S v Loots (65/1993) [1994] ZASCA 62 (5 May 1994)


Saaknommer 65/93

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen:

JACQUES LOOTS Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: VAN HEERDEN, NIENABER et HOWIE ARR

VERHOOR: 5 Mei 1994 GELEWER: 5 Mei 1994

TRANSKRIPSIE VAN REDES MONDELING GELEWER IN DIE OPE HOF OP

3 MEI 1994 DEUR HOWIE, AR WAARMEE VAN HEERDEN AR EN NIENABER AR

SAAMGESTEM HET.

2

HOWIE AR,

Die appellant is in 'n Streekhof skuldig bevind aan diefstal vanuit 'n geparkeerde motor en is 3 jaar gevangenisstraf opgelê. Sy appèl na die Transvaalse Provinsiale Afdeling het misluk, so ook sy daaropvolgende aansoek om verlof om te appelleer. Hy kom tans in hoër beroep met verlof van hierdie Hof en appelleer teen beide die skuldigbevinding en die vonnis.

Die getuienis betreffende die skuldigbevinding was grotendeels gemene saak.

Drie manspersone het kort voor middernag op 'n Saterdag by die klaer se motor ingebreek waar dit in 'n straat in Springs geparkeer gestaan het en verskeie artikels daaruit gesteel. Die klaer het hulle gesteur toe hulle steeds by sy motor besig was. Voordat hulie in hul eie motor 'n VW Jetta, weggejaag het, het hy die bestuurder

3

met behulp van 'n sterk flitslig vir meer as 30 sekondes onder observasie gehad terwyl hy gesukkel het om die enjin aan die gang te kry. In dié tydperk het die klaer deeglik op die bestuurder se voorkoms gelet en meer in besonder opgemerk dat in sy herhaalde pogings om die sleutel in die skakelaar te kry (wat op die regterkant van die stuurkolom was) die bestuurder voortdurend van sy linkerhand gebruik gemaak het en vir hierdie doel sy linkerarm bo-oor die stuurwiel moes strek. Toe die klaer kort daarna by die polisiestasie besig was om die diefstal te rapporteer, het die appellant die aanklagkantoor binnegekom. Die klaer het hom spontaan en onmiddellik herken as die bestuurder van die Jetta en die sersant van die aanklagkantoor, ene Tromp, dienooreenkomstig ingelig. Die appellant het dié beskuldiging ontken en het beweer dat hy daar was om die diefstal van sy eie motor - die einste Jetta - te rapporteer.

4

Sp. Konst. Ludick van die plaaslike voertuiddiefstaleenheid het die Jetta op die daaropvolgend Maandag in 'n voorstad van Springs teëgekom. Hy het dit deeglik ondersoek en geen tekens hoegenaamd gevind dat daar by die Jetta ingebreek is nie of dat daar enigsins met die drade gepeuter is of andersins gepoog is om die motor te steel.

Die appellant het getuig ter ondersteuning van 'n verweer van alibi. Volgens hom was hy die hele aand by sy woning en het hy die Jetta vermis toe hy buite gegaan het om dit in sy motorhuis in te trek. Hy het erken dat hy en die klaer nooit vir mekaar voor die Saterdag raakgeloop het nie en dat die klaer hom nietemin as die bestuurder van die Jetta onmiddellik uitgeken het. Hy het ook erken dat hy geen regterhand het nie.

Die verhoorhof het ondanks sekere verskille tussen die klaer en Tromp aangaande wat eersgenoemde by die polisiestasie gesê het, tot die slotsom gekom dat die klaer

5

nie net eerlik was nie maar dat sy uitkenning van appellant geheel en al betroubaar was. Ludick se getuienis is ook aanvaar. Die appellant se weergawe, aan die anderkant, is as vals verwerp.

Namens die appellant is die Staat se getuienis in heelwat opsigte gekritiseer en is verskeie beweerde moontlikhede ten opsigte van die appellant se onskuld voorgestel. Al hierdie aspekte is deur beide die verhoorhof en die Hof a quo oorweeg. Ek is glad nie daarvan oortuig dat die verhoorhof in enige wesenlike opsig misgetas het nie. Inteendeel is ek oortuig dat die landdros se uitspraak heeltemal korrek was en dat daar dus geen fout met die skuldigbevinding gevind kan word nie.

Wat vonnis betref, was die waarde van gesteelde artikels (wat nooit teruggevind is nie) ongeveer R8 000. Dit het oor die R500 gekos om die twee vensters van die klaer se motor te herstel waarby ingebreek is. Appellant

6

is in Oktober 1990 weens winkeldiefstal R500 of 5 maande opgelê en het die onderhawige misdryf 6 maande daarna gepleeg. In die huidige geval het die appellant nie onder druk van versoeking of enigsins impulsief opgetree nie. Die enigste redelike afleiding is dat hy en sy makkers die betrokke aand uit was om hierdie soort diefstal te pleeg. Wat dit nog erger maak is dat hulle as 'n groep opgetree het. Dit is dus verstaanbaar dat die landdros die saak in h ernstige lig opgeneem het. Daar bestaan geen rede om met die straf in te meng nie. Die appèl word derhalwe van die hand gewys.

C T HOWIE, AR

▲ To the top