S v Kubheka (45/1993) [1994] ZASCA 25 (24 March 1994)


/CCC SAAK NO: 45/93

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

PATRICK KUBHEKA APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: NESTADT, VAN DEN HEEVER ARR et MAHOMED Wnde AR

VERHOORDATUM: 22 MAART 1994

LEWERINGSDATUM: 24 MAART 1994

UITSPRAAK NESTADT, AR:

Die appellant is in die Streekhof in Germiston aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal

2

skuldig bevind. 'n Vonnis van ses jaar gevangenisstraf

waarvan twee jaar voorwaardelik opgeskort is, is aan hom

opgelê. Op appèl na die Witwatersrandse Plaaslike

Afdeling is die vonnis verminder na vier jaar

gevangenisstraf waarvan die helfte opgeskort is.

Hierdie verdere appèl teen vonnis dien voor ons met

verlof van hierdie Hof.

Die feite van die misdaad kan kortliks saamgevat word. Die appellant en twee ander het op 17 Mei 1991 by die huis van die klaagster ingebreek en items ter waarde van tussen R9 000 en R10 000 gesteel. Toegang is tot die huis verkry deur 'n ruit van 'n kamer in die huis te breek.

Die Verhoorhof het tereg daarop gewys dat die misdaad 'n ernstige een was. Dit is klaarblyklik vooraf beplan. Die huis is in wanorde gelaat. Die betrokke misdryf kom dikwels voor. Soos alreeds

3

aangedui, is 'n groot hoeveelheid goedere gesteel.

Normaalweg verg die belange van die gemeenskap dat 'n stewige vonnis vir hierdie tipe misdaad opgelê word, selfs waar dit deur 'n eerste oortreder gepleeg is. Die huidige geval is egter 'n uitsondering. Die appellant is nie net 'n eerste oortreder nie, hy is ook 'n jeugdige. Hy was slegs sestien jaar en vyf maande oud toe hy die misdaad gepleeg het. Hy was nog maar 'n skoolkind (in standard agt) wat op die betrokke dag stokkies gedraai het. In hierdie omstandighede was 'n vonnis van gevangenisstraf onvanpas en deur dit te vel (boonop sonder enige voorvonnisverslag) het die landdros nie sy diskresie behoorlik uitgeoefen nie. In beginsel is dit onwenslik om kinders bloot te stel aan die nadele van gevangenisstraf (kyk S v Theron 1986(1) SA 884(A) te 897 G; Hiemstra Suid-Afrikaanse Strafproses, 5e uitgawe 713). Die hof a quo (wat besef

4

het dat die appellant waarskynlik beïnvloed is of 'n mindere deelnemer was) het ook na my mening gefouteer deur hierdie strafvorm in stand te hou.

Bygevolg is ons geregtig om die vonnis tersyde te stel en dit te vervang met een wat direkte gevangenisstraf vermy. Daar is verskillende opsies. Die vernaamste is (i) lyfstraf; (ii) uitstel van vonnis (kragtens art 297 van Wet 51 van 1977); (iii) die verskillende keuses wat art 290 bied; (iv) korrektiewe toesig kragtens art 276(1)(h); of (v) gevangenisstraf wat opgeskort word. Ons het al hierdie moontlikhede oorweeg en tot die slotsom geraak dat laasgenoemde in die omstandighede van die onderhawige geval gepas is. So 'n vonnis hou die voordeel in dat die saak wat lank sloer onmiddellik afgehandel kan word sonder terugverwysing vir die verkryging van 'n proef-of korrektiewe beampte se verslag. Appellant se moeder.

5

wat hom by die verhoor bygestaan het, het getuig dat hy 'n gehoorsame kind is. Daar is dus rede om te glo dat hy die geleentheid hom daardeur gegee, sal benut.

Die appêl slaag. Die appellant se vonnis word tersyde gestel en met die volgende vervang: "Agtien maande gevangenisstraf wat vir drie jaar opgeskort word op voorwaarde dat die appellant nie skuldig bevind word nie aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal, gepleeg gedurende die tydperk van opskorting."

H H NESTADT, AR

VAN DEN HEEVER AR )

) STEM SAAM MAHOMED Wnde AR )

▲ To the top