S v Noble (114/1993) [1994] ZASCA 15 (17 March 1994)


SShape1 aak nr 114/93 E du Plooy

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

ROY NOBLE Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: E M GROSSKOPF, F H GROSSKOPF ARR et

VAN COLLER WN AR
Verhoordatum: Leweringsdatum:

4 Maart 1994. 17 Maart 1994.

2

UITSPRAAK F H GROSSKOPF AR:

Die appellant is in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling deur Schabort R en twee assessore aan moord skuldig bevind en die doodvonnis opgelê. Hy appelleer teen die skuldigbevinding en vonnis.

Die appellant en die oorledene was beide veroordeelde gevangenes in die Leeuwkop Gevangenis waar hulle en ander gevangenes saam in een sel aangehou was. Dit is gemene saak dat die appellant die oorledene doodgemaak het. Hy het hom omstreeks 06:00 die oggend in die sel minstens elf steekwonde met 'n mes toegedien. Twee van die steekwonde het die hart binnegedring. 'n Noodoperasie is kort daarna in 'n Johannesburgse kliniek op die oorledene uitgevoer, maar hy is direk na afloop van die operasie aan hartversaking oorlede.

Die appellant se verweer was dat die oorledene se provokasie toorn by hom ontlok het en dat hy as gevolg van 'n gemoedsopwelling nie die nodige opset om te dood

gehad het nie. Volgens sy weergawe was hy die oggend by een van die wasbakke besig om met ' n waslap en seep te was toe die oorledene hom van agter gestamp het. Hy het omgedraai en die oorledene gevra waarom hy hom nie kans gee om klaar te was nie. Die oorledene het hom nie geantwoord nie maar sy vinger in die appellant se oog gesteek. Die appellant sê hy het woedend kwaad geword. Hy het na sy slaapplek, wat ongeveer 8 tot 10 meter daarvandaan was, gehardloop, 'n mes uit sy kas gehaal en teruggehardloop na die wasbak toe. Daar het hy die oorledene by een van die wasbakke aangetref, met sy rug na hom gekeer, besig om te was. Hy het die oorledene twee of drie keer met die mes in die rug gesteek. Die oorledene het na bewering omgedraai en homself probeer verdedig deur die appellant 'n paar maal met die vuis teen die bors te slaan, waarna die appellant wild na die oorledene begin steek het en aangehou het totdat hy geval het. Die appellant het toegegee dat hy besef het dat dit gevaarlik was om ' n persoon sommer enige plek op die lyf

4 te steek aangesien dit die persoon se dood kon veroorsaak.

Drie van die sel se inwoners het namens die Staat getuig. Hulle weergawes verskil in sekere wesenlike opsigte van die appellant s'n. Die getuie Seeletsa sê hy het gesien toe die appellant na sy slaapplek terugloop nadat hy klaar gewas het. Hy het hom nie sien hardloop nie. Volgens Seeletsa het die oorledene op daardie stadium nog nie eens begin om te was nie. Die oorledene was trouens nog op pad wasbak toe om te gaan was. Op Seeletsa se weergawe was die appellant en die oorledene dus nie aanvanklik saam by die wasbak nie, en was daar gevolglik nie op daardie stadium enige geleentheid vir die oorledene om die appellant by die wasbak te stamp en met die vinger in die oog te steek nie. Seeletsa getuig verder dat hy naby die wasbak was en dat hy sou gesien het as die oorledene die appellant gestamp of met die vinger in die oog gesteek het. Hy het ook nie gehoor dat daar enige woordewisseling tussen

5

die twee plaasgevind het nie. Seeletsa het die appellant later weer sien terugloop na die wasbakke toe. Op daardie stadium het die oorledene gebukkend oor die wasbak gestaan, besig om homself te was. Die appellant het die oorledene van agter genader en hom in die rug gesteek. Toe die oorledene omdraai, het die appellant hom in die bors gesteek. Volgens Seeletsa was die appellant "alreeds gekleed en lankal gewas" toe hy die oorledene gesteek het. Die advokaat vir die verdediging het dit tydens kruisondervraging aan Seeletsa gestel dat die appellant 'n kaal bolyf gehad het toe die oorledene hom gestamp het. Seeletsa het geantwoord dat die appellant "vol gekleed" was op die latere stadium toe hy die oorledene gesteek het.

Die getuie Msimango het getuig dat hy besig was orn te was toe die oorledene by die wasbakke opdaag. Terwyl hulle twee daar gewas het, het die appellant ook daar aangekom. Volgens Msimango was die appellant toe "vol gekleed" gewees. Hy het daarna gesien hoe die

6 appellant die oorledene met 'n mes steek. Die appellant en die oorledene was op daardie stadium baie naby aan hom. Hy het egter nie gesien dat die oorledene die appellant voor die tyd gestamp het nie, en hy het ook nie enige woordewisseling tussen die twee gehoor nie. Dit blyk egter uit Msimango se getuienis dat hy nie gesien het toe die appellant homself vroeër by die wasbak gewas het nie. Volgens die appellant was dit juis by daardie geleentheid toe dié oorledene hom gestamp het en sy vinger in sy oog gesteek het.

Dit blyk uit die getuienis van die gemelde twee ooggetuies dat die oorledene op geen stadium weerstand gebied het of terugbaklei het nie, soos die appellant beweer het. Volgens hulle getuienis het die appellant die oorledene aanhoudend gesteek, selfs nadat hy hulpeloos op die vloer gelê het.

Die derde ooggetuie, ene Mahlango, het aanvanklik geslaap. Hy het wakker geword as gevolg van die geraas wat ontstaan het nadat die appellant die

7 oorledene gesteek het. Hy het iemand hoor sê "roep die polisie", waarna hy opgestaan het en na die venster gegaan het om die bewaarders te roep. Toe hy by die venster aankom het die oorledene hom beveel om weg te gaan aangesien dit niks met hom te doen gehad het nie. Dit het tydens die kruisondervraging van Seeletsa aan die lig gekom dat dit inderdaad Seeletsa was wat vir Mahlango gevra het om die bewaarders te roep. Seeletsa het ook bevestig dat die appellant vir Mahlango verbied het om die bewaarders te roep. Seeletsa het verder getuig dat Msimango op 'n stadium probeer het om die oorledene te help, maar dat hy nie daarmee voortgegaan het nie omdat die appellant hom met die mes gedreig het. Msimango het bevestig dat die appellant hom so gedreig het en gevolglik verhoed het dat hy die oorledene help. Die hof a guo was gunstig beïndruk deur die gemelde drie ooggetuies, maar het daarop gewys dat die appellant op hulle weergawe heeltemal onverklaarbaar en uit die bloute van agter op die oorledene toegeslaan het

8

en hom sonder enige klaarblyklike rede begin steek het. Die hof a quo het gevolglik op die waarskynlikhede bevind dat daar wel een of ander voorval tussen die appellant en die oorledene by die wasbak moes plaasgevind het wat die appellant se aanval op die oorledene voorafgegaan het. Inderdaad het nóg Msimango nóg Mahlango gesien toe die appellant aanvanklik by die wasbak vertoef het om homself te was, en sou hulle dus ook nie gesien het as die oorledene toe vir die appellant gestamp en met die vinger in die oog gesteek het nie. Hulle getuienis kan dus nie verdere lig op hierdie aspek van die saak werp nie. Daar was verder ook geen rede waarom Seeletsa die appellant en die oorledene op daardie vroeë stadium, toe niemand nog iets te wagte was nie, voortdurend in die oog sou hou nie. Die moontlikheid van een of ander uittartende optrede aan die kant van die oorledene kan dus nie uitgesluit word nie, met die gevolg dat die appellant se weergawe van so ' n voorval ook nie sonder meer as vals verwerp kan word nie. Die hof a quo het die appellant

9 dan ook die voordeel van die twyfel in hierdie verband gegee.

Op die appellant se eie weergawe moes die oorledene se provokasie egter onbeduidend van aard gewees het. Die stamp van agter was kennelik onbenullig, terwyl die vinger wat die oorledene na bewering in die appellant se oog gesteek het, geen werklike besering of nagevolge meegebring het nie. Die appellant het trouens toegegee dat die oorledene nie sy vinger diep in sy oog gesteek het nie. Daar was ook geen getuienis dat die oog na die tyd rooi of geswel of seer was nie.

Dit is insiggewend dat die appellant direk na die gebeure bereid was om teenoor luitenant Van Rensburg te erken dat hy die oorledene doodgesteek het, maar dat hy nie terselfdertyd sy optrede probeer regverdig het nie. Op sy weergawe was daar immers ' n baie goeie verskoning wat hy vir sy wederregtelike optrede kon aanvoer. Dit is myns insiens ondenkbaar dat die appellant sou versuim het om onmiddellik melding van die

10 oorledene se provokasie te maak indien diL inderdaad die appellant se hewige reaksie ontketen het. Daar is ook ander getuienis wat aantoon dat die oorledene se provokasie nie werklik so 'n heftige gemoedsaandoening by die appellant ontlok het as wat hy wou voorgee nie. Die appellant het weliswaar self getuig dat hy onmiddellik op die oorledene se provokerende optrede gereageer het deur onverwyld na sy kas te hardloop, sy mes te gryp en die oorledene in 'n oomblik van woede te steek. Die getuienis van die twee ooggetuies, Seeletsa en Msimango, waarna reeós hierbo verwys is, toon egter onteenseglik aan dat die appellant nie die waarheid in hierdie opsig praat nie. Volgens hulle was die appellant ten volle gekleed toe hy teruggestap het om die oorledene met die mes te gaan steek. Die appellant het op sy eie weergawe met 'n kaal bolyf by die wasbak gestaan toe die oorledene hom aanvanklik van agter gestamp het. Hy verduidelik nie wanneer hy sy klere aangetrek het nie. Die getuienis dat

11 die appellant eers aangetrek het voordat hy tot vergelding oorgegaan het, dui op die koel, berekende optrede van 'n persoon wat nie blind van woede kon gewees het nie. Daardie optrede strook net nie met 'n tydelike verlies aan selfbeheersing as gevolg van provokasie nie. Aangesien die appellant inderdaad nie oombliklik gereageer het nie, en daar dus noodwendig 'n sekere tydsverloop was, was daar ook meer geleentheid vir hom om af te koel en tot besinning te kom.

Die appellant het in die loop van sy gebuienis verwys na vorige struwelinge wat daar in die verlede tussen hom en die oorledene plaasgevind het. Die appellant se mede-selbewoners was nie van sulke voorafgaande voorvalle bewus nie, maar die hof a guo het die appellant ook in hierdie opsig die voordeel van die twyfel gegee en bevind dat daar voor die onderhawige gebeure 'n sekere mate van spanning tussen die appellant en die oorledene bestaan het. Die appellant se advokaat het betoog dat die oorledene se provokasie die betrokke

12 oggend die spreekwoordelike druppel was wat die emmer laat oorloop het. Dit strook cgter nie met die getuienis nie. Die appellant het self getuig dat hy nie meer kwaad vir die oorledene was vanweë daardie vorige probleme nie en dat hulle twee ondanks daardie gebeure nog met mekaar gesels het. Hy het saamgestem dat daar geen slegte gevoelens meer tussen hulle was nie. Waar daar soveel tyd sedert daardie vorige struwelinge verloop het, kan daar in ieder geval ook nie meer op daardie gebeure as provokasie gesteun word nie.

Na my oordeel is daar in die onderhawige geval geen sprake van enige provokasie wat die appellant se opset kon uitsluit nie. Die appellant se doelgerigte optrede weerspreek dit. Direk voordat hy die oorledene met die mes gaan steek het- en ondanks die beweerde woede en meegaande verlies aan selfbeheersing as gevolg van die oorledene se provokasie - vind die appellant nog tyd om eers sy klere te gaan aantrek. Direk nadat hy die oorledene met die mes gesteek het, verstrek hy geen rede


13

aan luitenant Van Rensburg waarom hy so opgetree het nie,

en maak hy veral geen melding van enige provokasie aan

die kant van die oorledene nie. Daar is verder getuienis

wat aantoon dat die appellant inderdaad deurgaans die

direkte opset gehad het om die oorledene te dood. Hy het

die oorledene aanhoudend en op potensieel dodelike plekke

met die mes gesteek, ook nadat die oorledene reeds op die

vloer neergeval het. Daarna verhoed die appellant een

van die selbewoners om die oorledene te hulp te kom, en

verbied hy 'n ander een om die bewaarders te roep. Nadat

hy die oorledene so aangerand het, maar voordat die

oorledene inderdaad dood is, sê die appellant aan

luitenant Van Rensburg dat hy die oorledene "doodgesteek"

het. Dit toon myns insiens aan wat die appellant se

gesindheid op daardie tydstip was.

In S v Mokonto 1971(2) SA 319(A) het Holmes AR

soos volg op 326 C-D opgemerk:

"On the other hand, the facts of a particular case might show that the provocation, far from negativing an intention to kill, actually caused it. The crime would be murder, not culpable homicide ..."

14 (Vgl ook 327 B.) Na my oordeel geld hierdie opmerking eweneens vir die onderhawige geval.

Die hof a guo het bevind dat die appellant skuldig is aan moord met direkte opset. Die appellant se advokaat kon geen oortuigende rede aanvoer waarom die hof a guo in hierdie verband fouteer het nie. Na my oordeel kan die appèl teen die skuldigbevinding nie slaag nie. Vervolgens moet beoordeel word of die doodvonnis die enigste gepaste vonnis vir die moord is. Provokasie kan in gepaste omstandighede strafversagtend wees, selfs al is dit nie van so 'n omvang dat dit die dader se opset uitsluit nie. (Vgl S v Mokonto, supra, op 326A-F; S v Mandela 1992 (1) SASV 661(A) op 665b-d.) Wat reeds hierbo gesê is met betrekking tot die aard en omvang van die oorledene se provokasie en die appellant se reaksie daarop, geld ook in hierdie verband. Die provokasie was gering in omvang en nie ernstig van aard nie. Daarbenewens het dit geen beduidende inkorting van

15

die appellant se selfbeheersing tot gevolg gehad nie. Vanweë 'n sekere tydsverloop het die appellant ook nie in die woede van die oomblik gehandel nie. Dit blyk trouens dat hy berekend opgetree het. Dat die provokasie wel 'n geringe invloed op die appellant se gemoedstoestand moes gehad het, kan egter nie uitgesluit word nie. Die hof a quo het dit trouens in aanmerking geneem.

'n Verdere aspek wat ter strafversagting in aanmerking geneem is, maar wat nie veel gewig dra nie, is dat die appellant hom blykbaar goed aangepas het by sy omstandighede gedurende die 14 jaar wat hy in die gevangenis deurgebring het. Adjudant-offisier de Beer, onder wie se toesig die appellant die laaste jaar voor die moord gewerk het, het getuig dat die appellant werk van goeie gehalte gelewer het en dat hy geen probleme gegee het nie.

Die appellant se advokaat heb ons verwys na die ongerapporteerde beslissing van hierdie hof in die saak van s v Tsotsobe en Andere (saaknommer 259/92) wat, op 4

16 Maart 1993 gelewer is. Daardie saak het ook gehandel met 'n moord wat in 'n tronk gepleeg is. Die appèlle van die appellante teen die doodvonnisse is daar gehandhaaf. In daardie saak het die invloed van tronkbendes en die uitwerking van die bendekultuur in die gevangenis egter 'n belangrike rol gespeel, en is daar ook heelwat getuienis daaroor gelewer. In die onderhawige saak is daar geen sprake van 'n bendemoord nie. Vir sover die appellant en die oorledene wel aan bendes behoort het, het dit geen rol by die moord gespeel nie.

Hierteenoor is daar ernstige verswarende faktore aanwesig. Die appellant was ongeveer 34 jaar oud toe hy die onderhawige moord gepleeg het. Op daardie stadium het hy reeds 14 jaar van 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf weens moord uitgedien. Hy het trouens twee vorige veroordelings vir moord. Beide daardie moorde was met 'n mes gepleeg. Hy is tot 20 jaar gevangenisstraf op elkeen van daardie moordklagtes gevonnis, maar dit is gelas dat daardie vonnisse

17 samelopend uitgedien moes word. Die appellant se vorige veroordelings is beslis 'n gewigtige verswarende faktor.

Die moord op die oorledene was berekend uitgevoer nadat die appellant 'n geleentheid tot besinning gehad het. Hy het die niksvermoedende en ongewapende oorledene van agter aangeval en hom aanhoudend en op buitensporige wyse aanhou steek, selfs nadat hy hulpeloos op die vloer gelê het. Hy het duidelik die direkte opset gehad om die oorledene te dood. Hy het die oorledene se smeking om genade geïgnoreer en trouens verhoed dat hulp ontbied word of dat die oorledene hulp verleen word. Dit was 'n wrede en gevoellose moord. Die omstandighede waaronder en die wyse waarop die moord op die oorledene gepleeg is, is na my oordeel erg verswarend.

Ondanks die ernstige strafverswarende faktore en die gebrek aan werklike strafversagtende faktore, moeb die hof nog steeds met inagneming van die oogmerke van straftoemeting, beslis of die doodvonnis in al die

18

omstandighede van die saak die enigste gepaste straf is.

Die 14 jaar gevangenisstraf wat die appellant reeds vir die vorige moorde uitgedien het, het klaarblyklik geen hervormende effek op hom gehad nie. By die geringste provokasie pleeg hy weer moord. In die omstandighede is die moontlikheid van rehabilitasie na my mening so skraal dat dit nie verdere oorweging regverdig nie.

Die appellant het homself bewys as 'n persoon wat 'n ernstige bedreiging vir sy medemens inhou, sowel buite as binne die gevangenis. Die gemeenskapsbelang tree dus sterk op die voorgrond, en in hierdie geval geld dit veral die belange van ander gevangenes wat onvermydelik in die appellant se geselskap moet verkeer en teen hom beskerm moet word. (Vgl S v Eiman 1989(2) SA 863(A) op 873A ; S v Mandela, supra, op 666 d-f.) Dit is juis in dergelike gevalle waar die gemeenskapsbelang d.it vereis dat die afskrikkings- en vergeldingselemente van strafoplegging beklemtoon moet

19 word. Die appellant is 'n gevaar vir sy mede-gevangenes en verdere gevangenisstraf sal nie hierdie probleem oplos nie. Na my oordeel is die doodvonnis werklik die enigste gepaste vonnis vir die appellant en kan sy appèl teen sy vonnis nie slaag nie.

Die appellant se appèl teen sowel die skuldigbevinding as vonnis word gevolglik afgewys.

F H GROSSKOPF, AR.

E M GROSSKOPF AR)

VAN COLLER WN AR) Stem saam.

▲ To the top