Minister van Wet en Orde v Gedula (8/1992) [1994] ZASCA 4 (8 March 1994)


LL Saak No 8/1992 '

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

Insake die appèl van:

DIE MINISTER VAN WET EN ORDE Appellant

teen

SOPHIE GEDULA Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, GOLDSTONE, VAN DEN HEEVER, HARMS ARR en NICHOLAS Wnd AR

VERHOORDATUM: 17 FEBRUARIE 1994 LEWERINGSDATUM: 8 MAART 1994

UITSPRAAK VAN HEERDEN AR:

2

Gedurende die middag van 10 November 1985 het onluste ontstaan in Pabalello, 'n woonbuurt van Upington. Dié het sporadies deur die aand en nag voorgekom. Omstreeks 7.30 die volgende oggend was lede van die S A polisie op patrollie in die woonbuurt. Hulle het in 'n Landrover gery. Die voertuig het aan die kante en agter skietgate gehad. Daardeur kon persone in die Landrover na buite skiet. Tydens die patrollie was sersant Hough een van vier polisiemanne wat agter in die Landrover gesit of gestaan het. Hough was in besit van 'n haelgeweer wat vroeër die oggend tot sy beskikking gestel was met die opdrag dat onder bepaalde omstandighede geskiet kcm word, maar slegs met patrone bevattende donshael. Terselfdertyd is twee sakkies patrone aan Hough oorhandig. Een was veronderstel om patrone met donshael, en die ander patrone met sogenaamde SSG korrels, te bevat. Hough het 'n patroon uit een van

3 die sakkies gehaal, gesien dat dit donshael bevat het, en toe die geweer met patrone uit daardie sakkie gelaai. Hy het moontlik ook die tweede en derde patrone geïnspekteer, maar nie al die patrone waar-mee hy die geweer gelaai het nie. Hy het homself dus nie visueel vergewis dat die laaste patroon, wat later deur hom afgevuur is, nie SSG korrels bevat het nie.

Op 'n stadium het die Landrover in 'n suidoostelike rigting in Kingstraat gery. (Gerief-likheidshalwe word voortaan veronderstel dat dit reg suid beweeg het.) Op daardie tydstip het 'n groep van ongeveer 100 mense, hoofsaaklik jeugdiges, in die omgewing van die aansluiting van Westonstraat by Kingstraat ("die kruising") gesing en gedans. Met die naderkoms van die Landrover het hulle uitmekaar gespat en het hulle, of sommige van hulle, by persele in Kingstraat suid van die kruising ingevlug. Soos

4 die Landrover verbybeweeg het, is dit toe uit persele aan beide kante van Kingstraat met klippe bestook.

Die tweede en derde persele suid van die kruising en aan die oostekant van Kingstraat was onderskeidelik persele 307 en 306. Toe die Landrover ongeveer 30 meter verby perseel 307 was, het Hough 'n skoot in 'n noordelike rigting gevuur. Op daardie stadium het 'n 13-jarige seun, Desmond, by 'n hek-paal in die heining van daardie perseel gestaan. Minstens twee van die korrels - wat later SSG korrels geblyk te gewees het - het hom getref. Een daarvan het sy rugstring beskadig met die gevolg dat hy die gebruik van sy ledemate verloor het. 'n Ander jeug-dige, Mac, is ook getref. Hy was toe in die omgewing van perseel 306.

Voortspruitende uit bostaande gebeure het die respondente in haar persoonlike hoedanigheid, maar vernaamlik in haar hoedanigheid as voog van

5 Desmond, in die Noord-Kaapse Afdeling 'n aksie vir skadevergoeding teen die appellant ingestel. Sy het onder andere beweer dat die skut onregmatiglik en opsetlik of nalatig vir Desmond verwond het, en het besonderhede van die skade wat sy en Desmond sou gely het, verstrek. Hierdie bewerings is ontken deur die appellant wat ook die aangevoerde skadeberokkening in geskil gestel het. Hoewel nie betwis is dat die skut binne die omvang van sy diensbevoegdhede as polisie-beampte opgetree het nie, is 'n aantal alternatiewe verwere geopper. Slegs twee van dié verg tans nog vermelding. Die eerste was dat die skoot afgevuur is in die uitvoering van die skut se pligte met die bedoeling om die handhawing van die openbare orde te verseker, en dat die appellant gevolglik weens die bepalings van regulasie 11 van R121 van 1985 van aanspreeklikheid gevrywaar was. Die tweede was dat die skut "die pligte en bevoegdhede opgelê en verleen

6 kragtens artikel 5 van die Polisiewet ... nagekom het in besonder ter bewaring van die binnelandse veiligheid in die Republiek van Suid-Afrika en/of die handhawing van wet en orde".

Die geding is eers deels deur Van Rhyn RP verhoor. Nadat hy om gesondheidsredes uit aktiewe diens onthef is, is die aangeleentheid de novo deur Steenkamp R verhoor. Inmiddels was 'n bevel verleen waarvolgens die kwessie van die appellant se al of nie aanspreeklikheid afsonderlik verhoor sou word. Die getuienis wat by die tweede verhoor gelei is, het dus slegs op daardie kwessie betrekking gehad.

Hough het getuig dat terwyl die Landrover suid van die kruising voortbeweeg het, klippe daarop gereën het. 'n Vrou en twee manlike jeugdiges het toe vanuit perseel 307 in die rigting van die Landrover gehardloop. Hulle het tot in die straat beweeg en klippe na die voertuig gegooi. (Hough het

7 by die verhoor vir Mac as een van die seuns geïdenti-fiseer.) Nadat die drietal, wat ongeveer 'n meter van mekaar was, 'n stuk of tien meter gehardloop het, het Hough op hulle gevuur. Hy was onder die indruk dat die patroon donshael bevat het. Net nadat die skoot geknal het, het die drie persone omgevlieg en teruggehardloop tot in perseel 307.

Mac het ontken dat hy een van die drietal was en het trouens betwis dat ten tye van die afvuur van die skoot daar enige persoon in die omgewing van persele 306 en 307 in die straat was. Hy sê dat toe hy getref is, hy by 'n opening in die heining van perseel 306 gestaan het.

Dit was aan die einde van die verhoor gemene saak dat slegs Hough die betrokke oggend in Kingstraat gevuur het, en dan ook slegs 'n enkele skoot, en dat SSG korrels wat aldus deur hom afgevuur is vir Desmond en Mac getref het. Die wesentlike

8

feitelike geskilpunt was of Mac en twee ander persone tot in Kingstraat gehardloop en klippe na die Land-rover gegooi het.

Dit is op hierdie stadium gewens om meer te sê oor voornoemde regulasie 11 waarop die appellant hom beroep het. Op 21 Julie 1985 het die Staats-president 'n proklamasie uitgevaardig (R121 van 1985 in Regulasiekoerant 3849). Dit het soos volg gelui:

"Kragtens die bevoegdheid my verleen by artikel 3(1)(a) van die Wet op Openbare Veiligheid, 1953 (Wet 3 van 1953), vaardig ek hierby met ingang van 21 Julie 1985, in die landdrosdistrikte in Bylae I vermeld, waarin die bestaan van 'n noodtoestand kragtens artikel 2 van genoemde Wet vanaf 21 Julie 1985 verklaar is, die regulasies uit wat in Bylae II vervat is, en kragtens artikel 3(1)(b) van genoemde Wet verklaar ek regulasie 11 van genoemde regulasies ook in al die ander landdrosdistrikte in die Republiek van Suid-Afrika van toepassing met ingang van 21 Julie 1985."

In Bylae 1 is 'n aantal landdrosdistrikte

9

vermeld. Die distrik waarin Upington geleë is, was

egter nie daarby ingesluit nie.

Regulasie 11(1) van Bylae 2 het die vol-

gende bepaal:

"11. (1) Geen siviele of strafregte-like geding word in enige geregshof inge-stel nie teen -

  1. die Staat;

  2. die Staatspresident;

  3. 'n lid van die Kabinet van die Republiek;

  4. 'n lid van 'n Mag;

  5. iemand wat in diens van die Staat is; of

  6. iemand wat op las of met die goedkeuring van 'n in die voorgaande paragrawe van hier-die subregulasie bedoelde lid of persoon handel,

op grond van 'n handeling wat deur iemand by die uitvoering van sy pligte, of die uitoefening van sy bevoegdhede of die verrigting van sy werksaamhede ingevolge hierdie regulasies, te goeder trou aange-raai, gebied, beveel, gelas of verrig is, met die bedoeling om die veiligheid van die publiek, die handhawing van die openbare orde of die beëindiging van die noodtoe-stand in enige gebied waar die bestaan van 'n noodtoestand kragtens artikel 2(1) van die Wet verklaar is, te verseker, of om met omstandighede te handel wat as gevolg van

10

voornoemde noodtoestand ontstaan het of waarskynlik sal ontstaan."

Tydens beredenering by die afloop van die verhoor het die appellant se advokaat volgens die uitspraak van die verhoorregter 'n toegewing gemaak, nl dat die appellant hom nie op regulasie 11(1) kon beroep nie en dat nie een van sy verwere kon slaag nie tensy bewys is dat Hough in die uitvoering van sy polisiebevoegdhede geregtig was om met donshael op persone in Kingstraat te skiet. In die lig van hierdie toegewing het Steenkamp R die getuienis ontleed en besluit dat die appellant hom nie van daardie bewyslas gekwyt het nie. Kortom is nie bewys nie, so is bevind, dat persone in Kingstraat gestorm en klippe na die Landrover gegooi het. Gevolglik is verklaar dat die appellant verplig was om die skade wat die respondente en Desmond gely het te vergoed.

Hierna het die partye 'n skikking aangaande

11

die omvang van die gelede skade bereik. Dit het meegebring dat die appellant kragtens 'n hofbevel gelas is om bepaalde bedrae aan die respondente in haar twee hoedanighede te betaal. Ten slotte is verlof aan die appellant verleen om na hierdie hof te appelleer teen daardie bevel in soverre dit op die bevindings van Steenkamp R gegrond was.

Op appèl het die advokaat vir die appellant betwis dat sy toegewing so wyd gestrek het as wat uit die uitspraak blyk. Hoe dit ookal sy, hy het uit-sluitlik op regulasie 11 gesteun en sy desbetreffende betoog kan soos volg saamgevat word:

  1. Daar is in regulasie 11(1) 'n komma tussen die woorde "pligte" en "of" in die sinsnedes "die uitvoering van sy pligte" en "of die uitoefening van sy bevoegdhede".

  2. Gevolglik kwalifiseer die frase "ingevolge hierdie regulasies" slegs die uitoefening

12 van 'n bevoegdheid en die verrigting van werksaam-hede, en nie ook die uitvoering van pligte nie.

  1. Regulasie 11(1) is dus van toepassing op 'n handeling wat 'n polisieman by die uitvoering van sy pligte ingevolge art 5 van die Polisiewet 7 van 1958 te goeder trou verrig het.

  2. Dit volg dat ooreenkomstig regulasie 11(3) die las op die respondente gerus het om aan te toon dat Hough nie die skoot te goeder trou afgevuur het met die bedoeling om polisiepligte te verrig nie.

(Vir sover tans ter sake bepaal regulasie 11(3) dat indien in 'n geding soos die onderhawige die vraag ontstaan of Hough te goeder trou opgetree het, vermoed word dat hy wel sulks gedoen het.)

Die appellant se betoog gaan mank aan ooglopende gebreke. Ek noem slegs die volgende. 'n Bevoegdheid is normaalweg slegs die keersy van 'n

13 plig en daar is geen denkbare rede nie waarom die Staatspresident die uitoefening van 'n bevoegdheid, maar nie ook die uitvoering van 'n plig nie, met die frase "ingevolge hierdie regulasies" sou wou kwalifi-seer. In elk geval is dit gebruiklik om wanneer drie begrippe met 'n "en" of 'n "of" verbind word, 'n komma tussen slegs die eerste en tweede begrippe aan te bring. Die komma waarop die appellant steun is dus van geen betekenis nie by beantwoording van die vraag welke optrede deur die meermaal genoemde frase gekwalifiseer word. Ek meen gevolglik dat én 'n pligsuitvoering én 'n bevoegdheidsuitoefening én 'n verrigting van werksaamhede "ingevolge hierdie regulasies" moet geskied.

Insoverre regulasie 11(1) ook van toepassing gemaak is in 'n distrik waarin daar nie 'n noodtoestand verklaar is nie ("'n buitedistrik") bied regulasie 11(1) nietemin vertolkingsprobleme. Dit is

14 naamlik nie maklik om te begryp nie hoe bv die uitvoering van 'n plig volgens die regulasies - d w s regulasies 1 tot 10 - kan geskied in 'n buitedistrik waarin daardie regulasies nie geld nie. Om die redes wat volg, veronderstel ek egter dat dit wel moontlik is.

Weereens wat betref die toepassing van regulasie 11(1) in 'n buitedistrik, sou 'n mens verwag dat die Staatspresident 'n verband sou verg tussen gevrywaarde optrede en die gelding van die noodtoestand in 'n distrik ("'n binnedistrik") waarin dit wel verklaar is. So 'n verband, en ek sê nie dit is die enigste een nie, word verskaf deur die vereiste aangaande die bedoeling waarmee 'n handeling verrig moet word. Die dader moet naamlik handel met die bedoeling om (i) die veiligheid van die publiek, of (ii) die handhawing van die openbare orde of (iii) die beeindiging van die noodtoestand "in eniqe gebied

15 waar die bestaan van 'n noodtoestand verklaar is", te verseker, of "om met omstandighede te handel wat as gevolg van voornoemde noodtoestand ontstaan het of waarskynlik sal ontstaan". (My aksentuering.) Al drie bostaande begrippe word klaarblyklik gekwalifi-seer deur die eerste geaksentueerde sinsnede, terwyl die laaste gedeelte van die vereiste terugverwys na omstandighede wat ontstaan het of waarskynlik sal ontstaan vanweë die gelding van die noodtoestand in 'n binnedistrik. Dit is dus duidelik dat die bedoel-ing van die dader gerig moet wees op voorkoming of bestryding van toestande in of verbandhoudende met 'n binnedistrik. Spesifiek betreffende die handhawing van die openbare orde - en dit is al waarop die appellant in sy verweerskrif gesteun het - moet 'n dader soos 'n polisieman derhalwe bedoel om deur sy handeling in 'n buitedistrik die openbare orde in 'n binnedistrik te beveilig of te herstel. Dit sou die

16 geval wees indien die polisieman in 'n buitedistrik meen - sy dit dan ook ten onregte - dat A na 'n binnedistrik op pad is om die inwoners daarvan tot onluste op te stook, en hy A dan in hegtenis neem met die oogmerk om dit te verhoed en aldus die handhawing van die openbare orde in die binnedistrik te ver-seker.

In casu was daar egter geen verband nie tussen die oogmerk waarmee die skoot afgevuur is en toestande in of ontstaande uit 'n binnedistrik. Hough het naamlik nooit bedoel om by te dra tot die handhawing van die openbare orde in 'n binnedistrik nie. Hy het nie gedink dat die onluste in Pabalello na 'n binnedistrik sou oorspoel nie, en hoogstens was sy oogmerk dus om die openbare orde in die betrokke buitedistrik te handhaaf. Gevolglik kon die appel-lant hom nie op die vrywaring vervat in regulasie 11(1) beroep nie.

17 In die veronderstelling dat hierdie slotsom bereik sou word, het die appellant se advokaat tereg toegegee dat die appél nie kan slaag nie. In beson-der is toegegee dat statutêre regverdiging vir die verwonding van Desmond nie deur die appellant bewys is nie.

Die appél word afgewys met koste, insluit-ende dié van twee advokate.

H J 0 VAN HEERDEN AR

GOLDSTONE AR

VAN DEN HEEVER AR

STEM SAAM

HARMS AR

NICHOLAS Wnd AR

▲ To the top