S v Mawati and Others (69/1993) [1994] ZASCA 119 (16 September 1994)


Saaknommer: 69/93

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUÍD-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

AMOS MAWATI Eerste Appellant

RICHARD MPEBE Tweede Appellant

JOHANNES MAHONONO Derde Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: HEFER, VIVIER et F H GROSSKOPF ARR

Verhoordatum: 5 September 1994 Leweringsdatum: 16 September 1994

2 UITSPRAAK

F H GROSSKOPF AR:

Appellante 1, 2 en 3 was onderskeidelik beskuldigdes 1, 3 en 2 in die Transvaalse Provinsiale Afdeling waar hulle al drie deur Heyns R en twee assessore aan moord en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is. Ten einde verwarring te voorkom sal ek na die drie appellante as beskuldigdes 1, 2 en 3 soos in die hof a quo verwys. Beskuldigde 1 is tot 14 jaar gevangenisstraf vir die moord en 10 jaar gevangenisstraf vir die roof gevonnis, terwyl beskuldigdes 2 en 3 elk tot 15 jaar gevangenisstraf vir die moord en 10 jaar gevangenisstraf vir die roof gevonnis is. In die geval van elkeen van die beskuldigdes is dit gelas dat die vonnisse vir die moord en die roof saam uitgedien word. Beskuldigdes 1 en 3 appelleer met verlof van die hof a quo en beskuldigde 2 met verlof van hierdie hof teen hulle onderskeie skuldigbevindings. In die geval van beskuldigdes 1 en 3 het die hof a quo ook verlof aan hulle verleen om teen hulle vonnisse te appelleer maar hulle het die

3

appèl leen hulle vonnisse laat vaar. Beskuldigde 2 is ook aan die onwettige besit van 'n vuurwapen en ammunisie skuldig bevind. Hoewel verlof aan hom verleen is om ook teen daardie skuldigbevindings te appelleer, het hy dit laat vaar. Dit gaan dus slegs oor die drie beskuldigdes se skuldigbevinding aan moord en roof.

Dit is gemene saak dat die oorledene op Donderdag 9 Julie 1987 in die loop van 'n rooftog by die Erand Kafee ("die kafee") vermoor is. Die oorledene was die eienaar van die kafee wat in Randjiesfontein tussen Pretoria en Halfweghuis geleë is. Die oorledene het by die plaaslike bevolking as Mashonisa bekend gestaan.

Die getuie Sawa was die oorledene se nefie. Hy het die oorledene die betrokke Donderdag in die kafee bygestaan. Kort voor sluitingstyd die aand het drie mans die kafee binnegekom. Twee van hulle het vuurwapens by hulle gehad. Die een het die oorledene in die maag geskiet terwyl die ander een vir Sawa in die sy geskiet het. Die derde een was gewapen met 'n panga. Sawa het die aanval oorleef, maar die oorledene is die volgende oggend in die

4

hospitaal oorlede aan die skietwond wat hy opgedoen het. Die drie rowers het geld en sigarette in die kafee gevat voordat hulle daar weg is. Hierdie feite is nie in geskil nie. Die enigste vraag is of die staat bewys het dat dit die drie beskuldigdes was wat die misdade gepleeg het. Die beskuldigdes self het ontken dat hulle hoegenaamd by die pleeg van die misdade betrokke was. Ek sal vervolgens handel met die getuienis wat elkeen van die drie beskuldigdes onderskeidelik impliseer. Beskuldigde 1

Savva het beskuldigde 1 uitgeken op 'n uitkenningsparade wat kort na die gebeure op 5 Augustus 1987 gehou is, maar dit was 'n weifelagtige uitkenning na twee ander foutiewe uilkennings. Daarna het Sawa beskuldigde 1 weer tydens die verhoor in die hof uitgeken. Die staat het myns insiens tereg toegegee dat daar soveel onbevredigende aspekte omtrent beide hierdie uitkennings is dat die hof nie met enige mate van sekerheid daarop kan peil trek nie.

Beskuldigde 1 word egter deur ander getuienis by die pleging van

5

die misdade betrek. Die getuie me Paulina Choba het in Randjiesfontein in die omgewing van die kafee gewoon. Sy het sowel beskuldigde 1 as die oorledene baie goed geken. Beskuldigde 1 was 'n gereelde kliënt by haar huis waar sy drank verkoop het. Op 'n Vrydag in Julie 1987 het beskuldigde 1 haar sjebeen besoek en 'n kas bier gekoop. Hy het kontant betaal en sy het gemerk dat hy heelwat banknote by hom gehad het. Aangesien hy nie gewerk het nie, het sy hom gevra waar hy soveel geld kry. Beskuldigde 1 het haar toe vertel dat hulle die geld by Mashonisa geneem het. Sy het geweet dat die oorledene kort tevore geskiet is en dat hy in die hospitaal oorlede is. Beskuldigde 1 het haar verder meegedeel dat Mashonisa die Donderdag deur ene Teacher geskiet is en dat Teacher hom bietjie van die geld gegee het. Hy het haar verder meegedeel dat hy saam met Teacher was "toe hulle gegaan het om te gaan skiet". Volgens sy mededeling het hy egter net 'n mes by hom gehad en het hy nie geskiet nie.

Die hof a quo het Paulina Choba se getuienis as betroubaar en geloofwaardig aanvaar, en na my mening is daar geen rede om van daardie bevinding te verskil nie. Dit is namens beskuldigde 1 betoog dat Paulina Choba

6

'n polisieberiggewer was wat volgens die getuienis van die ondersoekbeampte moontlik 'n beloning vir haar inligting sou ontvang, en dat haar getuienis gevolglik verdag is en met versigtigheid bejeen moet word. In dieselfde asem word die getuie egter gekritiseer omdat sy nie onmiddellik vir die polisie gaan vertel het van beskuldigde 1 se erkenning teenoor haar nie. As die vooruitsig van 'n moontlike beloning enigsins 'n oorweging by haar was, sou mens juis verwag het dat sy met groter haas die inligting aan die polisie sou oorgedra het. Inderdaad blyk dit dat 'n beloning eers ter sprake gekom het nadat Paulina Choba reeds die inligting aan haar kontakpersoon in die polisie gegee het.

Afgesien van die erkenning wat beskuldigde 1 teenoor Paulina Choba gemaak het, het hy ook sekere uitwysings gepaard met erkennings aan 'n sekere luitenant Van der Nest gemaak waardeur hy homself geïnkrimineer het. Volgens Van der Nest se getuienis het beskuldigde 1 aan hom gesê dat hy saam met twee ander swart mans was "wat geskiet het by 'n winkel", en dat hy die plek wil gaan uitwys waar hulle geskiet het. Beskuldigde 1 het toe vir Van der Nest en sy tolk beduie hoe om by die kafee uit te kom. Die polisiefotograaf het

7

hulle gevolg. Daar aangekom het hulle gevind dat die kafee gesluit was. Beskuldigde 1 het toe buite die kafee 'n sekere posisie aangedui waar Teacher gestaan het "toe hy geskiet het in winkel". Hy het verder uitgewys waar ene Joe gestaan het "toe hy geskiet het in winkel". Verder het beskuldigde 1 aangedui waar hyself gestaan het toe Teacher en Joe geskiet het. Daar is 'n foto buite die kafee geneem waar beskuldigde 1 en twee van die polisiemanne op die onderskeie punte staan.

Dit is namens beskuldigde 1 betoog dat hierdie uitwysings en die meegaande erkennings waardeloos is aangesien dit duidelik volgens die staatsaak is dat die drie rowers binne die kafee was, en nie buite nie, toe hulle op die oorledene en Savva geskiet het. Aangesien die kafee gesluit was, kon die foto nie by daardie geleentheid binne die kafee geneem word nie, maar beskuldigde 1 het klaarblyWik na die onderskeie posisies van die rowers in die winkel verwys, soos dit ook blyk uit sy bogenoemde beskrywing van die verskillende posisies, nl toe geskiet is "in die winkel". Daar is ook 'n tweede foto buite die winkel geneem waar beskuldigde 1 sou gestaan het nadat die roof plaasgevind

8

het.

Beskuldigde 1 het weliswaar in die loop van sy getuienis ontken dat hy Van der Nest na die kafee geneem het of enigiets daar uitgewys het. Hy het trouens ontken dat hy hoegenaamd met Van der Nest of die tolk gepraat het. Volgens hom is hy deur drie onbekende mans met geweld na die kafee geneem. Toe hulle daar aankom was Van der Nest, die tolk en die fotograaf toevallig ook daar en is daar toe twee foto's van hom voor die kafee geneem. Beskuldigde 1 se getuienis in hierdie verband is so vergesog dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie. Sy advokaat het trouens toegegee dat sy geen rede kan aanvoer waarom die getuienis van die polisie in hierdie verband nie aanvaar behoort te word nie. Ek kan terloops meld dat beskuldigde 1 ook in ander opsigte 'n ongeloofwaardige getuie was.

Na my oordeel is daar afdoende bewys dat beskuldigde 1 die betrokke aand met twee ander mans by die kafee was en dat hy aan die pleging van die misdade deelgeneem het. Hy het 'n panga by hom gehad en hy was deurgaans daarvan bewus dat sy makkers vuurwapens by hulle gehad het. Hy

9

en sy makkers het die gemeenskaplike oogmerk gehad om te roof en hy het saamgewerk om daardie oogmerk te verwesenlik. Hy het klaarblyklik die moontlikheid voorsien dat iemand in die proses gedood kan word. Sy appèl teen sy skuldigbevindings kan gevolglik nie slaag nie. Sy appèl teen sy vonnisse het hy laat vaar. Beskuldiede 2

Beskuldigde 2 het op 'n alibi gesteun. Savva het beskuldigde 2 met 'n mate van huiwering tydens die verhoor in Februarie 1989 in die hof uitgeken as die persoon wat hom die betrokke aand sou geskiet het. Sawa kon beskuldigde 2 egter nie uitken op die uitkenningsparade wat kort na die gebeure gehou is nie. Ook in hierdie geval het die staat myns insiens tereg nie op die uitkenning staatgemaak nie.

Beskuldigde 2 word wel met die pleging van die misdade verbind deur 'n bekentenis wat hy tydens 'n uitwysing by die kafee aan luitenant Theron gemaak het. Dit is gemene saak dat hy saam met Theron en 'n tolk na die kafee toe gegaan het. Hy het geweet waar die kafee geleë was aangesien hy vroeër

10

daar naby gewerk het en hy kos daar gaan koop het. Op 'n stadium in sy getuienis het hy selfs toegegee dat hy vir Theron aangedui het hoe om by die kafee uit te kom. Daar aangekom het 'n polisiefotograaf 'n foto van hom voor die kafee geneem, maar hy ontken dat hy iets uitgewys het of dat hy enigiets daar aan Theron of die tolk meegedeel het.

Theron het getuig dat beskuldigde 2 voor hulle vertrek na die kafee aan hom gesê het: "Ek wil gaan wys waar ek gemors het. Ek was self daar." Volgens Thereon het beskuldigde 2 die kafee aan hom uitgewys. Die kafee was gesluit gewees. Beskuldigde 2 het toe die verklaring gemaak wat op 'n bekentenis neerkom. Theron het dit afgeskryf en die appellant het dit onderteken.

Volgens beskuldigde 2 se verklaring het hy en sy makkers net voor sluitingstyd by die kafee opgedaag en voorgegee dat hulle sigarette wou koop. Toe die "eienaar" kleingeld wou uithaal het ene Teacher 'n skoot op hom afgevuur en hom iewers in die lyf getref. Toe die "broer van die eienaar" die eienaar se vuurwapen van sy lyf probeer losmaak, het beskuldigde 2 'n skoot op

11

hom geskiet en hom in die lyf getref. Hy het ook geval. Teacher het die geld in die kasregister gevat terwyl beskuldigde 2 sigarette geneem het. Beskuldigde 2 het nie gesien wat die derde rower gedoen het nie. HuIIe het daarna weggehardloop.

Beskuldigde 2 het erken dat hy sy handtekening op die dokument met die verklaring aangebring het, maar hy het ontken dat hy iets wat daarin staan aan Theron meegedeel het. Volgens beskuldigde 2 het hy niks op die toneel gesê nie. Die hof a quo het bevind dat beskuldigde 2 'n ongeloofwaardige getuie is en dat sy weergawe omtrent die verklaring onwaarskynlik is. Daar is na my oordeel geen oortuigende redes aangevoer waarom hierdie hof van daardie bevinding moet verskil nie.

Beskuldigde 2 se advokaat het betoog dat die gewraakte verklaring van sy kliënt in verskeie opsigte van Savva se weergawe van die gebeure verskil en dat dit die afleiding regverdig dat die verklaring nie van beskuldigde 2 afkomstig is nie. Eerstens is daar na my mening geen werklike verskil tussen die twee weergawes vir sover dit die wesenlike aspekte van die saak betref nie.

12

Tweedens wil dit nie sê dat Savva se weergawe in alle opsigte korrek is nie; Savva het trouens in die loop van sy getuienis van sy eie verklaring afgewyk. Derdens: enige bevinding dat die verklaring nie van beskuldigde 2 afkomstig is nie sou noodwendig tot die gevolgtrekking lei dat Theron die inligting uit sy duim gesuig het of elders bekom het, en dat hy nie alleen hoogs onreëlmatig opgetree het nie, maar ook vals getuienis afgelê het. Na my mening is daar geen regverdiging vir so 'n bevinding nie. Trouens, na my oordeel het die Staat bewys dat beskuldigde 2 se bekentenis aan al die vereistes vir toelaatbaarheid voldoen. Beskuldigde 2 het immers nie beweer dat hy die verklaring onder dwang gemaak het, of dat dit om enige ander rede ontoelaatbaar sou wees nie. Dit volg dat beskuldigde 2 na my mening tereg aan die moord en roof skuldig bevind is. Beskuldigde 2 se appél teen sy skuldigbevindings moet dus afgewys word. Daar is nie aan hom verlof verleen om teen sy vonnisse te appelleer nie. Beskuldigde 3

Beskuldigde 3 het ook op 'n alibi gesteun. Volgens hom was hy

13

sedert omstreeks Mei 1987 deurentyd by sy ouerhuis in Bochum in Noord-Transvaal en was hy ook daar toe die misdade op 9 Julie 1987 by Randjiesfontein gepleeg is. Toe hy in die landdroshof gepleit het, het hy egter erken dat hy aan die begin van Julie 1987 by beskuldigde 1 se woonplek by Halfweghuis was. In 'n poging om tydens die verhoor daardie erkenning ongedaan te maak, het hy slegs in verdere leuens verval. Hy was ook in ander opsigte 'n leuenagtige getuie.

Dit is gemene saak dat beskuldigde 3 as Teacher bekend staan, maar die bewerings van beskuldigdes 1 en 2 dat ene Teacher by die pleging van die misdade betrokke was, is natuurïik nie teen beskuldigde 3 toelaatbaar nie. Die enigste toelaatbare getuienis wat beskuldigde 3 inkrimineer, is dié van die getuie me Johanna Mabena. Sy het getuig dat sy al die beskuldigdes asook die oorledene geken het. Beskuldigde 3 het inderdaad op 'n stadium by haar

14

ingewoon. Beskuldigde 3 se getuienis dat hy haar nie ken nie, en nog nooit by haar aan huis was nie, is klaarblyklik vals, veral in die lig van die stellings tot die teendeel deur sy eie advokaat aan die getuie.

Johanna Mabena het getuig dat beskuldigdes 1 en 3 om ongeveer 11:00 op 'n sekere Saterdagoggend gedurende Julie 1987 na haar huis in die Randjiesfontein omgewing gekom het. Dit blyk dat dit die eerste Saterdag na die oorledene se dood was. Sy het drank by haar huis verkoop en beskuldigde 3 het 'n kas bier by haar gekoop. Toe beskuldigde 3 haar betaal, het sy gemerk dat hy baie geld in die vorm van banknote by hom het. Sy was verbaas daaroor aangesien sy geweet het dat hy nie werk nie. Nadat beskuldigdes 1 en 3 en hulle meelopers die kas bier opgedrink het, het beskuldigde 3 'n tweede kas bier by Johanna Mabena gaan koop. Nadat hulle 'n paar bottels van die tweede kas bier opgedrink het, het beskuldigde 3 in 'n rusie met beskuldigde 1 betrokke

15

geraak. Die getuie het gehoor hoe beskuldigde 3 vir beskuldigde 1 sê hy moet nie met hom oor die geld twis nie wanl hy (beskuldigde 3) is die persoon wat vir Mashonisa doodgemaak het. Tot op daardie oomblik was Johanna Mabena totaal onbewus van die oorledene se dood.

Die hof a quo het die getuienis van Johanna Mabena aanvaar, en daar is na my mening geen oortuigende rede aangevoer waarom hierdie hof van daardie bevinding moet verskil nie. Sy was weliswaar, nes Paulina Choba, 'n beriggewer vir die polisie. Hoewel daar later sprake van 'n beloning was, is dit myns insiens geen rede om haar getuienis sonder meer te verwerp nie, soos namens beskuldigde 3 betoog. Die getuienis dat sy 'n beriggewer was en dat daar later sprake van 'n moontlike beloning was, het eers teen die einde van die staatsaak aan die lig gekom toe die ondersoekbeampte getuig het. Johanna Mabena het heelwat vroeër in die verhoor getuig en sy het nooit die geleentheid

16

gehad om te antwoord op die kritiek wat nou in hierdie verband teen haar getuienis geopper word nie. Onder die omstandighede sal dit na my mening onbillik wees om enige nadelige afleiding in hierdie verband teen haar te maak. Dit is goed moontlik dat sy heeltemal onbewus was van enige moontlike beloning toe sy die eersvolgende Maandag vir die polisie vertel het wat beskuldigde 3 die Saterdag by haar huis omtrent die oorledene se dood gesê het.

Daar is na my mening egter 'n ander belangrike aspek van haar getuienis wat van deurslaggewende belang is, maar wat nie pertinent deur die hof a quo aangespreek is nie, en dit is haar getuienis omtrent die graad van dronkenskap waaronder beskuldigde 3 verkeer het toe hy erken het dat hy die oorledene doodgemaak het.

Indien beskuldigde 3 se verklaring in die lig van die toelaatbare omringende omstandighede objektief beoordeel word, kom dit myns insiens op

17

'n bekentenis neer. (S v Yende 1987(3) SA 367(A)). Ten einde as bekentenis toelaatbaar te wees moes die verklaarder egter by sy volle positiewe ("in his sound and sober senses") gewees het toe hy die verklaring gemaak het. (Art 217(1) van die Strafproseswet 51 van 1977). Die vraag is of die staat bewys het dat beskuldigde 3 ondanks sy beskonkenheid nogtans by sy volle positiewe was. Om hierdie vraag te beantwoord, moet daar na sekere relevante passasies in die getuienis van Johanna Mabena verwys word om te probeer bepaal hoe dronk beskuldigde 3 volgens haar waameming was, en of hy nog geweet het wat hy se en doen.

As iemand wat 'n sjebeen bedryf, beskik Johanna Mabena seker oor die ervaring om te oordeel of iemand onder die invloed van sterk drank verkeer of nie, en het sy seker dikwels waargeneem watter effek sterk drank op mense het. Sonder om haar tot 'n deskundige te verhef, kan mens dus met 'n mate van

18

vertroue op haar waarnemings peil trek. Verder moet dit in gedagte gehou word dal sy beskuldigdes 1 en 3 geken het en dat beskuldigde 3, wat sy Teacher noem, vroeër by haar aan huis gebly het. Veral wat beskuldigde 3 betref, moes sy dus geweet het hoe hy optree en reageer wanneer hy nugter is.

Johanna Mabena het soos volg getuig oor die graad van dronkenskap van die betrokke twee beskuldigdes toe hulle die Saterdagoggend by haar huis aangekom het:

"Ek sal nie kan sê hoeveel hulle gedrink het nie, want selfs van

waar hulle gekom het, het hulle, toe hulle daar aankom was hulle

dronk gewees. So, ek weet nie, ek sal nie kan sê hoeveel hulle

gedrink het nie.

Hoekom sê u hulle was dronk, wat het hulle gedoen, hoe het hulle

voorgekom? — Hulle het voorgekom soos persone wat dronk was,

maar nie baie dronk nie.

Hoe het hulle geloop? - Hulle het geloop, maar nie reg geloop nie.

Kan u net vir ons demonstreer hoe hulle geloop het? —Teacher het

geloop en soos wat hy geloop het soos ek nou demonstreer het hy

aan die muur gevat soos wat hy loop.

19

Hoe het hy gepraat, beskuldigde 3? -- Hy het sommer rof gepraat. Wat bedoel u met rof? -- Daar is 'n persoon wat praat met, wat praat met eer en daar is 'n persoon wat praat met minagting. Maar kyk, u ken hom soos wat hy normaalweg praat, u ken hom, is dit nie waar nie? -- Ja.

Nou hoe het hy op daardie dag gepraat? Het hy anders gepraat as ander dae of dieselfde? -- Dit was anders."

Waar die getuie sê dat hulle dronk was, maar nie baie dronk nie, verwys sy waarskynlik na hulle toestand toe hulle die Saterdagoggend by haar huis aangekom het.

Daarna het beskuldigdes 1 en 3 die eerste kas bier uitgedrink, maar dis onseker hoeveel elkeen van hulle gedrink het aangesien daar ook ander mense was wat saam met hulle gedrink het. Intussen was Johanna Mabena na Checkers om inkopies te doen. Nadat sy teruggekeer het, het beskuldigde 3 'n tweede kas bier by haar gekoop en 'n R50 noot aan haar oorhandig. Anders as by die eerste geleentheid het hy egter nie in sy kleingeld belanggestel nie. Die getuie sê dit was omdat hy dronk was.

Johanna Mabena was tydens haar hoofgetuienis uitgevra oor die

20

toestand van beskuldigdes 1 en 3 toe hulle begin rusie maak het. Dit was

nadat hulle reeds twee of drie bottels van die tweede kas bier uitgedrink het.

Haar getuienis lui soos volg:

"Wat sou u sê was hulle toestand op daardie stadium? -- Hulle was gedrink en volgens wat ek kon sien was hulle dronk. Hoe gedrink was hulle, hoe dronk was hulle? -- Hulle was baie dronk, want nr. 3 sê vir nr. 1. hy moet nie met hom oor sy geld twis nie, want die persoon wat die meeste gewerk het is nr. 3. Kan u presies vir die hof sê in die woorde wat daar gebruik is wat hulle vir mekaar gesê het toe hulle die rusie gehad het? --- Teacher het, nr. 3 sê vir nr. 1 hy moet nie met hom twis oor die geld nie, want die persoon wat Mashonisa gedood het is hy."

Tydens kruisondervraging bevestig die getuie haar vroeëre getuienis dat beskuldigde 3 baie dronk was, dat sy spraak nie normaal was nie, en dat hy so dronk was dat hy aan die muur moes vashou, blykbaar as hy wou loop.

In die loop van die kruisondervraging gee die getuie verder die volgende insiggewende antwoord:

"U het gehoor dat nr. 3 vertel daar dat hy betrokke was, u hoor die

21

oorledene is dood, Mashonisa is dood, maar u doen niks daaraan nie, u gaan sê nie vir die polisie dat hier was so 'n gesprek gewees by jou woning nie? — Hy was íe dronk gewees, ek het dit nie so goed geglo nie en ek wou eers die saak baie duidelik verstaan."

Uit haar getuienis direk voor hierdie passasie blyk dit dat sy die vorige Woensdag by die oorledene se kafee was en dat hy toe nog in die lewe was. Die eerste wat sy van die oorledene se dood gehoor het, was toe beskuldigde 3 die bewering die Saíerdag by haar huis gemaak het. Sy was egter nie bereid om beskuldigde 3 se bewering omtrent die oorledene se dood sonder meer te aanvaar nie, en wel omdat hy volgens haar oordeel "te dronk" was.

Johanna Mabena het beskuldigde 3 se optrede dié dag waargeneem. Sy was van mening dat mens nie kon glo wat hy sê nie omdat hy "te dronk" was. Sy het ook die mening uitgespreek dat beskuldigde 3 reeds "baie dronk" was op die stadium toe hy en beskuldigde 1 in die rusie betrokke geraak het, en toe hy sy bekentenis gemaak het. Hierdie bewering dat beskuldigde 3 baie dronk was, word gerugsteun deur sekere objektiewe waamemings wat sy gemaak het, bv dat beskuldigde 3 se spraak en die manier waarop hy geloop het

22

merkbaar geaffekteer was. Die feit dat beskuldigde 3 in 'n rusie met beskuldigde 1 betrokke geraak het, en dat hy bereid was om te erken dat hy iemand doodgemaak het, dui myns insiens verder aan tot watter mate hy onder die invloed van drank was.

Johanna Mabena was in alle opsigte 'n betroubare getuie en daar is geen rede om haar getuienis met betrekking tot die graad van beskuldigde 3 se dronkenskap in twyfel te trek nie. Hoewel sy 'n staatsgetuie was, strek haar getuienis in hierdie verband tot beskuldigde 3 se voordeel. In die lig van haar getuienis kan dit myns insiens beswaarlik bevind word dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat beskuldigde 3 by sy volle positiewe was toe hy die bekentenis gemaak het.

ïn R v Ramsamv 1954(2) SA 491(A) het hierdie hof beslis dat 'n bekentenis wat deur 'n beskuldigde gemaak is terwyl hy onder die invloed van sterk drank was, toelaatbaar is as dit uit die getuienis blyk dat hy geweet het wat hy sê toe hy die bekentenis gemaak het. Die hof beslis soos volg op 498 D-G (per Centlivres HR):

23

"If a person takes liquor in considerable quantities he is no doubt affected by the liquor but it does not follow in every case that he does not know what he does or says after he has taken the liquor. The extend to which he is affected by the liquor is a question of evidence in every case and if the evidence shows that, although he was affected by the liquor, he knew what he was saying it must be taken that he was in his 'sound and sober senses' within the meaning of those words in the first proviso to sec. 273. Any olher interpretation of those words would lead to the unworkable result that a confession made by an accused person while he was affected by liquor would be inadmissable in evidence even although he knew what he was saying at the time he made the confession. There is no reason to suppose that the Legislature intended to exclude confessions made under such circumstances."

(Vgl ook R v Blyth 1940 AD 355 op 361; R v Mtabela 1958(1) SA 264(A) op 267 B-G; R v Scott 1959(2) SA 786(C) op 788F-789A.)

In S v Masia 1962(2) SA 541(A) het die appellant sekere erkennings gemaak terwyl hy tot 'n mate onder die invloed van sterk drank was. Hierdie hof het die feitebevindings van die verhoorhof aanvaar en soos volg opgemerk (544 H):

"I am satisfied that on this evidence, and especially in the light of

24

the silence maintained by the appellant throughout the trial, this Court would not be justified in differing from the fïnding of the leamed trial Judge that the appellant was sufficiently compos mentis to know and appreciate what he was saying." (My beklemtoning.)

Op grond van hierdie bevinding beslis Botha AR soos volg op 545C-D:

"In these circumstances it is unnecessary to decide whether the admissions alleged to have been made by the appellant were confessions or not, for they were proved to have been made while the appellant was in his 'sound and sober senses' within the meaning of that expression in sec. 244 (1) of Act 56 of 1955, and would therefore, even if they were confessions, have been admissible in evidence. It follows also that in the circumstances the trial Judge rightly considered them of sufficient probative value."

Die getuienis in die onderhawige saak is dat beskuldigde 3 dronk by Johanna Mabena se huis aangekom het en dat hy daarna nog 'n hoeveelheid bier gedrink het. Hy was tot so 'n mate onder die invloed van drank dat hy nie normaalweg kon loop of praat nie. Sy toestand toe hy die bekentenis gemaak het, is beskryf as "baie dronk". Hy was so dronk dat die getuie Johanna Mabena nie geglo het wat hy sê nie. Op hierdie feite kan die onderhawige saak

25

onderskei word van Ramsamv en Masia se sake (supra). Na my oordeel het die staat hier nie bo redelike twyfel bewys dat beskuldigde 3 genoegsaam compos mentis was om te weet en te besef wat hy sê toe hy die bekentenis gemaak het nie. Die bekentenis is gevolglik ontoelaatbaar omdat daar nie bewys is dat beskuldigde 3 "by sy volle positiewe" was, soos vereis deur art 217(1) van die Strafproseswet 51 van 1977 nie. Sonder die bekentenis is daar geen ander getuienis om beskuldigde 3 direk met die pleging van die misdade te verbind nie. Sy appèl moet dus slaag.

Die volgende bevele word gemaak:

  1. Die appèl van appellant 1 (Amos Mawati) en appellant 3 (Johannes Mahonono) word van die hand gewys.

  2. Die appèl van appellant 2 (Richard Mpebe) slaag en sy skuldigbevinding en vonnis op beide aanklag 1 (moord) en aanklag 3 (roof) word tersyde gestel.

HEFER, AR

VIVIER AR Stem saam

F H GROSSKOPF AR.

▲ To the top