die waarheid. Sy vorige veroordelings regverdig aanvaarding van hierdie, die mees volledige, weergawe, dat hy by oorledene kamma om werk aangeklop het wat sy hom nie kon bied nie. Hy het haar perseel verlaat maar onder 'n boom daar naby in die skadu gewag totdat sy weg is in haar Corolla motor. Hy het toegang tot die huis gekry by 'n agterdeur wat nie gesluit was

4 nie, maar die huis nie vir items soos radio's of TV stelle deursoek nie. Ondervinding het hom geleer om nie waardevolle artikels te neem nie want hy word gearresteer nog voor hy hulie kan verkoop. Hy het gedink dat oorledene geld by haar het en haar derhalwe ingewag om te kry wat hy sê hy "nodig gehad" het. Die ondervinding waarvan hy praat word weerspieël in sy SAP 69. Daarvolgens het hy naamlik as 17-jarige vir die eerste keer met die gereg gebots. Hy was voor die huidige verhoor altesame vyfmaal voor die hof in die loop waarvan hy skuldig bevind is op nie minder as agttien aanklagte nie van óf diefstal, óf huisbraak met die opset om te steel en diefstal.

Waar ek sy verlede as stawing noem vir die erkenning deur middel van kruisverhoor van hom verkry aangaande sy motiewe en optrede voor die moord, kan ek netsowel nou reeds sy agtergrond en karakter verder inkleur. Hy was geen kind toe hy geroof en gemoor het nie, aangesien hy in 1965 gebore is. Hy het 'n

5 vrymeisie maar geen afhanklikes nie. Hy het maar standerd 2 op skool gehaal. Vir sy vergrype van die verlede is hy as jeugdige aan lyfstraf onderwerp, hy is daarna beboet, en het gevorder tot gevangenisstraf. In 1988 is 'n totaal van 65 maande gevangenisstraf aan hom opgelê, waarvan hy slegs 'n raps meer as die helfte ondergaan het voordat hy vrygelaat is op parool. Knap drie maande na sy vrylating is hy weer skuldig bevind aan diefstal en was gelukkig om slegs beboet te word en nie weer in die gevangenis opgeneem te word weens paroolbreuk nie. Alles dui daarop dat hy 'n parasiet is wat op die samelewing teer, want in sy hele loopbaan het hy slegs vlr twee maande gewerk teen 'n vaste loon. Dit was in 1992. Daarna het hy maar "los werkies" gedoen. Wanneer hy nie in die gevangenis was nie, het hy gebly in Qwa-Qwa by sy vader, 'n pensionaris wat op sy maandelikse inkomste van R200 nog sewe ander monde gehad het om te vul.

Om terug te kom na die gebeure by oorledene se

6 woning op die betrokke dag. Appellant het oorledene gesien toe sy terugkom na haar huis. Hy het haar agter die sitkamerdeur ingewag. Hy sê dat sy 'n hamer in haar hand gehad het waarmee sy hom 'n skrams hou teen die slaap geslaan het toe sy op hom afkom. Geen beserings is egter aan hom gesien nie deur óf die polisie toe hy gearresteer is óf die distriksgeneesheer toe hy ondersoek is nadat hy sy bekentenis afgelê het waarin hy reeds hierdie bewering gemaak het. Hy het die hamer by haar afgeneem. Die volle verhaal van hoe hy haar daarna gemartel het, en in watter volgorde sy haar beserings opgedoen het, weet ons nie. Wat vas staan, is dat daar erge geweld op haar toegepas is in die loop waarvan sy haar bril en oorkrabbertjies verloor het. Laasgenoemde en 'n gebreekte string krale is in en naby die ingang van die stort gevind. Daar was 'n plas bloed in die stort en bloed aan die gangmure, aan die muur by die deurkosyn van die kamer waarin sy dood is en aan die muur van daardie kamer ook. Waar sy op die bed in haar

7 spaarkamer uiteindelik verwurg is, was haar kop en hare deurweek van die bloed, so ook die beddegoed en matras. Die geneesheer wat die nadoodse ondersoek gedoen het, het afgelei dat ' n diep skeurwond in haar tong waarskynlik veroorsaak is deur tande se byt terwyl haar kop gestamp of geslaan is. Sy het verskeie kneus- en skaafwonde aan haar liggaam gehad. Beskuldigde het haar gedwing langs die gang om 'n hoek na die slaapkamer omdat waar hulle eers was, hulle dalk gesien sou word deur mense wat daar verbygaan. Hy het haar twee houe met die hamer op die kop geslaan, beide waarvan skedelbreuk veroorsaak het. Die bebloede hamer is op die vloer in die gang naby die ingang tot die spaarkamer gevind. Hy het 'n slagtersmes in dle kombuis gaan haal en haar verskeie kere daarmee gesny. Hierdie wapen het hy op 'n tafeltjie in die slaapkamer gelaat. Hy het haar met beide sy hande vir 'n lang ruk verwurg terwyl hy haar op die bed vasgedruk het, so erg dat die hioïedbeen gebreek was. Om seker te maak dat sy dood

8

is, het hy nog verder 'n lyfband wat hy in 'n oop buitekamer gesien het, vir 'n ruk styf om haar nek getrek. Die lyfband is ook in die kamer gevind. Die oorsaak van haar dood was dan ook verwurging. Waarom hy haar soveel beserings toegedien het word nêrens deur hom verduidelik nie. Mens kan slegs spekuleer dat dit óf uit pure barbaarse wreedheid was, óf dat hy inligting uit haar wou dwing oor waar geld te vinde sou wees. Indien haar beserings opgedoen is in die loop van 'n worsteling was dit 'n baie eensydige een. Hy self het soos reeds genoem geen beserings hoegenaamd getoon nie.

Appellant het ontsteld geraak in die hof terwyl hy oor die gebeure in die huis ondervra is en gewys is op die weersprekings tussen sy verskeie weergawes wat betref besonderhede. Hy het beweer dat hy berou het oor wat hy gedoen het en skaam is om voor die gehoor in die hof daaroor te praat. Sy optrede op die betrokke dag en daarna was egter heel berekend en koelbloedig. Nadat hy seker gemaak het dat sy dood is.

9 is hy weer kombuis toe. Daar het hy uit haar beursie geld geneem. Volgens hom was dit maar R25. Uit die buffet het hy vir hom twee bottels drank uitgesoek om saam te neem. Toe trek hy die gordyne netjies toe, sluit die deure van die huis en neem daardie sleutels en die sleutels van oorledene se Corolla saam met hom. Hy het die motorhuis oopgesluit en dit oop gelaat toe hy weg is met oorledene se Corolla. Hy wou die indruk skep, met die toe huis en leë motorhuis, dat die oorledene weg is op besoek. Die Corolla, sê hy, het hy geneem "om maar sommer daarmee lekker te gaan rondry". Hy is daarmee terug na Qwa-Qwa.

Die wysheid wat hy met sy vorige misdade aangeleer het, is weer bevestig. Dit was die kar wat gelei het tot sy arrestasie. Hy het naamlik die Maandag, nadat hy die hele naweek rondgerits het met die Corolla, maats opgelaai en teruggekom na Harrismith. Gevra waarom, het hy gesê (soos reeds genoem) uit berou en om te kom vasstel of oorledene werklik dood is, wat

10 onsin is omdat hy juis die Vrydag seker gemaak het dat sy sterf nadat hy daarop besluit het, soos hy beweer, toe hy "sien dat sy moeg is". Waarskynlik was die plan om weer te steel. Hy het die sleutels van die oorledene se huis saamgeneem op hierdie ekspedisie en het nou vervoer en handlangers gehad. In die omgewing naby oorledene se huis is 'n skilpad wat iemand aangehou het, wel opgelaai. By oorledene se huis is appellant deur een van sy passasiers gewaarsku dat iemand die kar dophou en het hy besluit om pad te gee. Hy is egter 'n end daarvandaan gewaar deur die polisie wat die kar herken het as oorledene s'n, en vermoed het dat dit gesteel is. Toe die polisie die kar probeer voorkeer om die insittendes te ondervra het appellant weggery. In 'n wilde jaagtog is skote op die kar gevuur. Dit het die pad byster geraak en gaan staan. Appellant se broerskind wat agter in die kar was, is noodlottig getref. Die ander vier insittendes het gevlug. Toe die polisie by oorledene wil gaan verneem of sy weet dat

11 haar kar gesteel is, kon hulle nie toegang tot haar huis kry nie, totdat haar bos sleutels in die Corolla gevind is en op die grufonds in die huis afgekom is. Appellant is daarna gearresteer waar hy in die omgewing van die Corolla gestap het. Daar was bloedspatsels aan een van sy skoene en die Corolla se sleutels in sy broeksak.

Daar is geen versagtende faktore te vinde in appellant se guns nie, behalwe miskien dat hy nog nie in die verlede skuldig bevind is aan 'n geweldsmisdaad nie. Sy eerste tree op daardie misdaadpad was egter heelhartig en entoesiasties geneem. En sy vorige veroordelings toon dat hy nie deur enige strafvorm tot dusver gekeer is of gerehabiliteer is nie, sodat daar geen rede is om optimisties te wees dat hy nie weer sal moor nie. Dit is juis die gevaar by huisbrekers dat hulle op heterdaad betrap word en dan moor. Die gebrek aan getuienis dat die moord - in teenstelling met die roof - vooraf beplan is, is 'n neutrale eerder as 'n versagtende faktor waar appellant erken het dat hy bewus

12

was toe hy besluit het om- appellant in te wag sodat sy

vir hom "geld kon gee", dat hy haar sou moes oorrompel.

Dit geld ook wat betref die feit dat daar nie met geweld

toegang tot die huis gekry is nie: dit was nie nodig

nie.

Die verhoorhof het geen bevinding ingebring

wat ons bind, dat appellant opregte en intense berou en

spyt het oor dit wat hy gedoen het nie, soos appellant

se advokaat voor ons betoog het. Sy pleit van skuldig

in beide die landdroshof en met sy verhoor, was

waarskynlik te wyte daaraan dat die getuienis teen hom

oorweldigend was. Afgesien daarvan dat die sleutels van

oorledene se huis in die Corolla en die Corolla se

sleutels in sy broeksak gevind is, was sy vingerafdrukke

op 'n bottel waar hy vir hom drank uitgesoek het uit die

buffet. Die verhoorhof het gesê:

"Ons aanvaar dat wat beskuldigde eintlik in die getuiebank wou oordra, is dat sy gewete hom gedurende die betrokke naweek gepla het en dat hy skaam is vir wab hy gedoen het. Sy liggaamshouding in die getuiebank en sy sigbare ontsteltenis het hierdie gesindheid

13 sterker na vore gebring as sy woorde." Hierdie opmerking moet gesien vord teen die agtergrond dat die appellant nie verwag het om te moet getuig nie. Hy was onder die indruk dat hy sou kon staatmaak op wat sy advokaat namens hom vertel het (d.w.s. in die pleitverduideliking, waar die gruwelike besonderhede van hoe hy die oorledene verniel het nie uiteengesit is nie) en self vertel het dat hy skaam was om voor die onverwagte gehoor in die hof te vertel van daardie dade. Waaroor hy wel hartseer was, was dat sy broerskind dood is; maar van intense of enige berou oor die moord is daar min indien enige tekens, waar appellant steeds nie met die volle waarheid vorendag gekom het nie. Hy het alle kennis van die kneusings aan oorledene se liggaam ontken, en het geen verduideliking aangebied van waarom hy haar snywonde toegedien het nie of waarom dit nodig was om haar te martel en verwurg nie. Voordat volle erkenning van gepleegde dade en besef van die sondigheid daarvan kom, kan daar nie juis

14 sprake van ware berou daaroor en hoop op hervorming wees nie. In elk geval is dit al dikwels deur hierdie Hof gesê dat in gevalle soos die onderhawige, die belange van die gemeenskap swaarder weeg as die van die oortreder. Dat weerlose bejaardes oorrompel, beroof en vermoor word in wat die veiligheid van hul eie wonings behoort te wees, word 'n plaag wat gestuit moet word. Die vooruitsig dat appellant ooit hervorm sou kon word tot wat hy nog nooit was nie, 'n nuttige burger wat die samelewing dien in plaas van om daarop te teer, is minder as skraal. Die barbaarsheid van die aanval op oorledene, die gru-dood wat sy wat wel haar gemeenskap gedien het gesterf het, en die feit dat daardie dood met dolus directus teweeggebring is, noop in die omstandighede van hierdie geval die gevolgtrekking dat hierdie een van die uiterste gevalle is waar die enigste gepaste vonnis, die doodstraf is.

15 Die appèl word van die hand gewys.

L VAN DEN HEEVER AR

STEM SAAM:

HEFER AR) HOWIE AR)

▲ To the top