S v Speelman (505/1992) [1994] ZASCA 21 (22 March 1994)


Saaknommer 505/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen:

FILAND SPEELMAN Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: SMALBERGER, EKSTEEN et HOWIE ARR

VERHOOR: 15 Maart 1994 GELEWER: 22 Maart 1994

UITSPRAAK

HOWIE, AR

2

HOWIE, AR

Appellant is in die Suidelike Rondgaande Plaaslike Afdeling te Swellendam aan verkragting en moord skuldig bevind. Hy is 15 jaar gevangenisstraf opgelê ten opsigte van die verkragting en op die moordklagte is hy ter dood veroordeel. Hy appelleer kragtens art 316A van Wet 51 van 1977 teen die doodvonnis. Die betoog deur sy advokaat (wat ook namens hom by die verhoor opgetree het) was dat lewenslange gevangenisstraf 'n gepaste vonnis was en dat die doodvonnis derhalwe nie die enigste gepaste straf was nie. Die volgende feite en oorwegings is in daardie verband ter sake.

Die oorledene was 'n 76-jarige weduwee. Sy het alleen gewoon in 'n huis in die dorpie Malgas langs die Breërivier in die distrik Swellendam. Op die middag van 28 Oktober 1991, soos haar daaglikse gewoonte was, het sy met haar klein hondjie gaan stap. Sy was ongeveer 70 treë

3

van haar huis af toe sy deur appellant, 'n 34-jarige man,

vasgegryp is. Hy het haar omtrent 50 treë gesleep en

gedra tot by 'n bosagtige toneel in 'n nabygeleë kloof waar

hy haar verkrag het. Daarna steek hy haar 12 houe met 'n

knipmes o a in die nek. Terwyl sy aldus beseer op die

grond lê, neem appellant 'n groot klip wat tussen 8 en 9

kilogram geweeg het. Hy gooi dit teen haar kop. Die

klip het haar so hard getref dat haar kop 'n duik van 2

tot 3 cm in die grond gemaak het. Appellant gooi toe die

klip ongeveer 6 meter daarvandaan in die bosse weg en

versteek die lyk deur 'n hoop droë takke daaroor te plaas.

Die oorledene is kort daarna dood aangetref.

Op 29 Oktober is appellant gearresteer. Die

dag daarna maak hy 'n verklaring aan 'n landdros waarin hy

hom soos volg uitlaat:

"Ek is vanaf Patryskraal met die fiets Malgas toe. Ek het die bike gaan wegsteek tussen die bosse. Ek is tussen die bosse af en het die vrou gekry. Ek vra haar toe wat sy soek. Sy sê sy

4

kyk die blomme. Ek het haar gegryp en tussen die bosse ingesleep. Ek het haar gesteek met die mes, toe ek haar klaar gesteek het met die mes toe gooi ek haar met die klip op die kop. Ek is toe oor na Lemoentuin toe na 'n ander vriend van my."

Op 31 Oktober is h nadoodse ondersoek deur 'n spesialis in forensiese geneeskunde uitgevoer. Hy vind veelvuldige kneusings op die lyk, veral op die hande, knieê, arms en in die vagina; agt gebreekte ribbes; 'n ingedrewe skedelfraktuur met gepaardgaande breinlaserasie; en steekwonde van die nekaar en -slagaar. Na sy mening was die hoof- en nekbeserings die oorsake van dood en kon die ribfrakture die gevolg daarvan gewees het dat iemand die oorledene om die lyf met geweld vasgedruk het.

Appellant het by die verhoor skuldig gepleit op

albei aanklagte. h Geskrewe pleitverduideliking is deur

sy advokaat opgestel en ingehandig. Dit lees soos volg:

"2. AANKLAG 1 (VERKRAGTING)

2.1 Ek erken dat ek op die plek en gedurende die tyd vermeld


5

in die klagstaat met die oorledene, Johanna van Heugel Joubert Groenewald, 'n vroulike persoon, geslags-

gemeenskap gehad het. 2.2 Ek erken ook dat ek sonder

haar toestemming met haar geslagsgemeenskap gehad het.

3. AANKLAG 2 (MOORD)

3.1 Ek erken dat ek op die plek

en gedurende die tyd vermeld in die klagstaat die oorledene Johanna van Heugel Joubert Groenewald verskeie male met h mes gesteek het en haar verskeie male oor die kop met 'n klip geslaan het as gevolg waarvan sy oorlede is.

  1. Ek besef dat wat ek gedoen het verkeerd was en voel nou baie spyt daaroor.

  2. Ek wou nie die oorledene doodmaak nie maar het besef dat sy kan doodgaan toe ek haar met die mes gesteek het en met die klip geslaan het.

  3. Ek het ten spyte van die besef dat sy kan doodgaan voortgegaan om haar aan te rand.

6

  1. Ek was tydens die voorval dronk en het onmiddellik voor die voorval 'n bottel Virginia wyn uitgedrink.

  2. Ek het die dag onder h bos gesit en gewag dat dit moes ophou reën toe die

oorledene by my verby geloop het. Ek het haar gevang, haar klere uitgetrek en haar verkrag.

  1. Ek kon egter nie daarin slaag om haar heeltemal te penetreer nie.

  2. Ek het die oorledene daarna aangerand."

Appellant het geen getuienis voor die verhoorhof afgelê nie.

Na skuldigbevinding is 20 vorige veroordelings teen hom bewys. Die besonderhede daarvan blyk uit die hieropvolgende uiteensetting gebaseer op die inhoud van die tersaaklike SAP 69 vorms -

19.8.1981 - Betreding - R30 of 30 dae

gevangenisstraf.

7

19.8.1981 - Aanranding met die opset om ernstig te

beseer - mes - 2 klagtes - saamgeneem vir doeleindes van vonnis - 8 maande gevangenisstraf waarvan 4 maande voorwaardelik opgeskort is.

17.5.1982 - Huisbraak met die opset om te steel en

diefstal - 6 maande gevangenisstraf. 17.5.1982 - Aanranding met die opset om ernstig te

beseer - stok.

Huisbraak met die opset om te steel en

diefstal - 3 klagtes.

6 maande gevangenisstraf op elk van

die 4 aanklagte. 17.5.1982 - Aanranding met die opset om ernstig te

beseer - yster - 6 maande

gevangenisstraf.

8

26.5.1982 - Opgeskorte vonnis van 19.8.1981 in

werking gestel.
5.7.1982 - Ontvlugting - 12 maande gevangenis-

straf.

  1. - Onvoorwaardelik vrygelaat.

  2. - Huisbraak met die opset om te steel en

diefstal - 7 klagtes. Huisbraak met
die opset om te steel - 3 klagtes.
12 maande gevangenisstraf op elkeen
van die 10 klagtes - gelas dat 4
maande van elk van klagtes 2 tot 10
moet saamloop met die vonnis op
klagte 1.
17.8.1991 - Onvoorwaardelik vrygelaat.

Die verhoorhof (Tebbutt R en assessore) het dit verswarend bevind dat die moord 'n wrede en gevoellose aanval op h bejaarde, weerlose vrou behels het; dat

9

appellant ook op gevoellose wyse probeer het om die lyk weg te steek; dat hy soveel vorige veroordelings gehad het, waaronder vier vir geweldsmisdade; dat hy met direkte opset die oorledene vermoor het; en dat, te oordeel na sy bekentenis, hy op die betrokke dag daarop uit was om h misdaad te pleeg.

Die enigste versagtende omstandighede wat bevind is, was die moontlike geringe inname van drank deur appellant vroeër die dag; die afwesigheid van vooraf beplanning van die aanval op die oorledene; appellant se pleit van skuldig; en die beweerde spyt waarna in sy pleitverduideliking verwys is.

Appellant se advokaat het nie aangevoer dat die verhoorhof enigsins met betrekking tot daardie bevindings gefouteer het nie. Hy het ook nie betoog dat daar enige ander versagtende faktore was nie. Hy het toegegee, myns insiens volkome tereg, dat in die lig van appellant se

10

kriminele geskiedenis daar geen vooruitsigte van sy hervorming was nie, maar nogtans aan die hand gedoen dat lewenslange gevangenisstraf aan die vereistes van afskrikking, voorkoming en vergelding sou voldoen. h Wesenlike gedeelte van die breê' gemeenskap mag heel moontlik, aldus die betoog, lewenslange gevangenisstraf as doeltreffende afskrikking en vergelding beskou.

Na my mening is die vraag egter of lewenslange gevangenisstraf in die besondere omstandighede van die onderhawige geval wel voldoende afskrikkings- en vergeldingsuitwerking in die oê van die gemeenskap sou hê.

In daardie verband toon ontleding van die oorkonde heel duidelik aan dat die versagtende omstandighede soos bevind minimale gewig kan dra. Beskonkenheid en berou word in die pleitverduideliking beweer. Sodanige bewerings is tereg deur die Verhoorhof in ag geneem al is daardie bewerings nie deur appellant in

11

die getuiebank herhaal nie. Maar die feit bly staan dat appellant se versuim om te getuig die afleiding regverdig dat hy nie bereid was om die Verhoorhof in sy vertroue te neem nie. Die gevolg was dat die Hof nie in staat was om enige indruk van hom as persoon te kry nie en dat die Staat van die geleentheid ontneem is om sy bewerings aangaande beskonkenheid en berou behoorlik te toets.

Wat sy pleit van skuldig aanbetref, is dit net so waarskynlik te wyte aan die afwesigheid van enige moontlike, selfs tentatiewe, verweer as wat dit met opregte en openhartige berou strook. En ondanks die gebrek aan getuienis van vooraf beplanning het appellant nietemin voldoende geleenthede gehad om te besin en hom na sy heel eerste vasgryp van die oorledene van verdere misdadige optrede te weerhou. Daar is geen aanduiding in die getuienis dat hy enigsins voor die tyd aan haar bekend was nie en selfs nadat hy begin het om haar weg te sleep

12

blyk dit nie dat sy 'n redelike geleentheid gekry het om hom betroubaar waar te neem nie. Hy kon haar dus op 'n vroeë stadium gelos het.

Aan die ander kant is daar verdere verswarende faktore waarna verwys moet word en wat onteenseglik by wyse van noodwendige afleiding uit die bewese feite bevind kan word. Die eerste is appellant se oogmerk toe hy sy aanval op die oorledene in die heel eerste instansie gerig het. Daar is geen aanduiding dat hy haar van iets wou beroof of dat sy hom op enige wyse uitgetart of geprovokeer het nie. Die enigste redelike afleiding is dat sy motief vir die aanval was om haar te verkrag. Dan, wat sy oogmerk na die verkragting betref, is dit die enigste redelike afleiding dat hy haar vermoor het om sodoende uitkenning en vervolging te vermy. Derdens, was die slagoffer besig om heel onskuldig op 'n stil en rustige publieke plek te ontspan toe appellant op haar privaatheid

13

en liggaamlike integriteit inbreuk gemaak het.

Soos in die tersaaklike vorige beslissings van hierdie Hof bevind, is die doodvonnis nie die enigste gepaste straf bloot omdat die verswarende faktore swaarder as die versagtende faktore weeg nie of selfs dat daar geen versagtende faktore van enige wesenlike belang is nie. Dit is die totaliteit van al die tersaaklike faktore wat die antwoord moet bied.

In die onderhawige geval is daar, soos reeds opgemerk, weliswaar geen versagtende faktore wat enige wesenlike gewig dra nie. Boonop gaan dit hier nie net oor 'n afgryslike aanval op 'n onskuldige, weerlose bejaarde vrou wat, soos sy geregtig was, haar normale gang gegaan het nie. Dit gaan hier ook oor 'n aanval gerig vir die boosste motiewe deur 'n persoon wie se persoonlike geskiedenis hom as van bose geaardheid bestempel. Dit synde die geval, weeg die behoefte aan 'n vonnis met

14

voldoende afskrikkings- en vergeldingstrefkrag so swaar in hierdie saak dat die doodstraf die enigste gepaste vonnis is.

Die appèl word derhalwe van die hand gewys.

C T HOWIE, AR

Smalberger AR ) Eksteen AR ) Stem saam

▲ To the top