S v Human (149/1992) [1994] ZASCA 33 (25 March 1994)


Saaknommer 149/92 /al

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
PIET HUMAN Appellant

en
DIE STAAT Respondent

CORAM: JOUBERT,

F H GROSSKOPF ARR et
VAN COLLER WND AR
DATUM VAN VERHOOR : 11 MAART 1994

DATUM VAN UITSPRAAK : 25 MAART 1994

UITSPRAAK

VAN COLLER WND AR/.

2

VAN COLLER WND AR :

Die appellant is in die landdroshof van Wynberg skuldig bevind aan oortreding van Artikel 2(a) van Wet 41 van 1971 deurdat hy handel gedryf het in 683 gram dagga. Hy is op 12 September 1990 gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf. 'n Tweede beskuldigde wat saam met die appellant op dieselfde aanklag tereg gestaan het, is ook skuldig bevind en gevonnis tot ses jaar gevangenisstraf waarvan die helfte voorwaardelik vir 'n tydperk van vyf jaar opgeskort is. Op appél na die Provinsiale Afdeling Kaap die Goeie Hoop is die skuldigbevinding bekragtig, maar die appellant se vonnis is tersyde gestel en vier jaar gevangenisstraf waarvan twee jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is, is opgelê. Die hof a quo het aan die appellant verlof verleen om teen die skuldigbevinding na hierdie Hof te appelleer.

3 Die gebeure wat aanleiding gegee het tot die aanklag teen die appellant en beskuldigde 2 het plaasgevind op 10 Maart 1989 in die Pollsmoor Gevangenis. Die appellant was 'n bewaarder by die gevangenis en beskuldigde 2 'n gevangene. Dit was die Staat se saak dat die appellant 'n drasak wat dagga bevat het deur 'n selvenster aan beskuldigde 2 oorhandig het wat deur ene Jannie Koopman, ook 'n gevangene, verkoop sou word.

Dit is gemene saak dat die appellant en twee ander bewaarders om 23:45 op 9 Maart 1989 aan diens gegaan het in die gevangenis. Die appellant sou diens verrig by E-seksie, sersant C,L. Brown by c-seksie en bewaarder Opperman by D-seksie. 'n Staatsgetuie, adjudant-offisier G.C.J. Visser wat na veiligheid moes omsien, was ook die nag aan diens. Dit is verder gemene saak dat beskuldigde 2 die betrokke nag saam met ander gevangenes insluitende twee Staatsgetuies, Simon Petrus en

4 Jannie Koopman, in sel 101 van C-seksie geslaap het.

Simon Petrus en Jannie Koopman het getuig dat hulle die appellant die nag by die sel se venster gesien het. Hy het 'n wit drasak deur die venster aan beskuldigde 2 gegee. Aan 'n ander gevangene, ene Kong, is twee houers wat koejawelsap bevat het, oorhandig. Volgens Petrus was daar brandewyn by die sap en volgens Koopman whiskey. In die drasak was 10 deurskynende plastiek houers wat dagga bevat het. Daar was verder ook drie "pokes" wat ook dagga bevat het. Volgens die getuienis is 'n "poke" dagga wat op so 'n wyse in koerantpapier toegevou is dat dit in ' n sekere deel van die liggaam versteek kan word. Beskuldigde 2 het die dagga in 'n pajamabaadjie toegebind. Dle appellant het later teruggekeer en die pajamabaadjie en 'n stoorkamersleutel, wat in Koopman se besit was, is weer deur die selvenster aan hom oorhandig.

5 Koopman kon deur die venster sien dat die appellant by die stoorkamer ingaan en daarna het hy weer teruggekeer en die sleutel aan beskuldigde 2 gegee. Koopman het in die stoor gewerk en hy het getuig dat hy gedurende die dag dagga verkoop het. Volgens Petrus was die ligte in die gang aan gewees, maar Koopman het getuig dat die ligte af was, maar dat die ligte in die sel aan was.

Adjudant-offisier Visser het getuig dat hy al 25 jaar werksaam is by die Pollsmoor Gevangenis. Om ongeveer 00:05 die betrokke nag is hy ontbied na sel 108 van C2-seksie. Op pad daarheen en net nadat hy om 'n hoek in die gang gekom het, het hy die appellant ongeveer twee meter vanaf sel 101 se venster aangetref. Hy was ongeveer vyf meter van die appellant. Toe die appellant hom sien, het hy in die gang af begin hardloop en is met die trappe op na die volgende vloer. Volgens Visser was daar 'n buislig by die hoek van die gang en hy kon sien

6 dat die appellant 'n sak by hom gehad het. By sel 108 is aan hom gesê om sel 101 te deursoek. Aangesien daar min bewaarders op nagdiens was, het hy besluit om dit die oggend om 06:30 te doen. Om 05:45 het hy 'n berig ontvang om nie die sel nie, maar wel die klerestoor te deursoek. Hy is, vergesel van 'n majoor, na sel 101 waar hy die stoor se sleutel van Koopman ontvang het. Terwyl hulle nog besig was om die stoor te deursoek, het Simon Petrus daar opgedaag en aan hom gesê om in 'n wit possak in die hoek te kyk. Hy het 'n pajamabaadjie wat toegeknoop was daarin aangetref. In die baadjie het hy 10 banksakkies met dagga en drie "pokes" dagga gevind. Die dagga is na die hoof van die gevangenis geneem en die polisie is in kennis gestel.

Die appellant het self getuig en hy het sersant Brown en bewaarder Opperman as getuies geroep. Die appellant het getuig dat hy om 23:45

7 aan diens gerapporteer het. Hy, Brown en Opperman is om 23:55 na hul onderskeie seksies. Hy moes sy rondtes doen en het ongeveer 10 tot 15 minute by E-seksie gebly. Daarna het hy afgegaan na Opperman se kantoor by D-seksie waar Brown ook kort daarna aangekom het. Hulle is 04:00 uitmekaar en hy is terug na E-seksie. Om 04:00 het adjudant-offisier Van Wyk vergesel van Brown en Opperman na E-seksie gekom om die gevangenes wat die dag hof toe moes gaan, te kom haal. Nadat hulle klaar was by E-seksie is hulle na die ander seksies en die werk was so teen 06:00 afgehandel. Nadat hulle toegesien het dat die gevangenes by ontvangs ingaan, is hy terug na E-seksie. Die dagdienslede het om 06:30 aan diens gekom en hy het om 08:00 van diens gegaan. Die appellant het ontken dat hy gedurende die vroeë oggendure alleen by sel 101 was. Hy het ook ontken dat hy enigiets aan die gevangenes oorhandig het. Dit blyk uit sy

8

getuienis dat hy en Visser nie goed met mekaar oor die weg gekom het nie, want Visser en ander bewaarders het op 'n vorige geleentheid na dagga in sy motor gesoek. Alhoewel hy beskuldigde 2 ken, het hy nie geweet in watter sel hy slaap nie. Dit blyk ook uit sy getuienis dat terwyl hy by Opperman se kantoor was hulle gesels en kaart gespeel het. Onder kruisverhoor het die appellant die verloop van die gebeure ietwat gewysig en getuig dat adjudant-offisier Van Wyk om 04:00 die oggend die selle saam met hom, Brown en Opperman ontmeester het. Daarna was hy, Brown en Opperman weer saam by laasgenoemde se kantoor totdat Van Wyk weer om 05:00 gekom het om die gevangenes wat hof toe moes gaan uit die selle te haal.

Sersant Brown het getuig dat nadat hy sy rondtes gedoen het, hy so tussen 10 en 15 minute na 00:00 by D-seksie gekom het en dat hy, die appellant en Opperman daar saam was tot ongeveer

9 03:45. Adjudant-offisier Van Wyk het opgedaag en hulle is na E-seksie om die selle te ontmeester. Daarna is dit ook gedoen by D- en C-seksies. Adjudant-offisier Van Wyk is toe daar weg en die drie van hulle het weer by D-seksie bymekaar gekom waar hulle kaart gespeel het. Later het Van wyk hulle weer by E-seksie ontmoet en is die gevangenes wat hof toe moes gaan by E-, D- en C-seksies uitgehaal. Hulle is na die kombuis geneem waar hy, die appellant en Opperman toesig gehou het terwyl die gevangenes geëet het. Daarna het hulle die gevangenes na ontvangs geneem en is hulle terug na hul onderskeie seksies totdat die dagdienslede oorgeneem het.

Bewaarder Qpperman se getuienis aangaande die gebeure die betrokke nag het ooreengestem met dié van Brown. Hy het ook getuig dat voordat hulle in sy kantoor saamgekom het, hy ook eers sy rondtes in D-seksie gedoen het. Volgens sy getuienis het

10

Brown ongeveer 00:10 na sy kantoor gekom en die appellant het ongeveer twee minute voor Brown daar aangekom.

Beskuldigde 2 het getuig dat hy wel saam met Simon Petrus en Jannie Koopman in sel 101 was. Hy het ontken dat hy enigiets van buite ontvang het en het getuig dat hy teen 00:00 al geslaap het. Hy het ook ontken dat hy enigiets aan iemand buite die sel gegee het.

Beskuldigde 2 het 'n medegevangene, Ferdinand Jacobs, wat ook in sel 101 was as getuie geroep. Hy het getuig dat hy die eerste keer bewus geword het dat daar ' n probleem was toe dagga in die klerestoor aan hom gewys is. Hy het getuig dat hulle na ete gaan slaap het en dat daar niks gebeur het nie.

Die landdros het die getuienis van die Staatsgetuies aanvaar en dié van die appellant, beskuldigde 2 en hul getuies verwerp. Dit blyk uit

11

sy uitspraak dat hy Koopman as 'n medepligtige beskou het en sy getuienis met die versigtigheidsreël voor oë oorweeg het. Hy het egter bevind dat Koopman 'n baie goeie getuie was wat sy getuienis openhartig en spontaan afgelê het. Die landdros sê in sy uitspraak dat Petrus ook ' n baie goeie indruk gemaak het en dat hy en Koopman nie hul getuienis kon opgemaak het nie. Verskeie aspekte word na verwys ter ondersteuning van hierdie menlng. Wat Visser se getuienis betref, meld die landdros in sy uitspraak dat Visser al dikwels voor hom getuig het en dat hy op geen stadium die indruk gekry het dat hy sy getuienis aandik of probeer om 'n saak teen iemand te fabriseer nie. Die landdros sê in sy uitspraak dat die appellant 'n baie swak indruk gemaak het, dat hy vrae ontduik het en huiwerig was om belangrike vrae te antwoord. Hy verwys ook na wat hy as wesenlike weersprekings in die appellant se

12

getuienis bestempel en na aspekte waar sy getuienis bots met die weergawe van sy twee getuies. Wat beskuldigde 2 se getuienis betref, verwys die landdros na verskillende weersprekings en aspekte waarop sy getuienis met dié van Jacobs verskil.

Mnr. La Grange, namens die appellant, het aangevoer dat daar soveel weersprekings en inherente onwaarskynlikhede in die getuienis van Petrus en Koopman is dat die landdros fouteer het om hul getuienis te aanvaar. Ek ag dit nie nodig om al hierdie aspekte te behandel nie. Afgesien daarvan dat die weersprekings waarna verwys is nie wesenlik is nie, is daar geen aanvaarbare getuienis wat die verloop van die gebeure soos geskets deur Petrus en Koopman weerspreek nie en daar bestaan geen rede waarom dit nie aanvaar kan word nie. Die verskille in hul getuienis aangaande die tyd wat verloop het tussen die besoeke aan die sel deur die persoon wat die dagga gebring het, raak nie die

13 kerngeskil, naamlik of die verskaffer wel die appellant was, nie. Ek kan ook nie saamstem met die argument dat Petrus en Koopman se getuienis 'n eienaardige en onsinnige verloop van gebeure die betrokke nag openbaar nie. Van die persone in die sel was betrokke by die daggahandel en dit is geensins onwaarskynlik dat hulle wou sien hoeveel dagga beskikbaar gemaak is nie. Dit verduidelik waarom die dagga eers afgegee is en later weer in ontvangs geneem en in die stoorkamer geplaas is.

Mnr. La Grange het ook die aanvaarding van Visser se getuienis deur die landdros aangeveg. Visser se getuienis bied stawing vir die getuienis van Petrus en Koopman en sou sy getuienis nie aanvaar kan word nie, mag dit moeilik wees, so is betoog, om 'n skuldigbevinding slegs op die getuienis van Petrus en Koopman te regverdig. Daar is op gewys dat Koopman en Petrus albei betrokke was by die smokkel van dagga in die gevangenis en

14

dat daar baie redes kan bestaan waarom hulle die skuld op 'n onskuldige bewaarder sou pak. Visser se getuienis is op twee grondslae aangeveg. Dit is eerstens aangevoer dat volgens alle aanduidings Visser die appellant slegs tydens sy eerste besoek aan die sel kon opgemerk het. Visser moes 'n beriggewer in sel 108 gehad het en volgens Petrus en Koopman se getuienis is dit duidelik dat die persoon wat die dagga deur die venster aangegee het nie lank by die sel kon vertoef het nie. Daar sou, aldus die argument, hoegenaamd nie genoeg tyd gewees het vir Visser om 'n boodskap van sy informant in sel 108 te kry, na die selle te gaan en nog steeds betyds te wees om die appellant voor die sel te vind nie. Ek kan nie hiermee akkoord gaan nie. Die moontlikheid bestaan dat die beriggewer reeds voor die oorhandiging daarvan geweet het dat dagga na 00:00 gelewer sou word en dat die berig nie gestuur is toe die verskaffer by

15

die venster opgedaag het nie, maar reeds voor die tyd. Die ontmoeting met die verskaffer kon dus bloot toevallig gewees het. Visser is nie aangaande hierdie aspek gekruisvra nie en dit is nie betwis dat 'n bewaarder wel by die sel was nie. Dit is slegs die korrekte identifikasie wat van belang is en wat dan ook die tweede grondslag is waarop die aanvaarding van Visser se getuienis aangeveg is. Dit is aangevoer dat hy nie voldoende lig en geleentheid gehad het om die persoon wat hy gesien het, te kon identifiseer nie. Dit is so dat Visser die persoon slegs vir 'n kortstondige oomblik gesien het en dat toe die persoon weghardloop hy slegs sy rugkant kon sien. Die getuies het ook met mekaar verskil aangaande die aard van die beligting in die gang, maar dit is duidelik dat daar wel lig in die gang was. Visser het die appellant goed geken en hy was baie naby hom, ongeveer vyf meter. Ek is nie oortuig dat die

16 landdros fouteer het om Visser se getuienis dat die persoon wat hy gesien het die appellant was, te aanvaar nie.

Dit is laastens nodig om kortliks na een verdere argument van mnr. La Grange te verwys. Dit is aangevoer dat indien Visser korrek is dat dit wel die appellant was wat hy gesien het, die weergawe van Petrus en Koopman aangaande wat later die nag plaasgevind het al meer onwaarskynlik word. Die appellant was reeds onder verdenking en 'n mens sou dus verwag dat nadat Visser hom by die sel gewaar het hy van die sel sou wegbly, maar nogtans keer hy terug na die sel. Dit is onwaarskynlik, aldus die argument, dat iemand wat feitlik op heter daad betrap is deur 'n persoon wat hom reeds verdink op so 'n onverskillige wyse sou optree, Ek kan mnr. La Grange ook wat hierdie argument betref nie gelyk gee nie. Nadat die appellant deur Visser gesien is, moes hy in elk geval van die dagga

17

ontslae raak en kon hy dus nie anders as om met die proses voort te gaan nie. Ek het ook reeds daarop gewys dat Petrus en Koopman se weergawe nie onwaarskynlik is nie en dat daar geen rede bestaan waarom dit nie aanvaar kan word nie.

Dit dien ten slotte vermeld te word dat volgens die getuienis slegs die appellant óf Brown óf Opperman die persoon kon wees wat die dagga verskaf het. visser se getuienis bied stawing vir die getuienis van Petrus en Koopman dat dit die appellant was en hierdie getuienis is deur die landdros aanvaar. Dit is na my mening nie aangetoon dat die landdros enige wesenlike mistasting begaan het of dat sy bevinding verkeerd is nie. Die appèl kan dus nie slaag nie.

18 Die appèl word afgewys.

A P VAN COLLER WAARMEMENDE APPèLREGTER

JOOBERT AR ]

STEM SAAM F H GROSSKOPF AR ]


▲ To the top