Smit v Abrahams (109/1992) [1994] ZASCA 64 (16 May 1994)


Editorial note: Certain information has been redacted from this judgment in compliance with the law.



LL Saak No 109/1992

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA

APPèlAFDELING

In die saak tussen:

F J G SMIT Appellant

en

H I ABRAHAMS Respondent

CORAM: BOTHA, E M GROSSKOPF, KUMLEBEN, VAN

DEN HEEVER ARR et MAHOMED WND AR

VERHOORDATUM: 15 MAART 1994

LEWERINGSDATUM: 16 MEI 1994

UITSPRAAK BOTHA AR:

2 Op 22 Desember 1988 het daar 'n botsing plaasgevind tussen 'n motorvoertuig wat bestuur is deur die appellant en 'n bakkie waarvan die respon-dent die eienaar was. Die bakkie is onherstelbaar beskadig. Die respondent (hierna: "die eiser") het in die landdroshof van Piketberg 'n aksie om skade-vergoeding ingestel teen die appellant ("die verweerder"). In sy dagvaarding het die eiser beweer dat die botsing veroorsaak is deur die nalatigheid van die verweerder en het hy twee afsonderlike eise uiteengesit. Die eerste eis was vir die betaling van die markwaarde van die bakkie. Die tweede eis was vir die vergoeding van huurgeld wat die eiser na bewering betaal het vir die gebruik van 'n ander bakkie wat hy moes verkry het ten einde sy besigheid as 'n smous te bedryf. Die verweerder se verweer-skrif het al die wesenlike bewerings in die dagvaar-ding in geskil geplaas.

3 Met die aanvang van die verhoor is die landdros deur die partye se regsverteenwoordigers meegedeel dat hulle tot 'n vergelyk gekom het oor twee aspekte van die saak: die quantum van die eiser se skade ten opsigte van die eerste eis is geskik op R3 630, en daar is ooreengekom op 'n verdeling van die skadevergoeding in die verhouding 70% tot 30% ten gunste van die eiser. Wat die eerste eis betref het daar gevolglik geen geskilpunte oorgebly nie. Ten aansien van die tweede eis het die eiser getuienis afgelê, waaruit dit geblyk het dat hy vir 'n tydperk van 3 maande, van 24 Desember 1988 tot 24 Maart 1989,'n bakkie gehuur het van ene Patrick Esau teen 'n huurgeld van R60 per dag. Bereken teen 6 werksdae per week het sy totale vordering onder die tweede eis te staan gekom op R4 680. Die verweerder het geen getuienis aangebied nie. Aan die einde van die verhoor het die landdros vonnis toegestaan ten gunste

4 van die eiser vir die betaling deur die verweerder van 70% van R3 630 (op die eerste eis) en 70% van R4 680 (op die tweede eis), met koste.

Teen die vonnis op die tweede eis het die verweerder geappelleer na die provinsiale Afdeling Kaap die Goeie Hoop. Die appèl is deur ' n volle hof afgewys met koste. Die uitspraak is gelewer deur FARLAM Wn R en dit is gerapporteer: sien Smit v Abrahams 1992 (3) SA 158 (C). Die hof a quo het aan die verweerder verlof verleen om na hierdie Hof in hoër beroep te kom.

Soos sal blyk uit wat hieronder volg, het die manier waarop die eiser se tweede eis behandel is in die hof a quo verskil van die wyse waarop dit behandel is in die landdroshof, alhoewel die resul-taat dieselfde was. Ek is van voorneme om eers stil te staan by die manier waarop die saak in die land-droshof behandel is, om daarna die benadering in die

5 hof a quo te bespreek, en om uiteindelik kommentaar te lewer oor die verskillende benaderings.

Die getuienis wat die eiser in die land-droshof afgelê het, kan saamgevat word soos volg. Ten tye van die ongeluk het hy smouswerk gedoen tussen Elandsbaai, Lambertsbaai en Kaapstad, en daarvoor het hy elke dag, behalwe Sondae, sy bakkie gebruik. Hy het geen ander werk gedoen behalwe smous nie, en sonder 'n bakkie kan hy die werk nie doen nie. As gevolg van die botsing was sy bakkie 'n "totale wrak". Twee dae na die ongeluk, op 24 Desember 1988, het hy 'n bakkie by Patrick Esau gekry, vir die gebruik waarvan hy R60 per dag moes betaal, en daarmee het hy sy smousbesigheid voort-gesit. Hy het navraag gedoen by twee firmas en vasgestel dat om daar 'n bakkie te huur, hom R550 per week meer sou gekos het as by Esau. Hy het te min kontant gehad om 'n bakkie te koop. Ook in dié

6 verband het hy navraag gedoen, by drie firmas. Daar was 'n bakkie beskikbaar vir R9 000, maar hy kon dit nie bekostig nie. Hy het ook nie geld gehad vir ' n deposito nie. Hy het nog R600 op sy bakkie geskuld. Nadat hy Esau se bakkie vir 3 maande gehuur het, tot op 24 Maart 1989, het Esau die bakkie teruggevat omdat hy dit toe self nodig gehad het. Die eiser het toe 'n voorraad aartappels wat hy gehad het, met stootwaentjies gesmous.

Onder kruisondervraging het die eiser gesê dat hy 'n bakkie wou gehuur het net totdat hy genoeg geld gehad het om een te koop, en dat hy dit teen die einde van 1989 sou kon gedoen het. Hy het besef dat hy iets in die plek van sy bakkie moes kry, en hy het gesoek, maar hy het nie 'n bakkie gekoop nie omdat hy nie geld gehad het nie. Nadat Esau sy bakkie terug-geneem het en die eiser sy voorraad aartappels verkoop het, het hy nie gewerk nie. Hy is werkloos

7 omdat hy nie 'n voertuig het nie. Op 'n vraag wat sy wins per dag was, het die eiser geantwoord: "Omtrent R300 per dag wins". In herverhoor, volgens die landdros se optekening van die getuienis in die oorkonde (die verrigtinge is nie meganies opgeneem nie), is die eiser gevra: "Het jy R300 per week verdien?", waarop hy "Ja" geantwoord het. Op 'n latere vraag wat sy totale uitgawes per dag was, het hy geantwoord: "R150 per dag".

Uit die aantekeninge wat die landdros gemaak het van die argumente wat namens die partye aan hom voorgedra is aan die einde van die getuienis, en wat in die oorkonde opgeneem is, is dit duidelik dat die hele strekking van die betoog namens die eiser was dat die verweerder nie aangetoon het dat die eiser onredelik opgetree het, of dat die bedrag van sy eis onredelik is, of dat hy sy skade kon verminder het nie, terwyl die betoog namens die

8 verweerder tot die teendeel was. Hierdie benadering tot die geskilpunte en die bewyslas het waarskynlik voortgespruit uit die manier waarop die tweede eis in die dagvaarding geformuleer was. Dit lui soos volg (met inagneming van 'n wysiging van die datums wat by die verhoor aangebring is): "CLAIM II:

  1. As a result of the collision referred to in Claim I, the Plaintiff, who is a hawker and requires the use of a bakkie, has had to obtain the use of another bakkie to conduct his business operation.

  2. As and from the 24th December 1988 to the 24th March 1989 the Plaintiff has had to pay the sum of R60 per day for the use of the aforesaid bakkie, which the Plaintiff holds the Defendant liable for."

Die eis is beskou as een vir die vergoeding

van uitgawes wat die eiser aangegaan het ten einde

die skade te vermy wat hy andersins sou gely het in

die vorm van ' n verlies aan inkomste uit sy besig-

9

heid. Dat dit die benadering was, blyk verder uit

die feit dat die eiser, volgens die landdros se

aantekeninge, hom beroep het op Cooper Motor Law Vol

2 op 392 par (c), waar die volgende gesê word (die

aanhaling in die teks is uit die uitspraak van

CLAYDEN R in Shrog v Valentine 1949 (3) SA 1228 (T)

op 1237-8);

"A plaintiff is entitled to claim for loss of income or loss of profits which results from his being deprived of the use of the vehicle while it is being repaired.

Since a party is bound to mitigate his loss a businessman should normally hire another vehicle in place of the damaged one, and he may then claim the expense of hiring it. In that event, however, he does not have to prove that the expense was reasonable, the reasoning being:

' . . . the lost prof its owing to the deprivation of the use of a vehicle are not required to be reasonable. They are the actual profits. Here that loss was avoided by the taking of steps by the plaintiff to hire a lorry to replace the damaged vehicle. The expense is an expense for which

10

the defendant is responsible unless he can show that the action of the plaintiff in hiring a lorry at all, or in hiring a lorry at that cost, was unreasonable.'"

Aansluitend by hierdie benadering het die

landdros in sy skriftelike redes vir vonnis die

volgende gesê:

"5. Die Hof is van oordeel dat die Eiser in die omstandighede opgetree het soos 'n redelike man ook sou opgetree het en die bedrag wat Eiser vra redelik is om die volgende redes:

  1. Toe hy opmerk sy voertuig waarmee hy sy brood en botter verdien is 'n wrak, het hy dadelik gesoek om 'n ander voertuig te koop, maar kon nie een vind wat hy kon bekostig nie.

  2. Hy het daarna probeer om 'n voertuig te huur om te smous teen die mees redelike prys. Hy het ook hier uitgevind wat die goedkoopste is wat hy kon kry.

  3. Die Eiser is 'n smous wat sy bakkie nodig het om sy beroep te beoefen. Hy ry selfs af-stande vanaf Kaapstad, Elands-baai, Lambertsbaai en terug.

11

Hy het besef hy moes sy beroep voortsit en die redelike man sou in hierdie omstandighede dieselfde gedoen het.

  1. Die redelike man sou ook nie van beroep verander het, as hy dit op so 'n wyse kon voortsit nie.

  2. Die Eiser eis slegs die koste van die gehuurde voertuig op die dae wat hy dit werklik vir sy werk gebruik het.

  3. Die Eiser eis slegs die huur-tarief vir drie maande waar hy werklik die voertuig gehuur het.

  4. Vir die tydperk na 24/3/89 eis die Eiser geen bedrag nie alhoewel hy sy werk verloor het as gevolg van Verweerder se nalatigheid van 70% in Eis 1.

6. Die Hof het bevind dat die Verweerder nie aangetoon het dat die Eiser nie soos 'n redelike man opgetree het nie en dat die bedrag en die tydperk wat die Eiser vra onredelik is nie.

Daar is geen getuienis voor die Hof dat Eiser 'n bakkie vir goedkoper as R9 000,00 kon gekoop het of 'n goedkoper huurtarief kon gekry het nie. "

Op die grondslag van die saak soos dit aan

12 die landdros voorgelê is, kan daar na my mening nie fout gevind word met die bevinding waartoe hy geraak het nie. Soos blyk uit Shrog v Valentine supra op 1236-7 kan die eienaar van 'n voertuig wat hy in sy besigheid gebruik en wat deur dle nalatigheid van 'n ander beskadig word, skadevergoeding verhaal ten opsigte van verlies aan inkomste as gevolg van die ontneming van die gebruik van die voertuig; huur hy 'n ander voertuig om in sy besigheid te gebrulk in die plek van die beskadigde een, is hy besig om die intrede van skade weens verlies aan inkomste te verhinder of te beperk; gevolglik kan hy sy uitgawe ten opsigte van huurgeld verhaal, tensy, volgens die bekende beginsel wat geformuleer is in Hazis v Trans-vaal and Delaqoa Bay Investment Co Ltd 1939 AD 372 op 388-9, die verweerder kan bewys dat die eiser se optrede nie redelik was nie. Die landdros se bevind-ing in paragraaf 6 van sy redes, hierbo aangehaal.

13 kom daarop neer dat die verweerder hom nie van die bewyslas gekwyt het nie, nóg wat betref die bedrag van die eiser se uitgawe, nóg wat betref die tydperk daarvan.

Wat die bedrag betref, het die landdros nie bevind wat die eiser se inkomste of wins uit sy besigheid was nie. As die eiser se wins minder was as die huurgeld wat hy aan Esau betaal het, sou daar denkbaar geargumenteer kon geword het dat sy uitgawe onredelik was. Soos blyk uit die opsomming van die eiser se getuienis hierbo, het hy oënskynlik teen-strydige antwoorde oor sy daaglikse wins en sy week-likse verdienste gegee. My indruk van sy getuienis as 'n geheel is dat sy pertinente stelling dat sy wins R300 per dag was, as deurslaggewend beskou behoort te word. Hoe dit ook al sy, in soverre die eiser se getuienis op hierdie aspek onseker mag wees, kan dit die verweerder nie baat nie: hy het hom dan

14

nie van die las gekwyt om te bewys dat die uitgawe onredelik was nie.

Wat die tydperk van die huur betref, is dit implisiet in paragrawe 5(a), (b) en (c) van die landdros se redes dat hy in aanmerking geneem het dat die eiser geldelik nie in die vermoë was om 'n ander voertuig te koop nie. Die landdros se benadering was reg. Om te beoordeel of 'n eiser se optrede in verband met die vermyding of vermindering van skade redelik of onredelik was, moet daar gekyk word na al die omstandighede waarin hy hom bevind het (vgl bv De Pinto and Another v Rensea Investments (Pty) Ltd 1977 (4) SA 529 (A) op 529E-530B) . Een van die tersaak-like faktore is die eiser se finansiële posisie. As hy weens onvermoëndheid nie oor die middele beskik om stappe te doen waardeur die oplopende skade beperk kan word nie, dan kan hy sekerlik nie verwyt word vir sy versuim om sulke stappe te doen nie. In die

15

huidige geval blyk dit uit die eiser se getuienis dat

hy nie die geld gehad het, of redelikerwyse kon bekom

het, wat nodig was om 'n ander voertuig te koop ter

vervanging van die beskadigde een nie.

Die gronde van appèl wat in die verweerder

se kennisgewing van appèl na die hof a quo geopper

is, was oënskynlik steeds gebaseer op die wyse waarop

die saak in die landdroshof behandel was. Die strek-

king daarvan blyk uit paragrawe 1 en 3, wat soos volg

lui:

"1. Die landdros het fouteer deur te bevind dat Appellant nie aangetoon het dat

Respondent nie soos 'n redelike man opge-tree het in en met die beperking van sy skade vir sover dit die huur van 'n ander voertuig aanbetref nie;

3. Die landdros het fouteer deurdat hy bevind het dat hy die Respondent se gelde-like posisie in ag moes neem, en deurdat hy dit inderdaad in ag geneem het, by die oorweging en bepaling van Appellant se aanspreeklikheid teenoor Respondent."

Na my mening was hierdie aanval op die landdros se

16 uitspraak ongegrond, om die redes hierbo aangegee.

Met die beredenering van die appél in die hof a quo het die saak egter 'n nuwe wending geneem: die betoog namens die verweerder is oor 'n ander boeg gegooi. Soos blyk uit die gerapporteerde uitspraak van die hof a quo (op 159I-160A) was die betoog dat vergoeding van die eiser se skade (synde die huurgeld wat hy aan Esau betaal het) nie verhaalbaar was nie omdat die skade teweeggebring is deur die eiser se eie onvermoëndheid. In hierdie betoog, so blyk dit verder, is daar heeltemal wegbeweeg van die gedagte dat die eiser die huurgeld betaal het ten einde sy skade in die vorm van verlies aan inkomste uit sy besigheid te temper. In plaas daarvan is die eiser se uitgawe aan huurgeld beskou as skade, die ver-goeding waarvan die eiser gepoog het om te verhaal op grond daarvan dat dit voortgevloei het uit die ver-weerder se delik, synde die nalatige en onregmatige

17 vernietiging van die eiser se bakkie as 'n bruikbare voertuig. Met dié uitgangspunt is aangevoer dat die oorsaaklike verband tussen die eiser se skade en die verweerder se optrede wat nodig is om laasgenoemde aanspreeklik te hou, ontbreek, vanweë die feit dat die eiser weens sy onvermoëndheid nie 'n plaasver-vangende voertuig gekoop het nie. Vir hierdie betoog is daar veral gesteun op die beslissing van die House of Lords in Owners of Dredger Liesbosch v Owners of Steamship Edison 1933 AC 449 (HL), ook gerapporteer as The Edison [1933] All ER Rep 144 (sien die uit-spraak a quo op 160B; ek sal, soos die hof a quo, na die saak verwys as "The Edison").

Die hof a quo het hierdie betoog op sy meriete behandel en dit verwerp. In hooftrekke was die beredenering soos volg. Met betrekking tot die vraag of die eiser se skade "veroorsaak" is deur die verweerder, is daar verwys (op 161C-162J) na die

18 onderskeid tussen feitlike kousaliteit en juridiese kousaliteit, soos dit bespreek is in, onder meer, Minister of Police v Skosana 1977 (1) SA 31 (A) op 34E-35D en Siman & Co (Pty) Ltd v Barclays National Bank Ltd 1984 (2) SA 888 (A) op 914F-915A. Daar is bevind dat, op die feite van die huidige saak, die vereiste van feitlike kousaliteit bevredig is (op 163A-B). Ten opsigte van die vraag na juridiese kousaliteit (soos geformuleer op 162E en 163B-C) is daar verwys na verskillende toetse om dit te bepaal (op 163D-165D) en tot die slotsom geraak dat die korrekte toets om toe te pas dié is van die redelike voorsienbaarheid van die betrokke skade, in die sin van 'n "redelike moontlikheid" soos omskryf deur FARLAM Wn R (op 165E-F) . Op die feite van die saak is daar bevind dat hierdie toets wel bevredig is (op 165G-I). Die res van die uitspraak (op 166-180) is gewy aan 'n diepgaande en breedvoerige bespreking van

19 The Edison, wat uiteindelik gelei het (op 180F) tot die gevolgtrekking dat daardie beslissing nie in die weg staan van die bevinding dat die verweerder aan-spreeklik is om die eiser se skade te vergoed nie.

In die konteks van die kousaliteitsvraag stem ek saam met die resultaat wat die hof a quo bereik het, naamlik dat die verweerder aanspreeklik is om die eiser se skade te vergoed, maar die beredenering wat my tot daardie gevolgtrekking lei, is nie in alle opsigte dieselfde as dié van die hof a quo nie, soos sal blyk uit wat hieronder volg.

Die vraag na feitlike kousaliteit verskaf nie probleme in hierdie saak nie (soos meestal die geval is in die praktyk, waar die kwessie van veroor-saking ter sprake kom). In 'n feitlike sin is die eiser se skade ongetwyfeld veroorsaak deur die verweerder se optrede. Dat die eiser nie in staat was om 'n plaasvervangende bakkie te koop nie,

20

beteken dat sy onbemiddeldheid in 'n feitlike sin 'n mede-oorsaak van die skade was. Dit is die omstan-digheid wat aanleiding gee tot die vraag of die vereiste van juridiese kousaliteit bevredig is.

Gesien die belangrike rol wat die beslis-sing in The Edison in die hof a quo gespeel het (en trouens ook, soos weldra sal blyk, in die betoog namens die verweerder voor hierdie Hof), is dit gerade om eers dié saak te behandel. Die feite daarvan word uiteengesit in die uitspraak a quo op 166A-G, en die tersaaklike gedeelte van die uitspraak van LORD WRIGHT word aangehaal op 166G-167I. Dit is onnodig om dit alles hier te herhaal. Vir huidige doeleindes is dit genoeg om die feite en die beslissing te vereenvoudig soos volg. Toe die verweerders veroorsaak het dat die eisers se bagger-masjien sink en verlore gaan, het die eisers nie oor die geldelike vermoëns beskik om 'n plaasvervangende

21 masjien te koop nie. Om hulle besigheid voort te sit, het die eisers 'n masjien teen hoë koste gehuur. In hulle aksie om skadevergoeding ten opsigte van die waarde van die verlore masjien en van die uitgawe aan huurgeld, het die House of Lords beslis dat laas-genoemde eis nie kan slaag nie, omdat die uitgawe teweeggebring is deur die eisers se onvermoëndheid en daardie onvermoëndheid "a separate and concurrent cause, extraneous to and distinct in character from the tort", "an independent cause", was. Die uit-werking van die beslissing, soos dit namens die verweerder aan die hof a quo (en aan hierdie Hof) voorgehou is, was om 'n algemeen-geldende en onwrikbare reël neer te lê dat skade bestaande uit uitgawes wat meegebring is deur die eiser se onver-moëndheid, in beginsel nie verhaalbaar is nie (vgl die uitspraak a quo op 160D/E). Ek sal aanvaar (sonder om daarop in te gaan) dat die uitspraak in

22

The Edison wel voorgegee het om so ' n rigiede reël

neer te lê, en ek sal voortaan daarna verwys as "die

ratio van The Edison".

In ons reg kan daar na my mening geen

twyfel wees nie dat die ratio van The Edison geen

bestaansreg het nie. Die strakheid daarvan is

onbestaanbaar met die soepele benadering wat in ons

reg gevolg word, soos dit verduidelik is in die

uitspraak van hierdie Hof in S v Mokgethi en Andere

1990 (1) SA 32 (A). Met aanhalings (op 39E-H) uit

Minister of Police v Skosana supra en S v Daniëls en

'n Ander 1983 (3) SA 275 (A) as die aanknopingspunt,

het VAN HEERDEN AR die volgende gesê (op 39J-41B):

"In die regspraak en die literatuur -hier te lande en in die buiteland - is daar dan ook voorstanders van 'n reeks kriteria vir die bepaling van juridiese kousaliteit; so bv die afwesigheid van 'n novus actus interveniens, 'proximate cause', 'direct cause', voorsienbaarheid en adekwate ver-

oorsaking Die voorstanders van die

verskillende kriteria het dit in gemeen: 'n handeling wat 'n conditio sine qua non

23

van 'n gevolg is, kan te ver verwyderd van die gevolg wees om regtens as oorsaak daarvan beskou te word. Hulle meen egter dat 'n maatstaf waarvolgens 'n genoegsame noue verband tussen die dader se handeling en die gevolg vereis word, te vaag is. Vandaar die soeke na meer eksakte kriteria.

Dit spreek vanself dat 'n elastiese maatstaf sy nadele het. Dit het egter ook sy voordele. So bv sê Gordon (op cit op 109): 'Remoteness is at once the most difficult and the most useful of the causal criteria, because it is the vaguest.' Ek betwyfel dan ook of 'n regstelsel sonder 'n oorheersende elastiese maatstaf vir die bepaling van juridiese oorsaaklikheid kan klaarkom. Soos blyk uit die passasies wat hierbo uit Skosana en Daniëls aangehaal is, kom beleidsoorwegings ter sprake en moet daarteen gewaak word dat 'n dader se aan-spreeklikheid nie die grense van redelik-heid, billikheid en regverdigheid oorskry nie. Sodanige oorwegings en begrippe is moeilik vatbaar vir nadere omskrywing. Dit is daarom, meen ek, dat in Blaikie and Others v The British Transport Commission 1961 SC 44 op 49, gesê is:

'The law has always had to come to some kind of compromise with the doctrine of causation. The problem is a practical rather than an intellectual one. It is easy and usual te bedevil it with subtleties,

24

but the attitude of the law is that expediency and good sense dictate that for practical purposes a line has to be drawn somewhere, and that, in drawing it, the court is to be guided by the practical experience of the reasonable man rather than by the theoretical speculations of the philosopher.'

Wat die onderskeie kriteria betref, kom dit my ook nie voor dat hulle veel meer eksak is as 'n maatstaf (die soepele maat-staf) waarvolgens aan die hand van beleids-oorwegings beoordeel word of 'n genoegsame noue verband tussen handeling en gevolg bestaan nie. Daarmee gee ek nie te kenne nie dat een of selfs meer van die kriteria nie by die toepassing van die soepele maatstaf op 'n bepaalde soort feitekompleks subsidiêr nuttig aangewend kan word nie; maar slegs dat geen van die kriteria by alle soorte feitekomplekse, en vir die doeleindes van die koppeling van enige vorm van regsaanspreeklikheid, as 'n meer kon-krete afgrensingsmaatstaf gebruik kan word nie."

Dieselfde benadering is kort daarna deur hierdie Hof

toegepas met betrekking tot 'n deiiktuele eis om

skadevergoeding: sien International Shipping Co

25 (Pty) Ltd v Bentley 1990 (1) SA 680 (A) op 700H-701F.

In 'n stelsel waar juridiese kousaliteit bepaal word deur die vraag te stel of daar 'n genoeg-same noue verband tussen handeling en gevolg bestaan, en dié vraag beantwoord moet word aan die hand van beleidsoorwegings en die grense van redelikheid, billikheid en regverdigheid, is daar geen ruimte vir die aanwending van die ratio van The Edison nie. Die onvermoëndheid van die eiser as 'n mede-oorsaak van die skade is maar net nog 'n feit wat tesame met al die ander feite van elke besondere saak in oorweging geneem moet word by die toepassing van die "oorheers-ende elastiese maatstaf" waarvolgens bepaal word of die betrokke skade die verweerder toegereken behoort te word.

Die voorgaande beskouing is op sigself afdoende rede om die ratio van The Edison opsy te

26 skuif as ontoepaslik in ons reg. Dit is gevolglik onnodig om in te gaan op die kritiese ontleding waaraan die beredenering van LORD WRIGHT in daardie saak in die uitspraak van die hof a quo onderwerp is, of op die kommentaar wat The Edison ontlok het in die latere Engelse regspraak en deur verskeie skrywers, wat in die uitspraak a quo behandel word.

Op dieselfde grondslag is dit onnodig, meen ek, om die beslissings in die provinsiale en plaas-like afdelings waarin daar verwys is na die ratio van The Edison te onderwerp aan die noukeurige ontleding wat hulle in die uitspraak a quo te beurt geval het (op 174A-179C) . In die mate dat daar in enkele van die belissings oënskynlik gesteun is op die ratio van The Edison om tot 'n gevolgtrekking te kom aangaande die vraag na juridiese kousaliteit, kan daar, in die lig van die soepele maatstaf van ons reg, aan hulle geen groter betekenis toegeskryf word as dat hulle

27

net illustrasies is van hoe die vraag in die bepaalde feitekompleks van die betrokke geval opgelos is nie. Alles hang altyd af van die feite. In soverre die motivering van enige van die beslissings stellings bevat wat dalk die indruk mag skep dat die ratio van The Edison toepaslik is in ons reg, is daardie indruk verkeerd.

Voor hierdie Hof is daar nietemin namens die verweerder getrag om 'n bestaansreg vir die ratio van The Edison in ons reg uit te maak, by wyse van 'n argument wat soos volg saamgevat kan word: in ten minste twee sake, Charles v Malherbe, Bosch & Co (Pty) Ltd 1949 (3) SA 381 (C) en Muller NO and Others v Government of the Republic of South Africa 1980 (3) SA 970 (T), was die ratio van The Edison deel gemaak van die ratio decidendi in daardie sake; in 'n paar ander sake (bv Ntuli v Hirsch and Adler 1958 (2) SA 290 (W)) is die ratio van The Edison aanvaar as

28 geldende reg, maar bevind dat die feite van die betrokke saak onderskeibaar was van die feite in The Edison; gevolglik is die ratio van The Edison reeds ingeburger in ons reg; dit moet dus beskou word as 'n reeds gevestigde beleidsoorweging wat ook in die konteks van die soepele maatstaf toegepas moet word; dit is waarskynlik dat "landsburgers hulle sake ingeklee het in die veronderstelling dat die betrokke beslissings die reg juis weergee" (Du Plessis NO v Strauss 1988 (2) SA 105 (A) op 142F); gevolglik behoort die Hof nie nou van die bestaande regsposisie af te wyk nie.

Hierdie argument moet verwerp word, met verwysing na elkeen van die onderdele daarvan, om redes wat kortliks aangegee kan word. Die opmerkings wat ek hierbo oor die betrokke beslissings gemaak het, dui reeds daarop dat hulle nie gebruik kan word as 'n grondslag waaruit 'n algemeen-geldende regsreël

29

geëkstraheer kan word nie. Daar was geen oorwoë ondersoek na die bestaan van so 'n reël of na enige beleidsoorweging nie. Ad hoc beskouings oor oorsaak-likheid kan nie aanleiding gee tot 'n rigiede beleidsoorweging wat lynreg in stryd is met die buigsaamheid van ons reg insake die maatstaf om juridiese kousaliteit te bepaal nie. Van inburgering kan daar nie sprake wees nie. Die gedagte dat mense hulle sake sou ingerig het na aanleiding van hierdie beslissings is vergesog. Dit is aan die hand gedoen dat die belissings 'n uitwerking sou gehad het in die versekeringswese, deurdat versekeraars hulle premies dienooreenkomstig sou aangepas en bereken het. Ek kan nie aanvaar dat hierdie suggestie verband hou met die werklikheid nie. Daar is geen rede om te dink dat enige vaste kommersiële praktyk voortgespruit het uit wat beskou kon gewees het as 'n gesaghebbende uiteensetting van enige algemeen-geldende regsreël

30

nie. Hierdie Hof het, sover my kennis strek, hom nog nie uitgespreek oor die ratio van The Edison nie. Daar is na my oordeel geen rede waarom hierdie Hof nie nou sal beslis dat die ratio van The Edison nie deel is van ons reg nie.

Vervolgens moet die vraag oorweeg word of daar, met die toepassing van die soepele maatstaf, 'n genoegsame noue verband bestaan tussen die verweerder se onregmatige daad en die skade wat die eiser gely het. Die verweerder het die eiser blywend ontneem van die gebruik van sy bakkie, wat hy nodig gehad het om sy besigheid te bedryf. Om nie sy inkomste te verloor nie, het die eiser twee dae later 'n bakkie gehuur en daarmee sy besigheid voortgesit. Die huur wat hy daarvoor betaal het, blyk volgens die getuie-nis redelik te gewees het. (Denkbaar kon hy iets aan koste ten opsigte van die gebruik van sy eie bakkie -as hy een gehad het - bespaar het, maar dit is 'n

31

nietigheid wat nie geopper is nie en buite rekening gelaat kan word.) Die eiser het nie oor die gelde-like middele beskik om vir hom 'n plaasvervangende bakkie te koop nie. Gevolglik was hy nie in staat om op dié manier die voortgesette huur van 'n bakkie te beeindig nie. Dié huur het voortgeduur vir 'n tydperk van 3 maande, toe dit toevallig deur die verhuurder beëindig is. Die eiser se besigheid het tot 'n einde gekom.

My beskouing van die feite is die volgende. Die eiser is in 'n verleentheid geplaas wat veroor-saak is deur die handeling van die verweerder. Sy optrede in reaksie daarop was in alle opsigte rede-lik. Om sy tekort aan geld en gevolglike onvermoë om 'n bakkie te koop, te beskou as 'n beletsel om sy uitgawe aan huur te verhaal, sou onbillik en onreg-verdig wees teenoor hom. Die tydperk van 3 maande waartydens die eiser met 'n gehuurde bakkie sy

32 besigheid aan die gang gehou het, is nie onredelik lank teenoor die verweerder nie. Dit is nie onbillik of onregverdig om die verweerder verantwoordelik te hou vir die onkoste wat die eiser oor daardie tydperk aangegaan het om sy inkomste te behou nie. As 'n kwessie van beleid, behoort hierdie skade van die eiser die verweerder toegereken te word.

In die uitspraak van die hof a quo (op 165E-I, 179B en E, en 180E-F) is die vraag na die redelike voorsienbaarheid van die skade (in die betekenis wat FARLAM Wn R daaraan geheg het) beskou as die enkele deurslaggewende maatstaf om aanspreek-likheid te bepaal. In die lig van die uitsprake in Mokgethi supra en International Shippinq Co supra was daardie benadering nie korrek nie. Redelike voor-sienbaarheid kan wel as 'n ondergeskikte toets gebruik word by die toepassing van die soepele maat-staf, maar dit kan dit nie verdring nie. Op daardie

33 grondslag stem ek in die breedste terme saam met die gevolgtrekking van die hof a quo dat die eiser se skade redelik voorsienbaar was, maar terselfdertyd dink ek nie dat die toets van redelike voorsienbaar-heid regtig van nut is om die eintlike probleme wat in verband met juridiese kousaliteit in 'n geval soos die huidige kan ontstaan, op te los nie, om redes wat weldra sal blyk.

In die betoog namens die verweerder voor hierdie Hof is dit aanvaar dat dit redelik voorsien-baar was dat die eienaar van die bakkie waarmee die verweerder in botsing gekom het, weens sy finansiële omstandighede nie in staat sou wees om 'n plaasver-vanger daarvoor te koop nie, soos die hof a quo bevind het (op 165H-I), maar is aangevoer dat dit nog nie daaruit volg dat die skade wat die eiser gely het redelik voorsienbaar was nie. Die verdere omstandig-hede wat in aanmerking geneem moet word, is dat die

34 eiser die bakkie vir die bedryf van sy besigheid gebruik het; dat die produksie van sy inkomste geheel en al van die gebruik van 'n bakkie afhanklik was; dat die eiser en sy besigheid so kapitaal-onkragtig was dat nie eens 'n deposito bygebring kon word om 'n bakkie op krediet te bekom nie; en dat die eiser versuim het om enige voorsiening te maak vir die gebeurlikheid dat sy bakkie iets kan oorkom, by wyse van die instandhouding van 'n reserwefonds of deur versekering uit te neem. Dit is hierdie sameloop van omstandighede, so is aangevoer, wat gelei het tot die eiser se skade, en dit is so 'n buitengewone sameloop van omstandighede dat dit aangemerk moet word as iets wat nie redelikerwyse voorsienbaar was nie. Daar is veral klem gelê op die eiser se verwytbare versuim om homself te beskerm by wyse van 'n reserwefonds of versekering, en in hierdie verband is ons verwys na sekere uitlatings in 'n Kanadese beslissing en in 'n

35

artikel in 'n Kanadese regstydskrif (Albertan Caterers Ltd v R Vollan (Alta) Ltd et al 81 DLR (3rd) 672 op 683 en The Canadian Bar Review Vol LXVI 129 op 130). In die loop van die argument is voorbeelde voorgehou van die eienaar van 'n seevarende skip of 'n groot fabriek sonder reserwes of versekering, wat enorme bedrae van skadevergoeding ten opsigte van verlore inkomste sou wou verhaal van 'n verweerder wat nalatig die skip laat sink of die fabriek laat afbrand het. Die beginselvraag, so is aangevoer, is of die eienaar van die skip, of die fabriek, of die bakkie, toegelaat moet word om die huurgeld van 'n plaasvervangende voorwerp te verhaal vanaf die datum van die delik tot op die datum wanneer hy vonnis teen die verweerder verkry vir die betaling van die mark-waarde van die verlore artikel. In die huidige geval het die botsing plaasgevind op 22 Desember 1988. Die verhoor in die landdroshof het plaasgevind op 25

36 Januarie 1990, en vonnis is op daardie datum verleen. As die eiser se huur van Esau se bakkie nie toevallig na 3 maande beëindig is nie en die huur oor die hele periode voortgesit sou gewees het, sou die bedrag van sy vordering bykans R20 000 beloop het, terwyl die waarde van die bakkie (volgens ooreenkoms) maar net R3 630 was. Al hierdie oorwegings, so is ten slotte aangevoer, toon aan dat die eiser se eis in beginsel verwerp moet word.

Ter aanvang van die bespreking van die voorgaande betoog ag ek dit noodsaaklik om 'n paar opmerkings van 'n algemene aard voorop te stel. Die belangrikheid en die krag van die oorheersende maat-staf om vrae van juridiese kousaliteit op te los, wat in Mokgethi supra en International Shipping Co supra aanvaar is, lê juis in die soepelheid daarvan. Dit is my oortuiging dat enige poging om aan die buig-saamheid daarvan afbreuk te doen, weerstaan moet

37 word. Vergelykings tussen die feite van die geval wat opgelos moet word en die feite van ander gevalle waarin daar alreeds 'n oplossing gevind is, of wat hipoteties kan ontstaan, kan vanselfsprekend nuttig en waardevol, en soms miskien selfs deurslaggewend, wees, maar 'n mens moet oppas om nie uit die verge-lykingsproses vaste of algemeen-geldende reëls of beginsels te probeer distilleer nie. Die argument dat die eiser se eis "in beginsel" verwerp moet word, is misplaas. Daar is net een "beginsel": om te bepaal of die eiser se skade te ver verwyderd is van die verweerder se handeling om laasgenoemde dit toe te reken, moet oorwegings van beleid, redelikheid, billikheid en regverdigheid toegepas word op die besondere feite van hierdie saak.

Op hierdie grondslag is die Kanadese bronne en die voorbeelde van vragskepe en groot fabrieke wat aan ons voorgehou is, alhoewel interessant, van

38 weinig nut by die oorweging van die huidige feite, wat darem te verskillend is van daardie soort gevalle (hoe húlle ook al opgelos behoort te word). Ons het te doen met die onbemiddelde eienaar van 'n motor-voertuig wat dit gebruik in 'n eenmansbesigheid waaruit hy sy lewe moet maak. Daar is derduisende sulke mense in ons land - huurmotorbestuurders, smouse, kleinbouers, kleinboere, verkoopsagente, en wat nog. Om te dink, in die sosio-ekonomiese toestande wat in ons land heers, dat sulke mense reserwefondse aanhou of versekering uitneem om hulle te beskerm teen die verlies van hulle voertuie, is gewoon onwerklik. Na my oordeel is dit vir elkeen wat op 'n openbare pad ry redelik voorsienbaar dat hy die risiko loop dat die eienaar van 'n voertuig waarmee hy bots, 'n onbemiddelde persoon is wat die voertuig gebruik om 'n lewe mee te maak, dat hy geldelik nie in staat sal wees om dadelik 'n ander

39 voertuig te koop nie (selfs nie met 'n deposito nie), en dat hy 'n ander voertuig sal moet huur om nie sy inkomste te verloor nie. Daarmee wil ek egter geen-sins te kenne gee dat ek redelike voorsienbaarheid as die beslissende toets sien nie; ek sê slegs dat ek verskil van die betoog namens die verweerder in hierdie verband. Die voorsienbaarheidstoets is 'n oneksakte maatstaf en geleerde mense kan verskil oor die uitslag van die toepassing daarvan op bepaalde feite, soos byvoorbeeld in verband met die sogenaamde talem qualem "reel" of die sogenaamde "eierskedel-gevalle" (vgl die uitspraak a quo op 180B; en Neethling en Potgieter in 1993 THRHR 157 op 161). Selfs al sou daar gemeen word dat die sameloop van omstandighede wat gelei het tot die eiser se skade, veral met verwysing na sy onvermoë om selfs 'n deposito op 'n ander bakkie te betaal, so uitsonder-lik is dat dit nie redelikerwyse voorsienbaar was

40 nie, sou my beskouing van die feite soos ek dit hierbo gestel het, dieselfde bly: die aanwending van die oorheersende buigsame maatstaf lei steeds tot die gevolgtrekking dat die eiser se skade die verweerder toegereken behoort te word.

Die oorblywende vraag wat in die betoog namens dle verweerder geopper is, verdien vervolgens aandag: moet 'n verweerder dan in 'n geval soos die huidige aanspreeklik gehou word vir al die skade wat opgeloop het vandat die delik gepleeg is totdat die verhoor van die saak plaasvind en vonnis toegestaan word, selfs al is die skadevergoeding (soos hier) bykans ses keer meer as die waarde van die voertuig? Die antwoord, soos altyd, is: dit hang af van die feite. Al die omstandighede moet in oënskou geneem word om, met die toepassing van die soepel maatstaf, te bepaal hoe ver die verweerder se aanspreeklikheid strek. Die suggestie in die betoog, van 'n bykans

41

grenslose aanspreeklikheid, is ongegrond. Die nodige begrensing lê in die maatstaf self, die toepassing waarvan in die huidige konteks veral toegespits sal wees op die redelikheid of andersins van die eiser se optrede en die grense van billikheid en regverdigheid teenoor die verweerder. In hierdie opsig lyk dit nie vir my of die toets van redelike voorsienbaarheid enige nuttige funksie kan vervul nie.

In die geval waar die beskadigde voertuig herstelbaar is, soos in Shrog v Valentine supra, sal die eiser se behoefte aan 'n gehuurde plaasvervanger uit die aard van die omstandighede tydsgebonde wees. As uitgangspunt is die posisie nie wesentlik verskil-lend waar die voertuig onherstelbaar beskadig is nie. Dit kan selfs nie van 'n vermoënde eiser verwag word om onmiddellik 'n ander voertuig te koop nie. Hy moet 'n redelike tyd gegun word om hom aan te pas by die verleentheid waarin die verweerder hom gedompel

42

het, om ' n geskikte ander voertuig te soek, om sy geldsake te reël, selfs om te oorweeg of dit nie gerade is om tydelik (of permanent) van besigheid of werk te verander nie. Gedurende 'n redelike tydperk van aanpassing is dit billik en regverdig dat die verweerder hom moet vergoed vir sy onkoste om 'n gehuurde voertuig te gebruik. Die geldelike posisie waarin die eiser hom bevind, is 'n faktor wat in aanmerking geneem moet word by die beoordeling van die redelikheid of onredelikheid van die eiser se optrede, ook met betrekking tot die tydperk waaroor die huur voortgesit word. 'n Ander faktor wat 'n rol kan speel, is die houding van die verweerder. As hy besef, of moet besef, dat hy aanspreeklik is om die eiser te vergoed vir die markwaarde van die beskadig-de voertuig, dan sou dit in sekere omstandighede as onredelik aangemerk kan word dat hy betaling van die eiser weerhou tot by die verhoor van die saak. So 'n

43 geval het voorgekom in Zweni and Another v Modimoqale 1993 (2) SA 192 (B AD). Die verweerders ('n staats-amptenaar en 'n staatsminister) het nie aanspreeklik-heid betwis om die eiseres te vergoed ten opsigte van die onherstelbare beskadiging van 'n motor wat sy in haar besigheid gebruik het nie, soos geblyk het uit die feit dat haar eis in dié verband toegegee is enkele dae voor die verhoor. Benewens daardie eis (vir R9 700) is die eiseres se verdere eis ten opsigte van onkoste aangegaan om 'n huurmotor te gebruik vir haar besigheid, deur die verhoorhof toegestaan vir die hele tydperk van die datum van die botsing tot die datum van die verhoor (ten bedrae van R12 852). Die appèl teen die beslissing van die verhoorhof is afgewys, op grond daarvan dat "the defendants unjustifiably 'kept the plaintiff out of her money' until after the commencement of the trial", en dat die toekenning van die betrokke eis

44

beskou is as "not only approprlate but also eminently

reasonable" (op 196C-E). In sy uitspraak het KOTZE

Wn AR gesê (op 196E):

"It should be stressed that the appropriate period during which consequential damage flowing from physical damage should be calculated depends on the facts of each particular case."

Dit is nie moontlik om riglyne vir die beoordeling

neer te lê wat op alle feitlike situasies van toepas-

sing sal wees nie.

Op die feite van die huidige saak is ek van oordeel dat die eiser, met inagneming van die predi-kament waarin hy hom bevind het, nie onredelik opge-tree het deur 'n bakkie te huur vir 'n tydperk van 3 maande nie, en dat dit nie onbillik of onregverdig is teenoor die verweerder om hom aanspreeklik te hou vir die vergoeding van die eiser se skade nie.

Om die voorgaande redes stem ek saam met die gevolgtrekking waartoe die hof a quo gekom het.

45 Ten slotte is dit nou nodig om kortliks kommentaar te lewer oor die verskillende maniere waarop hierdie saak in die landdroshof en in die hof a quo behandel is. Soos ons nou gesien het, lei albei metodes om die geskilpunt op te los tot die-selfde resultaat. Watter benadering is te verkies? My antwoord is dat dit nie nodig is om te kies nie. Dit is interessant om daarop te let dat in die Engelse reg die keuse tussen die twee benaderings inderdaad tot verskillende resultate aanleiding gee. In die konteks van 'n eiser se sogenaamde mitigasie-plig aanvaar die Engelse howe deurgaans dat die eiser se onvermoëndheid in aanmerking geneem moet word by die beoordeling van die redelikheid van sy optrede; dit word hom nie verwyt dat hy nie stappe gedoen het om sy skade te temper wat hy nie kon bekostig het nie. Die toonaangewende saak in dié verband is The Clippens Oil Co Ltd v Edinburgh and District Water

46

Trustees [1907] AC 291. Maar in The Edison, waar die

eisers se eis aan die hand van die kousaliteitsvraag

behandel is, het LORD WRIGHT die saak van Clippens

Oil onderskei, om tot die gevolgtrekking te kom dat

die eisers se onvermoëndheid wel in die weg staan van

hulle eis (sien die uitspraak a quo op 167D-G en

171B-F). Gevolglik is die keuse van beskouing in die

Engelse reg van wesenlike belang, en dit het

aanleiding tot baie probleme gegee. In McGregor on

Damaqes (15de uitg) par 321 op 195-6 is daar 'n

bespreking van die Engelse regspraak ná Clippens Oil

en The Edison (ook Liesbosch), wat afgesluit word met

die lakonieke opmerking dat

"... it is thought that the precise point at which the dictum in Clippens takes over from the decision in Liesbosch may still have to be worked out."

In ons reg bestaan die probleme nie.

Sonder die tirannie van die ratio van The Edison,

47

speel die redelikheidsmaatstaf by ons 'n deurslag-gewende rol by albei benaderings, soos blyk uit die hele bespreking hierbo. Dit is dus nie verbasend nie, maar te verwagte, dat die resultaat dieselfde sal wees. Daar kan egter gevalle voorkom waar dit dalk nodig sal word om 'n keuse te maak. Een moont-likheid is waar die ligging van die bewyslas 'n verskil kan maak. 'n Ander moontlikheid is dat in die ontwikkeling van ons reg 'n eis erken mag word vir die vergoeding van uitgawes om 'n beskadigde of ontneemde artikel deur 'n gehuurde artikel te vervang selfs waar eersgenoemde nie in die produksie van inkomste gebruik word nie, soos deur verskeie skrywers voorgestaan word (sien bv Lee en Honoré Law of Obliqations (2de uitg) par 576(iii) op 252; Boberg Law of Delict Vol 1 op 627; Stoll en Visser in 23 (1990) De Jure op 347 e v; en Neethling, Potgieter en Visser Deliktereg (2de uitg) op 231), in welke geval

48

daar nie 'n mitigasieplig in die tot nog toe erkende betekenis van die woord te pas kom nie. Aangesien dit in die huidige saak egter nie nodig is om 'n keuse te maak nie, gaan ek nie verder op daardie moontlikhede in nie.

Die appèl word van die hand gewys met koste.

A S BOTHA AR

E M GROSSKOPF AR

KUMLEBEN AR STEM SAAM

MAHOMED WND AR


VAN DEN HEEVER AR

2

Ek het die voorreg gehad om die meerderheidsuitspraak te lees en stem saam met alles daarin wat gaan oor die reg, met slegs een geringe voorbehoud. Ek het bedenkings of die redelikheid van 'n eiser se optrede beoordeel behoort te word teen die moontlike onredelikheid van dié van 'n verweerder wat betaling van die waarde van 'n beskadigde saak weerhou tot by die verhoor van die saak. Dit is onbillik teenoor alle eisers wat delikskade ly, dat geen rente gelas kan word nie op skadevergoeding totdat die bedrag daarvan deur getuienis of ooreenkoms bepaal is. Dit is 'n leemte in ons reg wat die aandag van die wetgewer verg (5A EAGLE INSURANCE CO LTD v HARTLEY 1990 (4) SA 833 (A) 941-G-842B) eerder as van die hof en dan boonop op 'n ad hoc grondslag.

Maar soos ek die getuienis verstaan, was dit nóg eiser se saak nóg bewys dat onvermoëndheid oorsaak was van sy gevolgskade. Sy probleem was eerder om dadelik 'n plaasvervanger te vind vir dit wat hy verloor

3

het. So 'n verskil in omlyning van die probleem kan beleidsbesluite verg wat nie in die onderhawige geval oorweeg is nie. Indien ek 'n artikel het met 'n markwaarde van slegs RX maar geen plaasvervanger daarvoor kan vind teen daardie prys nie, is ek geregtig om op koste van die verweerder 'n (waarskynlik meer moderne en beter) plaasvervanger daarvan aan te skaf teen dubbel die prys? - want dit is wat eiser voornemens was om te doen. Sy getuienis m.b.t. syfers was amper so deurmekaar as ander feitelike bewerings gemaak in die loop van sy meermaal gewysigde pleitstukke. Hy het byvoorbeeld aanvanklik beweer dat hy 'n ander bakkie van Dorothy Hoffman gekry het om sy besigheid mee voort te sit. By die aanvang van die verhoor verdwyn sy uit die stukke en word haar naam vervang met die van Patrick Esau. Volgens sy pleitstukke was dit sy omset wat ongeveer R300 per dag was. In sy getuienis word "omset" en "wins" blykbaar sinoniem beskou. Daar is egter namens verweerder voor ons toegegee dat aanvaar kan word

4

dat eiser se wins darem meer as R60 per dag was terwyl

hy met sy bakkie gesmous het.

Waar hy aanvanklik huur vir 'n

plaasvervangende voertuig vir 'n onbepaalde tyd gevorder

het, is dit beperk in nadere besonderhede tot 30

November 1989. By die aanvang van die verhoor is die

tweede eis verminder om slegs huur te vorder vir ses dae

per week vanaf 24 Desember 1988 tot 24 Maart 1989. Wat

betref 'n plaasvervangende bakkie was sy getuienis in

hoof as volg aangeteken:

"Ek het probeer om bakkie te koop by Atlantis Toyota Motors en by 'Auctions'. Daar was 'n bakkie vir R9 000 maar ek kon dit nie bekostig nie. Ek het ook nie 'deposit' gehad nie."

Hy sê nie dit was die goedkoopste wat hy kon vind, of

die eweknie van wat hy verloor het nie. Hy self het

"nooit gedink" aan die waarde van sy beskadigde voertuig

nie, ondanks die feit dat namens hom 'n landdroshofreël

24 (9) kennisgewing geliasseer is waarvolgens hy

voornemens was om deskundige getuienis aan te bied dat

5 "the market value of the Plaintiff's mctor vehicle just prior to the collision was the sum of R5 000". Van hierdie voorneme het niks gekom nie omdat daar by die aanvang van die verhoor ooreengekom is op die markwaarde. Qnder kruisverhoor het hy vertel dat hy R2 500 na die ongeluk gehad het om 'n voertuig te koop, en dat hy van plan was om R9 000 te betaal vir 'n plaasvervanger, wat hy gemeen het dat hy 'n jaar na die botsing sou kon vermag. Dit is aan hom gestel dat hy een sou kon gekoop het vir R5 000. Ek aanvaar hierdie bedrag kom uit sy eie reël 24 (9) kennisgewing. Sy antwoord op hierdie stelling was "Miskien hier rond maar nie waar ek bly nie". Daar is nie verder ingegaan op besonderhede van sy pogings om 'n plaasvervangende voertuig te bekom nie. Daar is egter geen getuienis deur verweerder aangevoer dat eiser binne minder as drie maande 'n plaasvervanger vir dit wat hy verloor het sou kon gevind het nie. Volgens die pleitstukke was dit 'n bejaarde bakkie, 'n 1975 Toyota Hilux. Volgens die

6 ooreenkoms tussen die partye was dit slegs R3 630 werd.

Die landdros se bevinuing dat die verweerder hom nie gekwyt het van die bewyslas om te toon dat eiser se optrede onredelik was nie, nóg wat betref die eiser se uitgawe op huur, nóg wat betref die tydperk daarvan, kan nie aangekyf word nie.

Indien dit pertinent by die verhoor geopper was dat eiser nie 'n plaasvervangende voertuig kon koop nie vanweë sy onvermoendheid (en nie omdat hy gemik het na 'n verbetering op dit wat vernietig is nie. Die verweerder se plig is om eiser te vergoed vir sy skade, nie om hom te verryk nie) en dat die perke van verweerder se aanspreeklikheid t.a.v. die tweede vordering beoordeel moet word aan die hand van juridiese kousaliteit, sou die oorkonde waarskynlik anders gelyk het as dié aan ons voorgelê. Alles hang inderdaad altyd af van die feite, by die beoordeling van waar die streep getrek behoort te word om juridiese kousaliteit te bepaal. Die tersaaklike feite is na my mening, met

7 eerbied, nie behoorlik uitgepluis in die onderhawige saak nie, omdat dit nie die grondslag was waarop die verhoor van die saak gevoer is nis.

Ek stem saam dat die appél van die hand gewys word met koste.

L VAN DEN HEEVER AR


▲ To the top

Cited documents 0

Documents citing this one 1

Judgment 1
  1. De Klerk v Minister of Police [2019] ZACC 32 (22 August 2019)