S v Flanagan (583/1992) [1994] ZASCA 125 (22 September 1994)


SAAKNOMMFR: 583/93

N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MINDRA FLANAGAN

en

DIE STAAT

SMALBERGER, AR

SAAKNOMMER: 583/93

N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

MINDRA FLANAGAN Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, SMALBERGER et

NIENABER, ARR

VERHOORDATUM: 16 September 1994 LEWERINGSDATUM: 22 September 1994

UITSPRAAK

SMALBERGER, AR:

Die appellant, wat skuldig gepleit het, is in die streekhof, Johannesburg, skuldig bevind aan bedrog waarby R8,5 miljoen betrokke was. Sy is gevonnis tot sewe jaar gevangenisstraf,

2

waarvan twee jaar vir 'n tydperk van vier jaar voorwaardelik

opgeskort is. Haar appèl teen haar vonnis na die Witwatersrandse

Plaaslike Afdeling is afgewys maar sy is verlof verleen om na

hierdie Hof te appelleer.

Die grondslag van die appellant se pleit blyk uit 'n verklaring

deur haar onderteken wat kragtens art 112(2) van die Strafproseswet

51 van 1977 by die verhoor ingehandig is. Die verklaring lui soos

volg:

"Op 28 Junie 1991 was ek in diens van die klaer, Nedbank, as rekenaaroperateur. My werk was om die oordrag van fondse in die klaer se rekenaar in te voer in ooreenstemming met krediet- en debietstrokies wat ek van die bankklerke af ontvang het.

Ek erken dat ek op die tyd en plek gemeld in die klagstaat, valslik en met die opset om al die klaers te bedrieg, aan hulle voorgegee het dat ek gemagtig en geregtig was om R8,500 000,00 te onttrek uit die rekening van S A Brouerye, nr 1950330052, en oor te plaas na die rekening van M A Stein, nr 190635094, terwyl ek geweet het dat ek nie so gemagtig of geregtig was nie. Toe ek die wanvoorstelling

3

gemaak het, het ek geweet dat Nedbank en/of S A Brouerye deur my optrede benadeel kon word.

Ek het die bedrog gepleeg uit swakheid en om die liefde en welwillendheid van my gewese man, Wendell Flanagan, te behou. Alhoewel ek en Mnr Flanagan in 1990 geskei is, beskou ek hom steeds as my man, en het ek hom nog lief alhoewel hy my dikwels aangerand en fisies mishandel het. Toe hy in Mei 1991 na my terugkeer met die belofte dat hy hervorm het, het ek hom teruggeneem en saam met hom gewoon. Die gevolg daarvan is dat ek tans verwagtend is met ons vierde kind.

Toe my man my versoek om 'n vals transaksie vir 'n vriend van hom in Nedbank se rekenaar in te voer, het ek geweier. Daarna het hy weer aggressief en geweldagdig geword en my deur middel van fisiese aanrandings en dreigemente lot so 'n mate geïntimideer dat ek uiteindelik ingewillig het. Die oggend van 28 Junie 1991 het my man se vriend, ene Pieter Arends, by my huis aan my twee volledig ingevulde strokies oorhandig: 'n debietstrokie in die naam van S A Brouerye en 'n kredietstrokie in die naam van M A Stein. Ek het die strokies werk-toe geneem en die transaksie in die rekenaar ingevoer, alhoewel ek geweet het dat ek geen reg gehad het om dit te doen nie en dat my optrede verkeerd was.

4

Geen beloftes van vergoeding is aan my gemaak nie en geen geld is op die transaksie uitbetaal nie.

Ek het diep berou oor wat ek gedoen het en ek sal nooit weer so iets probeer nie."

Die Staat het die korrektheid van die feite uiteengesit in die

verklaring aanvaar.

Tydens die verrigtinge is die volgende sogenaamde

"erkennings" deur die appellant se regsverteenwoordiger gemaak en

deur haar bevestig:

"Sy het gehoop en geglo dat die betrokke transaksie nie sou deurgaan nie omdat sulke groot bedrae normaalweg benavraag word. Sy het egter geweet dat dit wel mag deurgaan indien die transaksie vir die een of ander rede nie benavraag sou word nie of goedgekeur sou word. Sy het haarself vereenselwig met die moontlikheid dat die transaksie wel kon deurgaan en dat die geld wel uitbetaal kon word."

Nadat die appellant skuldig bevind is, is sekere getuienis aangehoor met betrekking tot vonnis, insluitende dié van 'n proefbeampte en 'n beampte van die Departement van Korrektiewe

5

Dienste. Beide beamptes het korrektiewe toesig kragtens die bepalings van art 276(l)(h) van die Strafproseswet as die aangewese vonnis vir die appellant voorgestaan. Desondanks het die verhoorlanddros haar gevangenisstraf opgelê.

Dit is geykte reg dat hierdie Hof slegs met 'n verhoorhof se diskresie-uitoefening met betrekking tot vonnis kan inmeng in die geval van 'n wesenlike mistasting of 'n onreëlmatigheid of waar die opgelegde vonnis ontstellend onvanpas is. Na my mening het die verhoorlanddros in minstens twee belangrike opsigte misgetas. Een van die vernaamste strafversagtende faktore wat uit die appellant se verklaring blyk, is dat die misdaad deur haar gepleeg is hoofsaaklik vanweë fisiese intimidasie deur haar voormalige man. Nêrens in sy uitspraak maak die verhoorlanddros hiervan melding nie en dit blyk dat hy óf nie behoorlik daarop bedag was nie óf onvoldoende gewig daaraan geheg het. Daarbenewens, as daar gelet word op sekere opmerkings wat die landdros van tyd tot tyd

6

gemaak het tydens die aanhoor van die getuienis, asook sy redes vir vonnis in geheel, is dit myns insiens duidelik dat hy destyds korrektiewe toesig as 'n bra ligte vonnis beskou het met min afskrikwaarde. Ofskoon aanvaar kan word dat dit minder afskrikwaarde het as direkte tronkstraf, bïy dit egter, indien behoorlik aangewend, 'n gevoelige straf wat wesenlike en effektiewe bestrafGng sonder gevangesetting kan bewerkstellig (S v R 1993(1) SA476(A) op 488I-J; S v Ndaba 1993(1) SASV 637(A) op 641g-h); S v W 1994(1) SASV 610(A) op 614c-e). Anders gestel, "the conditions imposed can make the sentence a suitably severe one" (S v Potgieter 1994(1) SASV 61(A) op 88b-c). Dit is dus verkeerd om korrektiewe toesig sonder meer as 'n ligte vonnis met min afskrikwaarde af te maak. Gevolglik staan dit hierdie Hof vry om opnuut oor vonnis te besin.

By die bepaling van 'n gepaste en gebalanseerde vonnis moet daar gelet word op die appellant se persoonlike omstandighede, die

7

erns van die misdaad, die belange van die gemeenskap en die doelwitte van vonnis. Daar moet ook in gepasle gevalle met die nodige genade opgetree word.

Die volgende feite wat betrekking het op die appellant se persoonlike omstandighede is óf gemene saak óf nie in geskil nie:

  1. Die appellant was ten tye van die pleging van die misdaad 31 jaar oud, geskei met drie minderjarige kinders. Sy was destyds ook verwagtend.

  2. Haar voormalige man het haar mishandel en misbruik en deur sy optrede en gedrag haar selfbeeld stelselmatig afgetakel.

  3. Luidens die proefbeample se verslag word die appellant beskryf as 'n persoon "met 'n aangename persoonlikheid. Sy kom stil voor, is altyd behulpsaam en wil almal tevrede stel. Sy is ontsettend skaam oor die misdryf." Hierbenewens het sy klaarblyklik opregte berou oor haar optrede.

  4. Die appellant het blykbaar 'n lae selfbeeld, is iemand wat maklik geïntimideer en beinvloed kan word en kan nie druk hanteer nie.

8

5) Sy het 'n behoefte aan terapie vir haar sielkundige probleme.

6) Die appellant is nie die soort persoon wat by tronkstraf sal

baat nie - die teendeel is eerder die geval.

7) Sy is 'n geskikte persoon vir korrektiewe toesig. (Die verhoorlanddros was van mening dat korrektiewe toesig vir die appellant as persoon waarskynlik die beste vonnisopsie sou wees, maar het tereg daarop gewys dat ander oorwegings ook behoorlike aandag moet geniet by die vasstelling van 'n gepaste vonnis.)

Die appellant se persoonlike omstandighede tel sterk in haar guns. Daar is egter ook verskeie strafverswarende faktore aanwesig. Daar was 'n aansienlike bedrag geld belrokke. Weliswaar het niemand skade gelei nie en was daar net potensiële benadeling, maar 'n bedrag van R8,5 miljoen is wel oorgeplaas na 'n ander rekening waarvandaan onttrekking kon geskied het. Dat niks onttrek is nie was nie aan die appellant te danke nie. Haar optrede het met 'n besliste mate van beplanning gepaard gegaan (ofskoon die kanse maar skraal was dat dit uiteindelik onopgemerk sou gaan).

9

Die appellant het ook misbruik gemaak van die vertrouensposisie waarin sy verkeer het. Alhoewel die appellant hoofsaaklik op aandrang van haar voormalige man opgetree het, blyk sy nie geheel en al 'n onwillige deelgenoot te gewees het nie. Was dit anders sou redelikerwys verwag kon word dat sy sou gebieg het toe sy aanvanklik met haar aandadigheid gekonfronteer is. Sy het egter haar skuld ontken, en vir omtrent 'n uur in haar ontkenning volhard voordat sy klaarblyklik besef het dat daar geen uitkomkans was nie. 'n Verdere faktor waarop daar ook deeglik ag geslaan moet word is die veelvuldige voorkoms van hierdie tipe misdaad. Die appellant is ook nie 'n eerste oortreder nie alhoewel haar vorige veroordeling betreklik gering is. Sy is op 15 Desember 1987 aan die diefstal van kruideniersware ter waarde van R44-00 skuldig bevind. Sy is gevonnis tot 'n boete van R150-00 of 90 dae gevangenisstraf, welke vonnis in sy geheel opgesksort is.

Die misdaad wat gepleeg is, was ernstig en het groot

10

polensiële benadeling ingehou. Die gemeenskap se besorgdbeid oor, en afkeur van, sulke optrede, veral waar dit so dikwels voorkom, moet in die vonnis weerspieël word. Die appellant se ongelukkige omstandighede wek 'n groot mate van simpatie. Dit is ook van belang, beide vir haar persoonlik sowel as vir die breë gemeenskap, dat sy suksesvol gerehabiliteer word. Tog moet enige vonnis, om behoorlik aan sy doel te beantwoord, ook as afskrikking dien vir die appellant en ander persone wat tot soortgelyke misdade mag neig. Die gemeenskapsbelang word nie bevorder deur 'n vonnis wat te lig is nie.

Na deeglike oorweging van alle tersaaklike faktore, insluitende die doelwitte van vonnis, is ek van mening dat 'n vonnis van gevangenisstraf nogtans aangewese is ondanks die ontwrigting wat dit noodwendig in die lewe van die appellant en haar kinders sal teweegbring. 'n Geskikte tydperk sal een van vier jaar wees. Aangesien die appellant klaarblyklik iemand is wat mettertyd baat

11

sou kon vind by korrektiewc toesig behoort gebruik gemaak te word

van die vonnisopsie wat arl 276(l)(i) van die Strafproseswet bied.

Daarvolgens kan sy te enige tyd na goeddunke deur die

Kommissaris van Korrektiewe Dienste onder korrektiewe toesig

geplaas word.

Bygevolg slaag die appèl in die mate dat die opgelegde

vonnis ter syde gestel word en met die volgende vonnis vervang

word:

"Vier jaar gevangenisstraf kragtens art 276(1)(i) van die Strafproseswet 51 van 1977".

J W SMALBERGER APPèLREGTER VAN HEERDEN, JA ) NIENABER, JA) CONCUR

▲ To the top