S v Mokali en 'n Ander (94/1994) [1994] ZASCA 180 (29 November 1994)


CG SAAKNOMMER: 94/94

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak van:

THABO MOKALI Appellant nr 1

MOSES GUZANA Appellant nr 2

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: BOTHA, EKSTEEN et VAN DEN HEEVER ARR AANGEHOOR: 14 NOVEMBER 1994

GELEWER: 29 NOVEMBER 1994

UITSPRAAK VAN DEN HEEVER AR

2

Op 4 November 1992 in Kwakwatsi woonbuurt in die Koppies distrik, het 'n groep jong mense hulle skuldig gemaak aan barbaarsheid wat herinner aan 'n Middeleeuse heksejag. Twee ou mense, Olifant Msawuli (ook bekend as Mokabane) en Limakatso Maria Thube, is gefolter na aanleiding van aantygings teen hulle gemaak deur 'n meisie, Sesie. Die groep het vermoed dat sy vroeër deur die twee ontvoer was, en dat hulle donker bedoelings met Sesie gehad het. Hulle wou aanvanklik bekentenisse uit die twee dwing. Beide is aangerand en uiteindelik aan mekaar en 'n buiteband vasgebind en aan die brand gesteek. Die vrou is twee dae later aan brandwonde in die hospitaal oorlede. Die man het dieselfde dag daar op die toneel beswyk, egter nie aan brandwonde nie maar as gevolg van skedelbreuk.

Slegs twee van die persone wat deel uitgemaak het van die groep inkwisiteure is aangekla, op twee aanklagtes van moord, as gevolg van hierdie gebeure. Beide het onskuldig gepleit en geen pleitverduideliking aangebied nie. Beide is mettertyd skuldig bevind en ter dood veroordeel.

3

Hulle is die huidige appellante. Elkeen betwis nou sy skuldigbevindings sowel as vonnisse. Die identiteit van ander wat ook daar was en volgens die getuienis deelgeneem het aan die aksie die aand, is gemenesaak tussen vervolging en verdediging. Name wat keer op keer genoem word as aktiewe lede van die groep jongmense, is Oompie Taje, Ramtuba Teboho, en Zakes Fohlela. Hulle het hulle egter uit die voete gemaak en kon nie opgespoor word nie.

Hoewel die inkwisisie gespruit het uit die beweerde verdwyning van Sesie, is wat haar oorgekom het in twyfel en uiteenlopende hoorsê omwaas. Haar ouers is na bewering oorlede. Die naam van 'n vrou, Puleni, word genoem as haar ouer suster of dalk pleegmoeder, wat sou saam met die groep en die teruggevonde kind die aand beweeg het op soek na Mokabane en sy buurvrou, mev Thube, bekend as 'n sangoma.

Die verhoorhof het die hooftrekke van die getuienis van Mokete Petrus Sempe, 18 jaar oud en in standerd 7, geglo, en vir hom as geloofwaardig en sy uitkenning van appellante as beíroubaar aanvaar.

4

Die hooftrekke word nie deur die verdediging betwis nie. Beide appellante erken dat hulle deurentyd deel was van die groep, maar betwis Sempe se aanwysing van hulle as die persone wat die handelinge wat hy elk toereken, gepleeg het. Hulle verweer is dat hulle, soos hy, maar net toeskouers was. Wat betref die verloop van die insidente wat die aand plaasgevind het, verskil hulle nie van hom nie behalwe in onbelangrike detail. Ek gee slegs die hooftrekke van sy verhaal weer.

Hy was by sy ouerhuis toe 30 of meer seuns in die straat verbygekom het. Puleni en Sesie was saam. Hy het name genoem van sommige wat hy herken het, ondermeer eerste appellant. Hy is genooi om hulle te vergesel, en het: hulle was "Comrades" of lede van die ANC Youth League, en om so 'n uitnodiging af te wys kon vir hom gevare inhou. Hy is saam na die huis van Mokabane. Daar het Zakes die hele groep die huis binne gelei, vergesel van Sesie. (Sempe het haar ouderdom op sowat agt jaar geskat.) Mokabane was nie tuis nie, sy vrou wat ongesteld was, wel. Sy seun Lukas en die se vrou Agnes Matxxx

5

was ook in die huis. 'n Klein groep is gestuur om Mokabane te gaan soek. In hulle afwesigheid is reeds begin om die bewerings wat die kind vroeër moes gemaak het, aan Agnes te stel.

By wie Sesie in die eerste plek gekla het en hoe dit by die
Comrades uitgekom het is nooit opgeklaar nie, maar Sempe het in die
loop van kruisverhoor erken dat die gemeenskap soms om hulp by die
Comrades aanklop, en dat hy van mening was dat dit hier ook gebeur
het. Ontleding van die getuienis toon dat Sesie se storie soos Sempe dit
verstaan het uit die inkwisisie, eintlik twee insidente moes behels het.
In Mokabane se huis sou sy deur Agnes en Mokabane onder 'n bed
versteek gewees het. Agnes het haar pap en melk in 'n geel skottel
gegee en gesê "Vat, jy is 'n versoeking, ons soek jou van lankal af". Hoe
en wanneer sy uit die huis sou gekom het, weet ons nie, ook nie of die
Comrades ooit navraag daama gedoen het nie. Die tweede insident het
begin toe sy van die hek van haar skool weggelok is. (Die besonderhede
hiervan volg later.)

6

Om terug te kom na die feiteverloop van die aand: Agnes is gevra of sy Sesie ken. Agnes het "Nee" gesê. Zakes het Sesie gevra of sy Agnes ken, en Sesie beweer toe dat Agnes een van dié was wat haar onder die bed versteek het. Eerste appellant het Agnes met 'n mes teen haar keel aangesê om die waarheid te praat. So nie, sou sy ook verbrand word. Agnes het ontken dat sy die kind ooit vantevore gesien het. Eerste appellant het haar gelos. Die splintergroep het teruggekeer, met Mokabane. Sesie is gevra of dit die man is wat haar onder die bed gesit het. Sy sê "ja". Mokabane het ontken dat hy die kind hoegenaamd ken. Terwyl Sesie haar bisarre verhaal vertel, is Teboho Ramtuba uit die huis. Buite het hy met Mokabane se tuinslang petrol uit Mokabane se bakkie se tenk oorgetap in twee twee-liter houers. Hy kom toe terug die huis in. Hy en Zakes het die mense gelas om almal na die gemeenskapsaal te gaan. Die enigstes wat agtergebly het, was Mokabane se seun en sy siek vrou. Oompie Taje en eerste appallent het daarop aangedring dat Agnes moet saamgaan, om te sien hoe Mokabane brand.

7

By die saal gekom, het Oompie Taje 'n sambok uitgepluk en Mokabane geslaan. Tweede appellant het hom met die oop hand sowel as gebalde vuis aangerand. Toe hy val, het tweede appellant hom aan sy klere opgepluk. Hy is maak sit op 'n stoel. Oompie Taje en eerste appellant het hom gepynig deur gesmelte druppels vanaf opgerolde plastiek wat aan die brand gesteek is, op sy bene en bles te drup. Ondanks sy pynkrete, het eerste appellant hom gedreig dat as hy nie die waarheid praat nie, hy gebrand sou word. Eerste appellant het die stoel waarop hy gesit het agteroor gepluk sodat Mokabane geval het. Tweede appellant en Oompie Taje het hom met geskoende voete op sy gesig en lyf getrap. Hy was bewusteloos. Teboho Ramtuba het hom bygebring deur water oor hom te giet. Hy moes ondersteun word tot waar hy agter in die saal geplaas is. Teboho Ramtuba stel toe voor dat mev Thube gehaal word. So gesê, so gedaan. Beide appellante was deel van die groep wat haar uit haar huis uit gesleep en na die saal gebring het. Sempe is saam. Op pad terug is Sempe aangesê om 'n buiteband van sy

8

ouers se perseel te haal. Mosunyane is gelas om Sempe te vergesel, en het die band na die saal gerol en aan Teboho Ramtuba oorhandig. By die saal het eerste appellant en Oompie Taje om die beurt vir mev Thube met die sambok geslaan. Toe vra hulle vir Sesie of dit "die ouvrou" was. Die kind vertel toe van wat 'n tweede insident moes gewees het. Volgens haar het mev Thube, wat krale voor haar gesig gehad het, op 'n Maandag oggend vir Sesie by die skoolhek teëgekom, sorghum in haar gesig gegooi, en haar gebied om haar (d.i. nou mev Thube) te volg. Sy is toe by Koppies Dam deur altwee appellante kaal uitgetrek en vasgebind en daar later gevind en deur die polisie teruggeneem. Daar by die saal het tweede appellant die band oor mev Thube se kop en onder een arm geplaas. Mokabane is nader gebring en sy kop is ook deur die band gedruk. Eerste appellant het 'n mes aan tweede appellant oorhandig wat daarmee tou wat in die saal gehang het, afgesny het. Daarmee het tweede appellant die band aan beide slagoffers vasgebind, en hulle aan mekaar. Hulle is na buite geneem. Daar het tweede appellant petrol oor

9

die twee gegooi en hulle aan die brand gesteek. Vanweë die sagte reën wou die vlamme nie mooi vat nie. Tweede appellant het geraas met die omstanders wat niks doen nie, en self nog petrol op die twee gegooi. Die vlamme het die toue deurgebrand. Mokabane kon toe sy kop uit die band kry en mev Thube kon ook die band van haar afstoot. Dit het op die grond geval. Hulle klere het gebrand maar is vanweë die reën geblus. Mev Thube kon blykbaar nie sien waarheen sy loop nie, en Sempe het haar gewaarsku dat sy in 'n venster gaan vasloop. Sy het gevolglik omgedraai. Lede van die groep het Mokabane gekeer toe hy in die rigting van sy huis beweeg. Sempe is saam met Agnes, wat bevrees was en wou padgee, daar vort. Op daardie stadium het mev Thube nog blindelings geloop, maar Mokabane het gelê. Sempe het hulle nie weer gesien nie.

Sempe het vertel dat hy eerste appellant al jare ken, van sien in die woonbuurt. Hy was saam met tweede appellant in dieselfde klas op skool, in standerd vier.

10

Onder kruisverhoor is geen afbreuk gedoen aan sy getuienis nie. Hy het wel vertel dat die polisie hom aangerand het om hom te laat praat oor wat hy van die voorval weet, maar ontken dat hy uit vrees vir die polisie enige stories opgemaak het. Hy was aanvanklik bevrees om te praat, maar vir wat die comrades aan hom sou doen, nie vir die polisie nie. Aan die polisie het hy net die waarheid vertel. Dit is in kruisverhoor wat dit aan die dag gekom het dat die groep wat die twee oorledenes gedreig en aangerand het, die ANC Youth League was. Hy self is nie lid daarvan nie. Die storie dat 'n kind sou verdwyn het, en dat die sangoma haar geneem het, het hy vir die eerste keer gehoor toe hy op "uitnodiging" by die groep aansluit op pad na Mokabane se huis.

Die tweede staatsgetuie was Agnes Matsepe. Die verhoorhof was bereid om haar getuienis te aanvaar slegs in sover as wat dit gestaaf is. Die verhoorhof was nie van mening dat sy doelbewus leuens vertel het nie, maar dat die traumatiese gebeure wat sy die nag deurgemaak het haar waarnemingsvermoë waarskynlik nadelig beïnvloed het en sy

11

probeer rekonstrueer uit wat sy by ander gehoor het en in baie opsigte fouteer. Volgens haar het Puleni in geselskap van ander met twee geleenthede voor dié waar Sempe ook by was, kom navraag doen oor, en Makubane se huis fynkam op soek na, Sesie. Om seweuur die aand van die 4de November kom die groep toe, waar eerste appellant haar geklap het, 'n mes teen haar keel gehou het, en haar gemaan het om saam te stem met wat Sesie vertel het - wat sv (scil uit vrees) wel gedoen het. Haar verhaal is in breë trekke dieselfde as Sempe s'n wat betref die verdere gebeure van die aand, hoewel sy haarself op besonderhede weerspreek het en soms onbeslis was in haar uitkenning van wie juis wat op 'n bepaalde stadium gedoen het. Waarvan sy nie afgewyk het nie, is dat dit eerste appellant was wat 'n mes teen haar keel gehou het in die huis en haar gebied het om "die waarheid" te erken, dat dit tweede appellant was wat by die saal die slagoffers met tou vasgebind het, en dat dit Teboho was wat petrol oor die twee gegooi het.

Na mediese getuienis oor die nadoodse ondersoeke en die

12

gebruiklike erkennings, is die staat se saak gesluit.

Eerste appellant het getuig dat hy 'n groep raakgeloop het die aand van 4 November 1992, van wie hy vemeem het dat 'n kind vermis is. Teboho Ramtuba en Zakes Fohlela was twee van die mense in die groep. Hy is saam met die groep na Makubane se huis en het ook ingegaan, maar kon nie juis sien wat daar gebeur het nie, vanweë die swak lig. Van daar is hy saam na die saal, waar hy vir die eerste keer Oompie Taje opgelet het. Wat daar gebeur het weet hy ook nie juis nie. Hy is saam uit agter die ander aan, en het buite gesien dat daar vlamme opstyg, in die middel van die groep. Hy is toe daar weg. Hy het niemand die aand aangerand nie. Dit is onnodig om sy getuienis te ontleed. Dit wemel van weersprekings, onwaarskynlikhede, en die sinsnede "ek weet nie". Hy is kamma saam uit blote nuuskierigheid, wat hy nie die minste poging aangewend het om te bevredig nie. Inteendeel kon hy netsowel sy oë toegeknyp en hande teen die ore gedruk het, so min het hy gehoor en gesien van wat aangegaan het. Hy kon aan geen rede dink waarom

13

Sempe of Agnes hom valslik sou impliseer nie. Sempe, sê hy, ken hy glad nie; en tweede appellant het hy nie die nag daar gesien nie.

Tweede appellant het egter erken dat hy wel die aand op die toneel was. Hy het die groep teëgekom. Hy het gehoor hulle praat van die vermiste kind. Hy het Teboho onder hulle gewaar, ook Oompie Taje en Zakes Fonlela. Hy is toe saam na Makubane se woning. Daar het Teboho en Zakes vir Agnes ondervra, en Teboho iets blink teen Agnes se keel gehou. Toe daag Makubane met 'n groep daar op. Daama is almal na die saal waar die kind haar storie vertel het en Teboho en Oompie Taje vir Makubane geklap het, en met die vuis geslaan het en later ook met die sambok. Hy vertel ook dat Makubane geval het, maar sê dit was Zakes wat hom bewusteloos getrap het en Sekgantso wat hom in die gesig geskop het. Zakes en ander het voorgestel dat mev Thube gehaal moet word, en Sempe het hulle na haar huis geiei. Sy is na die saal gebring. Teboho het haar met 'n sambok geslaan toe sy sê sy ken die kind glad nie. Dit was Teboho wat die twee vasgebind het,

14

Sekgantso wat die band oor haar kop gehang het, Teboho wat die vuur aangesteek het. Hy self het geskrik en is toe huistoe. Hy ken Sempe goed soos Sempe vir hom, stem saam dat hulle kleintyd al saam op skool was, beweer dat Sempe hom doelbewus belieg, maar kan aan geen rede dink waarom hy dit sou doen nie. Die besonderhede van wat hy gesien het, verander hy onder kruisverhoor om homself te probeer verder distansieer van die gebeure; en weerspreek homself op wesenlike punte; maar erken dat hy heeltyd teenwoordig was van voor Makubane se huis totdat die twee persone die beserings opgedoen het wat hul dood gekos het. Hy ontken dat hy enige aandeel daaraan gehad het. Hy was slegs toeskouer; en het glad nie eerste appellant daar gesien nie.

Dit is nie aan die hand gedoen dat Sempe 'n medepligtige was nie, of dat daar enige rede is om sy getuienis met enige agterdog te bejeën nie. Die verhoorhof was volgens sy versigtige uitspraak bewus daarvan dat Sempe soms op geringe aspekte fout gemaak het maar dit ook geredelik erken het. Die fyner detail van sy verhaal van wat daardie

15

aand gebeur het is nie van groot belang nie waar dit gemenesaak is dat die insidente waarvan hy vertel wel plaasgevind het: hy word grootliks gestaaf deur Agnes en nog sterker deur veral tweede appellant - behalwe, natuurlik, dat tweede appellant ontken dat dit hy is wat die dade waarvan hy getuig, gepleeg het. Tweede appellant het Sempe in die saal gesien en herken, en daar was geen rede waarom Sempe nie ook vir hom, en eerste appellant, sou herken het nie. Mnr Hussain wat namens beide appellante opgetree het moes noodgedwonge erken en het dit realisties gedoen, dat albei van hulle leuenagtige getuies was; en dat hy nie met oortuiging kon betoog dat daar rede bestaan vir hierdie hof om te vind dat die verhoorhof in enige opsig foute begaan het wat betref die skuldigbevindings nie.

Die verhoorhof het albei skuldig bevind op beide aanklagte op die grondslag van gemeenskaplike oogmerk, met opsetvorm dolus eventualis ten aansien van Mokabane (die eerste aanklag) en dolus directus ten aansien van mev Thube (die tweede).

16

Eerste appellant het geen vorige veroordelings nie. Tweede appellant het erken dat hy 'n paar geringe oortredings begaan het. Die Staat het toegegee, en verhoorhof aanvaar, dat dit onbenullighede is en geen verskil behoort te maak aan tweede appellant se vonnis vir die moorde nie. Hy moet, met ander woorde, ook as eerste oortreder beskou word.

Mnr Hussain het mnr S Mothibi geroep om te getuig. Hy is 32 jaar oud en sedert geboorte 'n inwoner van Kwakwatsi woonbuurt. Hy het vertel dat sy suster 'n paar jaar vroeër ook verdwyn het uit Kwakwatsi. Sy is ontvoer vir muti-doeleindes: haar lyk is in die veld gevind, met borste af- en tong uitgesny. Niemand is ooit tot verantwoording voor die gereg geroep vir haar verminking en dood nie. Sedertdien loop gevoelens hoog in die woonbuurt as enigiemand wegraak. Daar is nou gerugte in omloop dat mev Thube 'n heks was en dat oorledenes gedood is omdat 'n kind verdwyn het.

Die Staat roep toe ook 'n getuie, speurder-sersant Nzondo, wat al

17

sestien jaar op Koppies gestasioneer is. Hy het Sesie se ouderdom geplaas op 12 jaar, nie die 8 van Sempe se skatting nie. Nzondo se getuienis toon dat die gebeure van 4 November 'n hele aanloop gehad het, wat dalk sy oorsprong by Puleni eerder as by die kind gehad het. Hy verwys na Puleni as "die moeder", maar vertel ook dat Sesie 'n weeskind is wat deur welsynsbeamptes in pleegsorg geplaas is, eers by sekere Alina Ramafikeni. Daar het Sesie gedros. Sy is eers twee weke later op 'n kleinhoewe te Weltevrede gevind. Toe het sy by Puleni gaan bly. Op 'n dag het Puleni by hom kom aanklop om hulp om die kind te vind. Puleni het nie alleen gerapporteer dat Sesie weggeraak het nie, maar ook "in watter huis die kind versteek was". Sy het Mokabane se huis uitgewys. Nzondo het dit deursoek maar die kind nie daar gekry nie. Sesie is die daaropvolgende week ongedeerd gevind op 'n kleinhoewe en teruggebring na Kwakwatsi. Nzondo het haar ondervra en ook 'n onderhoud gevoer met die vrou wat haar op die kleinhoewe herberg gegee het. Dít was egter eers nadat Mokabane en mev Thube

18

reeds doodgemaak is. Nzondo is nie uitgevra na die inhoud van sy gesprek met Sesie nie, maar het, sonder beswaar, vertel watter inligting hy van die betrokke vrou gekry het: die kind het by haar werkplek gekom en om water gevra. Die kind was in die uniform van haar Koppies skool geklee, en dit was nie die eerste keer dat sy die kind gesien het nie; toe vra sy waarheen Sesie op pad is. Die kind het gesê dat sy op pad is na haar ouerhuis op Heilbron. Die kind het 'n week of meer daar op die kleinhoewe by haar vertoef voordat sy teruggeneem is na Kwakwatsi.

Onder kruisverhoor het sersant Nzondo bevestig dat gerugte die rondte doen dat mense, veral kinders, verdwyn en vir toorgoed-doeleindes gebruik word. Hy self het nie persoonlike ondervinding van soiets nie. Hy het bevestig dat mev Thube 'n sangoma was. Nadat hy in die eerste plek verduidelik het dat so iemand 'n heler, nie sover hy weet 'n heks is nie, was hy heeltemal onbeslis of ondeskundig daaromtrent:

19

"HOF: So 'n sangoma is nie 'n toordokter nie? — Daar is

nie 'n verskil nie.

So 'n sangoma en 'n toordokter is dieselfde persoon? — Dit

is so.

MNR BECKER: Maar sersant, daar is wel 'n onderskeid in

die gemeenskap tussen 'n towenaar en 'n toordokter, nie

waar nie? -- Dit is presies so.

'n Towenaar is die slegte een en die toordokter is die goeie

mens? -- Dit is so.

Die dogtertjie se eie ma is sy nie ook 'n sangoma nie,

Puleni? -- Ja, sover ek weet.

HOF: Is sy ... (tussenbei)? -- 'n Sangoma."

Eerste appellant was 23, tweede appellant 19 jaar oud, toe die betrokke moorde gepleeg is. Beide het maar tot standerd 5 op skool gevorder. Eerste appellant doen geleentheidswerk wanneer hy dit kan kry. Hy is een van vier kinders wat hul vader in 'n ongeluk verloor het toe eerste appellant maar elf jaar oud was. Tweede appellant het 'n tydelike pos gehad by die restaurant wat deel is van die kompleks bevattende die saal waar die oorledenes aangerand en aan die brand gesteek is. Sy salaris was R80 per maand, wat hy aan sy moeder

20

oorhandig het. Sy vader is ook etlike jare gelede dood. Hy is die tweede-jongste van tien kinders.

Dit was dalk sy geregverdigde afsku vir die barbaarse wreedheid van die manier waarop die groep reg in eie hande geneem het wat veroorsaak het dat die verhoorhof in sy benadering tot vonnis in etlike opsigte misgevat het. Brokkies van die getuienis deur die Staat voorgelê, is verbygekyk omdat die hof die appellante verkwalik het dat hulle nie self ter versagting getuig het nie. Die bevinding, byvoorbeeld, as verswarend, dat Sesie nie alleen ongedeerd teenwoordig was nie met die inkwisisie, maar verder dat daar "geen klagtes was dat die oorledenes haar sou mishandel of sleg behandel het nie", kyk verby Sempe se getuienis dat Sesie gesê het dat beide oorledenes haar na Koppies Dam geneem het, haar klere uitgetrek het en haar met drade teen 'n boom vasgemaak en daar gelos het. So ook misken die bevinding dat daar geen betroubare getuienis is dat Sesie se mense by die groep om hulp aangeklop het nie, Sempe se prima facie geregverdigde afleiding dat dit

21

wel die geval was, gegrond op die feit dat Puleni en die kind in

geselskap van die groep beweeg het reeds toe hulle by hom verbygekom

het. En, les bes, verwerping van die betoog dat hulle agtergrond 'n

versagtende faktor daarstel met beroep op S v MAJOSI AND OTHERS

1991 (2) SASV 532 (A) 541 f-g, toon 'n gebrek aan insig aangaande die

werklike inslag van daardie betoog. In die aangehaalde passasie het

Nienaber AR gesê:

"But one does not have to be leamed and sophisticated to appreciate that a murder which is committed during and as part of an anned robbery is particularly reprehensible."

Die kommentaar het klaarblyklik geen toepassing in die onderhawige geval nie. Die moraliteit van selfs ongesofistikeerde ongeletterdes veroordeel diefstal. Maar ongesofistikeerde ongeletterdes veroordeel nie noodwendig afrekening nie, buite die (gesofistikeerde) regstelsel, met die rower wie se misdaad hulle verfoei.

Dit alles slegs terloops. Misvatting deur die verhoorhof is nie meer 'n voorvereiste wat betref beoordeling van die gepastheid van die

22

doodvonnisse wat opgelê is nie. Hierdie hof moet 'n onafhanklike diskresie uitoefen om te bepaal of die doodvonnisse die enigste gepaste straf is vir hierdie twee jong mans vir die dade wat hulle gepleeg het. In die uitoefening van daardie diskresie is dit nou al geykte reg -

(a) dat die bewyslas die Staat beswaar om bo redelike twyfel moontlike
versagtende faktore wat uit die getuienis blyk, te weerlê. S v
NKWANYANA AND OTHERS 1990 (4) SA 735 (A), 744 A-C, W;

(b) dat die gemoedstoestand van die appellante nie objektief beskou
moet word nie, maar aan 'n subjektiewe norm gemeet moet word (S v
PRINS 1990 (1) SASV 426 (A) 431 g-h, 432 a-e;

(c) dat in die proses van strafbepaling waarby die riglyne gevolg word
wat saamgevat is in S v MLUMBI EN 'N ANDER 1991 (1) SASV 235
(A) 249h-250f, die hoofdoelstellings van bestrafGng steeds voor oë gehou
word.

Wat opval in die onderhawige geval, is dat geen motief bewys is of selfs deurskemer nie, wat daarop dui dat appellante hulle persoonlike

23

belange wou of kon bevorder nie. Daar was geen hebsug nie, of eie griewe wat hulle wou wreek, of iets dergeliks nie. (As daar 'n moontlikheid van jaloesie was, sou dit by Puleni wees, wat die bal aan die rol gesit het met aantygings wat sy wie-weet-waar aan gekom het, voor Sesie teruggekeer het; en nie by die appeUante nie; maar enige vermoede van jaloesie sou op blote spekulasie berus.) En Sidwell Mothibi se getuienis kon nie sommer uit die weg gevee word nie, soos die verhoorhof gedoen het, op grond dat hy nie kon voorgee om namens die appellante te getuig van geloof in toorkuns en die emosies wat gewek word wanneer kinders verdwyn nie. Dit skets die agtergrond waarteen die appellante se optrede beoordeel moet word. Vgl S v NCAPHAYI EN ANDERE 1990 (1) SASV 472 (A), 495 a-b; S v LUKHWA EN 'N ANDER 1994 (1) SASV 53 (A), 58 f-g. Objektief gesproke praat Mothibi natuurlik onsin, volgens modeme Westerse norme, en behoort die gemeenskap nie op hol te gaan met vermoedens van onheil sodra 'n kind soek raak nie. Maar sy getuienis dat dit wel gebeur is nie weerlê

24

nie. Inteendeel het sersant Nzondo beaam dat hoewel hy self geen kennis van soiets dra nie, gerugte die rondte doen "that people, especially children, are known to disappear and are used for muti purposes". Geen ander rede is aan die hand gedoen nie, waarom die Comrades teenoor Agnes en die oorledenes opgetree het soos hulle wel gedoen het, as dat hulle van mening was dat hulle dit in gemeenskapsbelang doen: om 'n sweer in die samelewing oop te steek. Vgl S v NETSHIAVHA 1990 (2) SASV 331 (A). Teen daardie agtergrond is die feit dat hierdie jong mans 'n armoedige, landelike, ongeskoolde agtergrond het, inderdaad tersaaklik. Dit is nie slegs moontlik nie, maar volgens die aangevoerde getuienis waarskynlik, dat hulle geglo het in die waarheid van Sesie se verhaal en met bose magte wou afreken op uitnodiging van Puleni wat nie deur die polisie gehelp is om die kind te vind nie. Die verhoorhof het opgemerk dat die feit dat albei tot ten minste standerd 5 skoolgegaan het "en deel uitmaak van 'n plattelandse gemeenskap waar daar blykbaar onder andere heel aktiewe jeugligas, waarvan hulle lede is, bestaan ... [en] die aktiewe

27

geheelbeeld deur die getuienis geskilder meen ek desondanks dat hierdie nie een van die uiterste gevalle is nie waar vergelding die ander oorwegings tersake by vonnisbepaling tot so 'n mate oorskadu dat gemeenskapsbelang verg dat hierdie twee jong mans die hoogste tol moet betaal. Afgesien van die moontlikheid dat hulle optrede te wyte was aan 'n verwronge verantwoordelikheidsin teenoor hul gemeenskap, dui hul jeug en gebrek aan (relevante) vorige veroordelings, dat hulle na alle waarskynlikheid rehabiliteerbaar is -vatbaar vir beskawing, opleiding. Bygeloof is nie 'n aangebore en onuitwisbare skeet nie. En hierdie hof kan sy afsku in die dade wat hulle gepleeg het te kenne gee met 'n andersoortige vonnis wat stewig genoeg is om hopelik ook as afskrikking vir ander te dien.

Die appèl van beide appellante slaag. Die doodvonnisse van elk op elk van die twee klagtes opgelê word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf op elke klag, die gevangenisstraf

28 op die twee klagtes in geval van elk samelopend te wees.

L VAN DEN HEEVER AR

STEM SAAM:

BOTHA AR ) EKSTEEN AR)

▲ To the top