S v Khumalo en Andere (254/94; 57/93) [1994] ZASCA 174 (28 November 1994)


254/94

57/93

/mg

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

CHRISPEN KHUMALO EERSTE APPELLANT

DELAN KLUGH MPOZA TWEEDE ARPELLANT

HENRY SOLOMON MOPEDI DERDE APPELLANT

MIKE MICHAEL LESHOMA VIERDE APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM : HEFER, EKSTEEN et NIENABER ARR

VERHOORDATUM : 22 NOVEMBER 1994 LEWERINGSDATUM : 28 NOVEMBER 1994

UITSPRAAK

HEFER, AR/...

2 HEFER AR:

Op 15 Mei 1991 is 'n handelsbank in Witbank van 'n aansienlike bedrag geld beroof. In die proses is twee bankamptenare doodgeskiet en vier ander van hulle persoonlike besittings soos horlosies en juwele beroof. Buite die gebou het die rowers op 'n veiligheidswag geskiet en per motor ontsnap.

Hierdie gebeure het aanleiding gegee tot die huidige appellante se arrestasie en latere skuldigbevinding in die hof a quo op twee aanklagte van moord (aanklagte 1 en 2), een van poging tot moord op die veiligheidswag (aanklag 8) en vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede (aanklagte 3, 4, 5, 6 en 7). Ten opsigte van elke moord is hulle ter dood veroordeel en op die ander aanklagte tot lang termyne gevangenisstraf. Die eerste, tweede en derde appellante het, ooreenkomstig art 316(A)(1) van die Strafproseswet

3

51 van 1977 soos gewysig, appél aangeteken teen hulle skuldigbevindings en vonnisse op aanklagte 1 en 2 en, met die nodige verlof, ook teen hulle skuldigbevindings en vonnisse op die ander aanklagte. Vierde appellant se appèl is slegs teen díe doodvonnis gemik.

Wat by die verhoor in geskil was, was of die appellante lede was van die roofbende. Die verhoorhof se bevinding dat dit wel die geval was, is, wat die eerste appellant betref, gebaseer op sy identifikasie deur 'n staatsgetuie en die aanwesigheid van sy vingerafdruk op die motor waarmee die rowers ontsnap het, maar veral op'n verklaring wat hy na sy arrestasie aan 'n landdros gemaak het en waarin hy sy aandadigheid beken het. Die ander appellante se skuldigbevindings is uitsluitlik op dergelike verklarings gebaseer. Volgens die eerste en tweede appellante se verklarings was hulle lede van die gewapende groep wat die bank binnegegaan en die roof fisies uitgevoer het, maar was dit ander lede

4

van die groep wat die oorledenes geskiet het. (Ter verduideliking moet opgemerk word dat ses lede van die bende die bank binnegegaan het. Saam met die huidige vier appellante was twee andere aangekla. Die een is onskuldig bevind en die verhoor van die ander een is geskei. Wat van die ander bendelede geword het en of hulle ooit gearresteer is, is nie bekend nie.) Volgens die derde en vierde appellante se verklarings het hulle twee van die motors bestuur waarmee die bendelede na die bank vervoer is en het hulle buite die bank vir hulle makkers gewag - derde appellant iewers langs 'n grondpad en vierde appellant in die dorp naby die bank. 'n Derde motor was vooraf voor die bank geparkeer. Die groep wat die bank binnegegaan het, het aanvanklik daarmee ontsnap en gery na die plek waar die derde appelant vir hulle gewag het. Daar het hulle in laasgenoemde se voertuig geklim en die ontsnapvoertuig agtergelaat. Die polisie

5

het dit later gevind met eerste appellant se vingerafdruk op een van die ruite.

Die verhoorhof het die verklarings as getuienis toegelaat na 'n binneverhoor waarin die eerste drie appellante se bewerings as sou hulle deur die polisie gemartel en aldus oorgehaal was om aandadigheid te beken, ondersoek en as leuenagtig verwerp is. Namens die vierde appellant is ook beswaar gemaak teen die inhandiging van sy verklaring maar, omdat sy skuldigbevinding tans nie ter sprake is nie, is dit nie nodig om die gronde vir sy beswaar te bespreek nie. Die beswaar is tereg verwerp en sy verklaring toegelaat.

In hierdie hof het mnr Stipp sy betoog namens die eerste, tweede en derde appellante hoofsaaklik toegespits op die toelaatbaarheid van hulle verklarings. Anders as by die verhoor, het hy egter nie gewag gemaak van die bewerings van dwang wat die onderwerp van die binneverhoor was nie. Nadat hy aandag gevestig het op

6

die feit dat die afwesigheid van onbehoorlike beïnvloeding 'n bykomende en afsonderlike toelaatbaarheidsvereiste is onder art 217(1) van die Strafproseswet 51 van 1977 soos gewysig, het hy aangevoer dat die getuienis as geheel nie die redelike moontlikheid uitsluit dat sy kliënte onbehoorlik beïnvloed was deur wat hy as "subtiele druk" beskryf het nie.

Ek is nie van voorneme om die betoog - en veral elke brokkie " subtiele druk" wat mnr Stipp geopper het - volledig te bespreek nie. Bepaalde aspekte daarvan is, om die minste te sê, so vergesog dat dit nie vermeldingswaardig is nie. Origens openbaar die betoog twee besondere beginselgebreke. Eerstens ignoreer mnr Stipp die feit dat die bewyslas ooreenkomstig art 217(1)(b)(ii) in die onderhawige geval op die verdediging gerus het wat meebring dat die verklarings as toelaatbaar geag moet word tensy die

7

oorwig van waarskynlikhede op die aanwesigheid van onbehoorlike beïnvloeding dui. (Vgl S v Mphahlele and Another 1982(4) SA 505 (A) op 512 B-C.) Dat die betrokke appellante anders dan by wyse van dwang oorreed is om verklarings te maak, is nooit by die verhoor beweer enf. ondersoek nie en, in die afwesigheid van positiewe getuienis, het mnr Stipp vir homself die onmoontlike taak gestel om ons te probeer oorreed, nie net dat besondere aspekte van die polisie - en selfs die landdroste wat die verklarings afgeneem het - se optrede as onbehoorlik bestempel kan word nie, maar ook dat die appellante waarskynlik inderdaad beïnvloed is.

Die tweede gebrek in die betoog spruit uit die gebruik wat mnr Stipp poog te maak van die Regtersreëls en die verdoeming deur die howe van bepaalde metodes van ondervraging en praktyke by die afneem van bekentenisse. In S v Mbatha en Andere 1987(2) SA 272 (A) op 279G is dit beklemtoon dat

8

"[die] Howe ... geen bevoegdheid [het] om toelaatbaarheidsvereistes vir bekentenisse ... te stel wat nie deur art 217(1)(a) voorgeskryf is nie"

en, soos aangedui in S v Khoza en Andere 1984(1) SA 57

(A) op 59 F-G,

"dat die primêre vraag by die beoordeling van

die toelaatbaarheid van enige bekentenis is of dit volgens die voorskrifte van art 217(1) van die Strafproseswet ... gemaak is d w s vrywillig, ongedwonge en sonder onbehoorlike beïnvlpeding."

In die huidige geval is die bekentenisse deur landdroste

by die polisiekantore afgeneem met behulp van

polisietolke. Die appellante is vroeg die oggend van

Saterdag 22 Junie 1991 gearresteer en na die kantore van

Brixton se moord- en roofafdeling geneem vanwaar hulle

later die dag na die polisiekantore op Witbank vervoer

is, Daar is hulle ondervra en het hulle, volgens die

aanvaarde getuienis wat in hierdie hof nie aangeval is

nie, te kenne gegee dat hulle bereid was om verklarings

voor landdroste af te lê. Maar die landdroskantore was

9

gesluit vir die naweek. Daarom, en omdat die offisier wat met die ondersoek belas was dit nie raadsaam geag het om tot Maandag te wag nie, het hy twee landdroste by hulle tuistes geskakel en met hulle gereël om na die polisiekantore te kom. 'n Tolk verbonde aan die landdroshof kon egter nie opgespoor word nie. Daarom is die verklarings in die polisiekantore afgeneem met behulp van polisiemanne wat nie by die ondersoek betrokke was nie, as tolke.

Mnr Stipp se betoog dat hierdie prosedure onreëlmatig was en tot gevolg gehad het dat die verklarings ontoelaatbaar was, verloor die opmerkings in die pas-aangehaalde uitsprake uit die oog. Natuurlik sou dit wensliker gewees het om die verklarings op 'n ander plek en met behulp van ander tolke af te neem. Soos aangedui gaan dit egter nie primêr om die reëlmatigheid van die prosedure wat gevolg is nie maar wel - in die konteks van mnr Stipp se betoog - om die

10

vraag of die bekentenisse sonder onbehoorlike beïnvloeding gemaak is. Of dit die geval was, hang van die getuienis af en die blote f eit dat ' n minder wenslike prosedure gevolg is, is nie sondermeer deurslaggewend nie.

'n Oënskou van die getuienis openbaar geen rede vir bedenkings oor die toelaatbaarheid van die bekentenisse nie. By die afneem daarvan was die landdros in elke geval alleen met die tolk en die betrokke appellant in 'n kantoor. In elke geval is die gebruiklike waarskuwings en verduidelikings verskaf en die vrae wat gewoonlik gevra word ten einde die afwesigheid van onbehoorlike beïnvloeding te verseker, vooraf aan elke appellant gerig en bevredigend beantwoord. Daar is geen aanduiding dat enigeen van hulle hoegenaamd beïnvloed was om sy skuld te beken nie.

11

In die lig hiervan kan die appèlle teen die skuldigbevindings nie slaag nie.

Die volgende vraag is of die doodstraf wat die appellante op aanklagte 1 en 2 opgelê is die enigste gepaste vonnis is. Of dit die geval is, moet natuurlik oorweeg word met inagneming van die verswarende sowel as alle moontlike versagtende faktore.

Wat verswaring betref, is die erns van die misdade opvallend in die omstandighede waaronder dit gepleeg is. Ses rowers, somminge van hulle met sykouse oor die kop en gewapen met pistole, haelgewere en minstens een AK 47, het die bank binnegestorm. Personeellede en kliënte in die banksaal is grondtoe gedwing; andere is gelas om geld in sakkies te sit. Die sleutel van die kluis is van mnr Fick geëis en toe hy te kenne gegee het dat hy nie die bestuurder was nie en die sleutel nie gehad het nie, is hy rondgesleep en koelbloedig geskiet. (Die koeël het hom in die bors

12

getref. Later die dag het hy beswyk.) Waarom hy moes sterf, is nie duidelik nie. Moontlik is hy uit blote frustrasie geskiet omdat hy nie die sleutel kon verskaf nie ('n getuie het gehoor dat gesê word "Shoot the bastard") of dit mag wees dat die oogmerk was om die ander personeellede te intimideer en die sleutel op daardie wyse te bekom. Hoe dit ook al sy, mev Barnard wat blykbaar by haar lessenaar gesit het, is ook, ewe koelbloedig, in die kop geskiet. Sy was feitlik op slag dood. Die rede vir haar dood is nog 'n groter raaisel. Wat nietemin volkome duidelik is, is dat nie een van die ongelukkige slagoffers vermoor is omdat hulle die rowers probeer teëgaan of enigsins in die weg probeer staan het nie.

Dit spreek vanself dat optrede soos hierdie baie swaar gestraf moet word. 'n Bankroof - veral een met vuurwapens gepleeg in 'n besige sakesentrum waar die moontlikheid van lewensverlies veel groter is as elders

13

- is klaarblyklik 'n uiters ernstige misdaad wat die gemeenskap as geheel betrek, hoofsaaklik omdat die veiligheid van onskuldige buitestanders daardeur in gevaar gestel word. Dure ondervinding leer dat sulke strooptogte soms ontaard in 'n wilde skietery binne en buite die bank sodat nie net die personeel en hulle klante nie maar ook niksvermoedende verbygangers hulle lewens nie seker is nie. Dit is juis die risiko van grootskaalse lewensverlies wat meebring dat die euwel van bankrowery nie deur die banke en die polisie doeltreffend bestry kan word nie. Voornemende rowers is ongetwyfeld bewus daarvan dat niemand geneë is om op hulle te skiet wanneer die lewens van buitestanders daardeur in gevaar gestel sal word nie. Daarom verbaas dit nie dat hierdie besondere misdaad toegeneem het tot die mate dat daar haas nie 'n dag verbygaan sonder 'n waaghalsige bankroof iewers in die land nie. Gedagtig verder daaraan dat dit 'n misdaad is wat uitsluitlik op

14

groot geldelike gewin gemik is, kan die gemeenskap tereg verwag dat die howe nie moet skroom om dit uiters swaar te bestraf nie, soveel te meer wanneer dit met koelbloedige moord gepaard gaan.

Dit is aan ons voorgehou, en ek aanvaar, dat geeneen van die appellante die werklike moordenaars was nie en dat hulle skuldvorm hoogstens dolus eventualis was. Boonop het die derde en vierde appellante nie eens die bank binnegegaan nie. Myns insiens bied hierdie versagtende faktore in die omstandighede van hierdie geval egter nie rede vir 'n ligter straf as wat die moordenaars verdien nie. Die rooftog was klaarblyklik fyn beplan. Elkeen van die appellante het aan die vooraf-beplanning deelgeneem Dae voor die roof het hulle in Witbank byeengekom. Die bank is bespied. En aan elke deelnemer is sy eie besondere taak opgedra. Vir die suksesvolle uitvoering van die plan was elke taak ewe belangrik. Elke deelnemer was boonop vooraf

15

volkome bewus van die aard van die wapens wat saamgeneem sou word en van die sterk moontlikheid dat dit met dodelike gevolge gebruik kon word as alles nie volgens plan verloop nie. Dit is insiggewend dat geeneen van die appellante in hulle verklarings te kenne gegee het (soos dikwels gedoen word) dat die wapens slegs as intimidasiemiddels gebruik sou word en nie, indien nodig, as moordwapens nie; en dat elkeen van van hulle, welwetend van die moorde, uiteindelik gedeel het in die onregmatig verkreë buit.

In die persoonlike omstandighede van die appellante is daar niks wat werklik van belang is nie. Dit is waar dat die eerste drie appellante geen noemenswaardige resente vorige veroordelings het nie en dat die moontlikheid van rehabilitasie in hulle gevalle nie uitgesluit is nie. In 'n saak soos dié waar die veroordeelde se belange beswaarlik opweging teen die belange van die gemeenskap verdien, is dit egter nie

16

deurslaggewend nie. Die vierde appellant is kort voor die huidige oortreding tot tien jaar gevangenisstraf veroordeel op aanklagte van roof en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hoe dit gekom het dat hy nie in die gevangenis was toe die huidige misdaad gepleeg gepleeg is nie, blyk nie uit die oorkonde nie.

Na my oordeel is die doodstraf die enigste gepaste vonnis vir al die appellante op aanklag 1 en ook op aanklag 2. Aangesien die grondwetlike bestaanbaarheid van die doodvonnis tans die oorweging van die Konstitusionele Hof geniet, kan finale uitspraak daaroor egter nie op hierdie stadium gelewer word nie.

Ten slotte moet opgemerk word dat mnr Stipp nie bereid was om ons toe te spreek oor die eerste, tweede en derde appellante se appèlle teen die vonnisse op aanklagte 3, 4, 5, 6, 7 en 8 nie. Daar skort niks met hierdie vonnisse nie.

17

Die volgende bevel word verleen:

1. Die eerste, tweede en derde appellante se
appélle teen hulle skuldigbevindings en teen
die vonnisse op aanklagte 3, 4, 5, 6, 7 en 8

word van die hand gewys.

2. Die appèlle teen die vonnisse op aanklagte 1

en 2 word uitgestel tot ' n datum deur die griffier in oorleg met die Hoofregter gereël te word.

J J F HEFER AR

EKSTEEN AR )

STEM SAAM NIENABER AR )

▲ To the top