S v Ndungweni en Andere (417/93; 431/93; 432/93) [1994] ZASCA 154 (11 November 1994)


Saaknommer 417/93 431/93 432/93


IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

JACOB NDUNGWENI Eerste Appellant

GEELBOY GINGO Tweede Appellant

JOHANNES QAMPI Derde Appellant

en
DIE STAAT Respondent

CORAM : NESTADT, NIENABER et HOWIE ARR

DATUM AANGEHOOR : 2 NOVEMBER 1994

DATUM VAN UITSPRAAK : 11 NOVEMBER 1994

UITSPRAAK

HOWIE AR/

2

HOWIE AR:

Die drie appellante is in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling aan moord skuldig bevind en ter dood veroordeel. Kragtens artikel 316(A)(1) van Wet 51 van 1977 kom almal van hulle in hoër beroep teen daardie vonnis.

Derde appellant appelleer ook teen sy skuldigbevinding.

Dit is nie in geskil nie dat die 70-jarige Petrus

Adriaan Blignaut op die nag 11 Augustus 1992 in sy woning

op sy plaas in die distrik Hertzogville in die loop van 'n

roofaanval vermoor is. Dit word tans namens appellante

aanvaar dat, voortspruitend uit daardie aanval, hulle tereg

deur die Hof benede aan roof met verswarende faktore

skuldig bevind is. Elkeen is tot 15 jaar gevangenisstraf

ten opsigte van die roof gevonnis.

Wat derde appellant se skuldigbevinding aan moord

betref, het hy die volgende feitebewerings in sy

pleitverduideliking by die aanvang van die verhoor gemaak:

3

4.

Beskuldigde 1 en 2 het my kort voor die voorval genader en voorgestel dat ons die oorledene gaan beroof. Beskuldigde 1 het gesê dat dit nie nodig sou wees om die oorledene aan te rand nie aangesien dit 'n bejaarde man was en dit maklik sou wees om hom te oorrompel. Dit sou, volgens beskuldigde 1 slegs nodig wees om hom vas te bind. Ek het op daardie basis saamgestem om saam te gaan en die oorledene te beroof.

5. Nadat ons by die plaas aangekom het waar die oorledene gewoon het, het beskuldigde 1 vir my gesê om buite te wag en te kyk of daar iemand aankom. Beskuldigde 1 en 2 het aan die deur geklop en na die oorledene oopgemaak het, is hulle in die huis in.

6. Toe ek na 'n ruk die huis ingaan het ek die oorledene in 'n bebloede toestand op die grond aangetref. Beskuldigde 1 en 2 was ook nog in die huis. Beskuldigde 1 het erken dat hy die oorledene so geslaan het.

7. Ek het daarna die ander twee beskuldigdes gehelp om die oorledene en van sy goedere uit die huis uit te dra en op die oorledene se bakkie te laai. Ons is daarmee met die oorledene en sy bakkie en die ander geroofde goedere daar weg. Beskuldigde 1 het bestuur.

8. Ons het daarna langs die pad gestop. Beskuldigde 1 en 2 het die oorledene se liggaam langs die pad en die bosse ingedra en takke op hom gepak.

9. Ek is 'n paar dae daarna gearresteer. Ek het op geen

4

stadium na die polisie gegaan en gerapporteer wat gebeur het nie, omdat ek bang was dat hulle my sou arresteer.

10. Ek erken derhalwe dat dit verkeerd is om 'n ander persoon soos die oorledehe geweld aan te doen en hom van sy eiendom te ontneem. Ek het egter glad nie geweet of voorsien dat beskuldigde 1 en 2 hom sodanig sou aanrand nie. Ek het hoogstens geneem (sic) dat ons die oorledene sou vasbind."

As deel van die staatsaak is 'n bekentenis bewys wat derde appellant voor 'n landdros afgelê het. In sekere opsigte stem dit met sy pleitverduideliking en sy latere getuienis ooreen, maar daar bestaan ook belangrike verskille waarop ek later sal terugkom. Die toelaatbaarheid van die bekentenis en die korrektheid van die notulering en vertolking daarvan was nie op appèl in geskil nie.

Dit is belangrik om derde appellant se verweer te oorweeg in die lig van die aard en omvang van die fisiese aanval wat op die oorledene uitgevoer is. Volgens die patoloog wat die nadoodse ondersoek uitgevoer het, is die

5

oorledene se hande met 'n ligatuur vasgemaak en sy onderbene met 'n stuk geroeste draad. Die ligatuur en die draad is so styf vasgetrek dat hulle in die vel en onderliggende weefsel ingesny het. 'n Lap is ook styf om die mond vasgebind. Dit alles het ante mortem plaasgevind. Daar was frakture van die regteroogkasbeen en die regterbokaak met 'n gepaardgaande oop wond. Die gesigbeserings moes met 'n groot mate van geweld toegedien gewees het. Wat die kop aanbetref was daar onderkopvelbloedings van die regtervoorkop en die linkerslaap met onderliggende frakture van die skedel regs, links en voor, asook 'n subdurale hematoom van die brein. Daar was onderhuidse bloeding van die anterior borskaswand, die linker buikwand, beide knieë en arms. So ver dit die borskas aangaan, was daar vyf gebreekte ribbes aan die linkerkant en ses aan die regterkant. Die borsbeen is ook gebreek. 'n Deel van die linker agste rib is agtertoe geskuif en het daardeur skeure van die longvlies en

6

uitgebreide inwendige bloeding veroorsaak. Hierdie frakture van die borskas ('n relatief elastiese struktuur) en veral die borsbeenfraktuur beteken dat 'n groot mate van stomp geweld op die bors toegedien is. Die patoloog het in al die omstandighede gemeen dat die dood veroorsaak is deur stompgeweld teen die kop en ribbes met onomkeerbare breinbloeding en moontlike terminale hipoksie as gevolg van die ligatuur om die mond.

In derde appellant se getuienis met betrekking tot sy teenwoordigheid op die moordtoneel en die rol wat hy daar gespeel het, het hy op sy pleitverduideliking uitgebrei. In verskeie opsigte het hy ook daarvan afgewyk.

Op pad na die plaas, sê hy, het hy opgelet dat eerste appellant in besit van 'n handvuurwapen was. By die oorledene se woning aangekom, was die vuurwapen in eerste appellant se sak, maar tweede appellant het op die stadium 'n stuk yster in die hande gekry. Die oorledene het geweier om die deur oop te maak en eerste en tweede

7

appellante het die deur oopgeskop. Toe derde appellant uiteindelik binnegegaan het en die oorledene al klaar beseer aangetref het, het hy gesien dat albei die ander appellante met ysters bewapen was. Die oorledene het steeds effens asemgehaal. Eerste appellant het hom en tweede appellant beveel om die oorledene vas te hou terwyl hy die oorledene vasbind. Derde appellant het toe 'n gasstoof en 'n radio na die bakkie geneem terwyl sy makkers die oorledene uitgedra het. Voordat hulle weggery het, het eerste appellant die lap om die oorledene se mond gebind. Die ander twee appellante het die oorledene langs die pad afgelaai en sy lyk versteek toe daar agtergekom is dat hy intussen gesterf het. Hulle het almal die res van daardie nag saam deurgebring. Die volgende dag, toe eerste en tweede appellante weg is om 'n koper vir die bakkie te vind, het hy sy eie gang gegaan en naderhand die stoof vir R20,00 van die hand gesit.

Derde appellant het herhaal dat die basis waarop hy

8

ingestem het om aan die roof deel te neem, was dat die oorledene vasgebind in 'n kamer aangehou sou word met die vuurwapen op hom gerig. Hy het ontken dat hy enige aanranding op die oorledene waargeneem het of dat hy self iets aan hom gedoen het. Gevra omtrent sy reaksie op die oorledene se afsterwe, het hy gesê dat hy nie lekker voel daaroor aangesien dit nie sy bedoeling was om so iets te veroorsaak nie. Hy het in die houding volhard dat hy ondanks sy metgeselle se besit van 'n vuurwapen en ysters geen geweld op die oorledene verwag of eens voorsien het nie.

Die verhoorhof (Van Coppenhagen R en assessore) het derde appellant se getuienis op hierdie heel laaste aspek as vals verwerp. Daardie benadering is gebaseer op die volslae onwaarskynlikheid van die feitelike posisie wat deur derde appellant in sy getuienis geskets is, sonder dat die Hof na laasgenoemde se bekentenis verwys het.

Na my mening egter is dit die inhoud van die

9

bekentenis wat die nekslag aan sy geloofwaardigheid

toedien. Dit lees soos volg:

"Ons was vanaf Christiana ek en twee ander manne toe gaan ons na die plotte toe. Man wat ek ken as Petrus het gesê hy het 'n vuurwapen by hom. Toe het ek Lati gevra of dit waar is. Lati het gesê Petrus het 'n vuurwapen want hy het hom gesien. Ons het toe gegaan en Petrus het die deur geskop. Ek het om die hoek gestaan. Petrus het die deur geskop en Lati was agter Petrus. Hulle het ysters gehad. Voor hy die deur skop het Petrus gesê hy hoef nie die vuurwapen gebruik nie want die ou man is swak ons moet ook kyk hoe lyk sy huis. Petrus het toe die deur geskop en die ou man het gekyk wat gaan aan en Petrus het hom met die yster op sy voorkop geslaan. Die ou man het gerol en Lati is ook in die huis in en het ook met die yster geslaan. Ek het ook in gegaan en het yster gevat en die hou man twee houe op sy sye geslaan. Ek keer en sê hulle moet nie meer slaan nie want die ou man is al dood. Petrus het toe gesê ons moet hom vang hy sal die ou man vas maak. Hy het toe sy hande en sy voet vas gemaak. Ek het saam met hulle gegaan want hulle het my gesê hulle het 'n vuurwapen. Ons het hom toe gedra na sy bakkie toe en hom gaan oplaai. Ons het toe terug gegaan in die huis en het die drie primusstofie gevat en die Radio. Sy gereedskap gevat, hammers, tange en ook die ander klomp gereedskap op gelaai. Hulle het toe die huis se deur toe gemaak. Petrus het bestuur en ons het met die Hartswater pad gery. By die bosse het hulle gesê ons moet stilhou en die ou man in die bosse gooi. Ons het na die woonbuurt gegaan na Lati se ouers se huis. Hy het daar R20,00 gekry om petrol te gaan gooi. Ons het by

10

Petrus se suster gegaan en al die gereedskap daar gaan los. Ons het toe petrol gaan in gooi en na Bloemhof na Petrus se huis gegaan. Ons het daar geslaap. Dit was omtrent 1 uur in die oggend toe ons daar kom. Om 7 uur het ons op gestaan. Hulle sê ons moet na Wolmaranstad gaan en die bakkie gaan verkoop. Ek sê hulle kan maar alleen gaan. Toe het hulle gery en ek het nie meer die bakkie gesien nie. Dis al."

Die wesenlike verskille tussen daardie weergawe en derde

appellant se getuienis is voor die hand liggend. Hy is in

kruisondervraging gevra waarom hy gesê het dat hy die

aanranding gesien het en dat hy self daaraan deelgeneem

het. Op die eerste punt beweer hy dat toe hulle

verhoorafwagtend was eerste appellant hom beveel het om so

te sê. Gesien eerste appellant se verweer, wat 'n algehele

ontkenning was van alles behalwe latere besit van die

bakkie, is hierdie bewering onsinnig en ongelooflik. Op

die tweede aspek sê hy op een stadium dat hy maar aangeneem

het dat die polisie "met die wet" saamwerk (wat dit ook al

mag beteken) en, later, dat die polisie hom voorgesê het

om te erken dat ook hy vir die oorledene geslaan het. Dat

11

die polisie hierdie toegewing wou afdwing pleks van 'n heelwat meer inkriminerende erkenning is inherent onwaarskynlik. Trouens, sy getuienis in hierdie opsig is na 'n binne-verhoor aangaande die toelaatbaarheid van die verklaring deur die Verhoorhof as vals verwerp, en vir beslis aanneemlike redes. Dit is myns insiens dus duidelik dat gemelde erkennings deel van derde appellant se weergawe ten tye van sy bekentenisaflegging uitgemaak het en, voorts, dat as synde erkennings teen eie belang hulle as waar aanvaar kan word.

Dit synde die geval is dit onmiddellik duidelik dat die dodelike aanval wat vanuit die staanspoor op die oorledene geloods is, totaal onversoenbaar was met die beweerde reeling dat geen geweld gebruik sou word nie. Die noodwendige afleiding is dat die gebruik van 'n ernstige mate van geweld van die begin af 'n onontbeerlike element van die rooftog sou uitmaak en dat derde appellant dit goed geweet het. In die alternatief, en op die veronderstelling

12

in sy guns dat hy aanvanklik deur die ander appellante met betrekking tot die geweldsaspek mislei is, moes derde appellant by noodwendige afleiding die hele gruwelike en genadelose aanranding op die oorledene aanskou het. Die fisiese gevolge daarvan is hierbo na verwys. Ondanks sy kennis van wat met die slagoffer gebeur het, besluit hy om self aan die geweldpleging deel te neem en sodoende gemene saak met die ander appellante se aanval te maak. In al die omstandighede staan dit derde appellant nie vry om te beweer dat hy nooit die oorledene se moontlike dood voorsien het nie en dat hy hom nie daarmee versoen het nie. Klaarblyklik het hy die oorledene aangerand in die volle besef dat laasgenoemde reeds moontlik dodelik verwond was en het hy onverskillig daarteenoor gestaan of die dood sou intree al dan nie. Sy eie bydrae, selfs al was dit nie met die slagoffer se uiteindelike dood kousaal verbind nie, is nogtans met ten minste dolus eventualis gelewer.

Op enigeen van bovermelde twee grondslae was derde

13

appellant op die basis van gemeenskaplike oogmerk skuldig aan die oorledene se moord. Die appèl teen sy skuldigbevinding aan moord kan derhalwe nie slaag nie.

Wat vonnis aanbetref het die Verhoorhof dit strafverswarend bevind dat die slagoffer tot appellante se kennis 'n bejaarde en betreklik swak persoon was; dat hy alleen en weerloos in 'n skuur sonder slotte gewoon het; dat hy sy aanvallers geen rede gegee het om enige wrok teen hom te koester nie; dat doodslag tydens beplande rooftogte in die Oranje-Vrystaat 'n skokkende en feitlik alledaagse verskynsel was; dat die oorledene wreedaardig en gevoelloos aangerand, vasgebind en versmoor is waarna sy lyk in die veld as't ware weggegooi is; en dat eerste en tweede appellante hoegenaamd geen berou daaroor getoon of verwoord het nie.

Die strafversagtende faktore wat bevind is, was dat eerste en tweede appellante (albei 25 jaar oud) eerste oortreders was; dat derde appellant (41 jaar oud).

14

alhoewel hy vorige veroordelings het, nooit vantevore aan 'n geweldsmisdryf skuldig bevind is nie; dat al die appellante gewerk het en hulle onderskeie vrouens, kinders en ander naasbestaandes onderhou het; dat slegs dolus eventualis bevind is en nie direkte opset nie; en dat dit 'n redelike moontlikheid was dat appellante mekaar oor en weer aangespoor en aangepor het om die moord te pleeg. In derde appellant se geval is die verdere strafversagtende faktore bevind dat hy in sy getuienis uiting gegee het aan gevoelens van berou en dat hy na alle waarskynlikheid nie 'n dodelike wond veroorsaak het nie.

Ondanks die feit dat eerste en tweede appellante eerste oortreders is en, so lei ek af, rehabiliteerbaar is, bestaan daar in hulle geval geen gegronde rede waarop 'n wesenlike verskil getref kan word nie tussen die onderhawige saak en etlike soortgelyke sake van afgryslike moorde van bejaarde weerlose mense in hul eie wonings, waarin die elemente van afskrikking en vergelding swaarder

15

as enige ander faktore geweeg het en waarin die uiterste vonnis deur hierdie Hof bekragtig is.

Na deeglike oorweging is ek van oordeel dat op die huidige stand van die reg die doodvonnis die enigste gepaste straf is in die geval van eerste en tweede appellante. Die vraag van die grondwetlikheid van die doodvonnis sal egter eersdaags voor die Konstitusionele Hof dien. Reg en geregtigheid verg dus dat hulle appèl uitgestel moet word tot tyd en wyl daardie Hof se uitspraak gegee is waarna die appèl weer ter rolle geplaas kan word vir afhandeling deur hierdie Hof.

Wat derde appellant aanbetref is ek die mening toegedaan dat die getuienis bewys dat sy rol en sy bydrae wesenlik kleiner was as dié van sy metgeselle tot so 'n mate dat die uiterste straf nie die enigste gepaste vonnis in sy geval is nie. Op die feite wat bewys is of redelik moontlik waar is, het die ander twee appellante die rooftog beplan en die leiding geneem; is hy slegs as't ware as 'n

16

handlanger ingeroep terwyl hy in 'n kroeg gesit en drink het; en het hy slegs twee nie-dodelike houe toegedien. Daar sal myns insiens aan al die vereistes en doelstellings van vonnisoplegging voldoen word indien 18 jaar gevangenisstraf aan derde appellant opgelê word waarmee sy vonnis op die roofklagte saam uitgedien sal word. Sy appêl teen vonnis slaag dus. Die volgende bevel word gemaak:

1 . Derde appellant se appèl teen sy skuldigbevinding aan moord (aanklag 1) word van die hand gewys.

2. Die afhandeling van die appèl van eerste en
tweede appellante word uitgestel tot 'n datum (na

lewering van die Konstitusionele Hof se uitspraak ten opsigte van die grondwetlikheid van die

doodvonnis) wat deur die Griffier in oorleg met

die Hoofregter bepaal sal word.

3. Derde appellant se appèl teen die vonnis slaag.
Die doodvonnis wat hom op aanklag 1 opgelê is,
word ter syde gestel. In die plek daarvan word

17

hy gevonnis tot 18 jaar gevangenisstraf. Dit word beveel dat die vonnis van 15 jaar wat hy op aanklag 2 opgelê is, saam met die gemelde vonnis van 18 jaar uitgedien word.

C.T. HOWIE APPèLREGTER

NESTADT AR ] STEM SAAM NIENABER AR ]

▲ To the top