S v Kate (343/1992) [1994] ZASCA 65 (17 May 1994)


Saak no 343/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPéLAFDELING)

In die saak tussen

WAKE RONTANE KATE Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM : HEFER, NESTADT et VAN DEN HEEVER ARR AANGEHOOR : 6 MEI 1994 GELEWER : 17 MEI 1994

UITSPRAAK

HEFER AR/...

6.

HEFER AR:

Wat in hierdie appèl - gemik teen die appellant se skuldigbevinding aan moord en die opgelegde vonnis van twintig jaar gevangenisstraf -hoofsaaklik ter sprake is, is die toelaatbaarheid van 'n bekentenis wat hy, na sy arrestasie en aanvanklike ondervraging deur die polisie, aan 'n landdros gemaak het en by die verhoor toegelaat is. In geskil is die effek van die versuim deur die polisie en die landdros wat die bekentenis afgeneem het om die appellant te verwittig van sy reg op regsverteenwoordiging ooreenkomstig art 73(1) van die Strafproseswet 51 van 1979.

In eerste instansie moet opgemerk word dat die geskil nie beslis kan word, soos appellant se advokaat aangevoer het, op grond van algemene beginsels van billikheid en geregtigheid en die onbetwisbare aanspraak van 'n aangeklaagde op 'n

3

regverdige verhoor nie. In S v Rudman and

Another; S v Mthwana 1992(1) SA 343 (A) op 377 B-D

het hierdie hof daarop gewys dat

"[the] Court of Appeal does not enquire whether the trial was fair in accordance with 'notions of basic fairness and justice', or with 'the ideas underlying ... the concept of justice which are the basis of all civilized systems of criminal administration'. The enguiry is whether there has been an irregularity or illegality, that is a departure from the formalities, rules and principles of procedure according to which our law requires a criminal trial to be initiated or conducted. It is true that those formalities, rules and principles have been designed to ensure a fair trial, but DIDCOTT J was in error when he said that an irregularity encompassed every flaw in the way a criminal trial is run which renders it truly unfair."

Daarom gaan dit nie om die vraag of die versuim om

'n aangehoudene in te lig oor sy reg op

regsverteenwoordiging billik of onbillik in 'n

algemene sin is nie, maar wel om die vraag of so 'n

versuim strydig is met die reëls en beginsels van

4

die geldende reg ten aansien van die prosedure voor en tydens 'n verhoor.

Vir huidige doeleindes is dit nie nodig om 'n besliste antwoord op hierdie vraag te verskaf nie aangesien, soos aanstons sal blyk, die versuim in die onderhawige geval die appellant nie tot voordeel kan strek nie. Ek sê dit op grond daarvan dat hierdie hof reeds op twee geleenthede - in S v Mabaso and Another 1990(3) SA 185 op 205 D-E en in S v Rudman supra op 382 C-H - met goedkeuring verwys het na die beslissing in S v Radebe, S v Mbonani 1988(1) SA 191 (T) waarin aangedui is dat die versuim van 'n landdros om die beskuldigde by 'n verhoor te verwittig van sy reg op verteenwoordiging nie per se as 'n onreëlmatigheid bestempel kan word nie maar 'n onreëlmatigheid mag uitmaak, afhangende van die feite van elke besondere saak. In Mabaso, waarin dieselfde beginsel toegepas is ten opsigte

5

van die versuim van 'n landdros by verrigtinge

ooreenkomstig art 119 van die Strafproseswet,

verskyn die volgende op 204 C-D:

"Where a general duty rests upon a judicial officer to inform an unrepresented accused that he has a right to be legally represented, the failure to discharge that duty does not inevitably involve the commission of an irregularity in the judicial proceedings involved. Whether or not an irregularity has been committed will always hinge upon the peculiar facts of the case; and it need hardly be said that much depends upon the extent of the accused's own knowledge of his rights."

In 'n geval soos die onderhawige gaan dit

inderdaad nie om 'n "onreëlmatigheid" in 'n suiwer

geregtelike proses nie; die versuim om die

appellant in te lig het in die voor-verhoor stadium

geskied. Nogtans is ek, in die lig van die

beslissings waarna so pas verwys is, bereid om

argumentshalwe 'n plig om 'n aangehoudende in te lig

oor sy reg om regsverteenwoordiging te bekom voordat

6

'n bekentenis afgeneem word te aanvaar. Die effek van versuim om dit na te kom kan egter nouliks anders wees. Op sigself kan dit nie tot gevolg hê dat 'n bekentenis ipso facto ontoelaatbaar is nie. Alles hang af van die feite van elke besondere saak (vgl S v Moiefe and Others 1991(4) SA 266 (E) op 271

I).

In die onderhawige geval blyk dit uit die appellant se kruisondervraging dat hy, uit hoofde van 'n vorige botsing met die gereg, te alle tye volkome bewus was van sy reg op regsverteenwoordi-ging. Boonop het hy bevestigend geantwoord op die vraag: "Is it because you had lack of funds that you didn't ask for the services of a legal representative after your arrest?" Die polisie en die landdros kon hom dus niks vertel wat hy nie reeds geweet het nie. Sy advokaat het aangevoer dat hulle hom moes verwittig het van die moontlikheid om

7

aansoek te doen om gratis bystand by die Regshulpraad omdat hy, volgens sy getuienis, nie bewus was van hierdie moontlikheid nie. Indien aanvaar word dat hy hieroor ingelig moes gewees het, meen ek egter nie dat dit die saak enigsins verder neem nie. Sy getuienis is tereg deur die verhoorhof verwerp as leuenagtig in alle wesenlike opsigte. Boonop het hy nie te kenne gegee dat hy van die geleentheid gebruik sou gemaak het indien hy geweet het van die moontlikheid om gratis bystand te bekom nie. Inteendeel blyk dit dat hy later by die verrigtinge ooreenkomstig art 119 van daardie moontlikheid verwittig is en dat hy versuim het om die dokumente wat hy vir daardie doel moes voltooi, in te vul en terug te besorg. Sy lakonieke verduideliking was: "We (verwysende na hom en sy vrou) could not write to fill in those forms. I took those forms to the jail and I put them there."

8

Die indruk dat sake geensins anders sou

verloop het indien hy vroegtydig verwittig is van

die moontlikheid om by die Regshulpraad aan te klop

om bystand nie, word verder versterk deur wat

gebeur het toe hy die bekentenis afgelê het. Hy is

naamlik soos gewoonlik gewaarsku dat hy nie verplig

was om enige verklaring hoegenaamd af te lê nie maar

dat, indien hy dit sou doen, dit neergeskryf sou

word en later as getuienis teen hom gebruik word.

Nadat hy bevestig het dat hy die waarskuwing

verstaan, is hy gevra waarom hy die verklaring wou

maak. Sy antwoord was:

"Ek wil 'n volle verklaring maak ek het daardie vroumens doodgemaak want ek was gekoop."

Gevra hoe hy geweet het dat hy 'n verklaring by die

landdros kon aflê, was sy antwoord:

"Ek het die polisie gevra. Toe sê hulle dat as ek wil sal hulle my 'n kans gee om my verklaring hier te kom aflê."

9

Klaarblyklik het die moord wat hy gepleeg het, hom

erg gehinder want in die verklaring het hy te kenne

gegee dat hy van die plaas wou vlug omdat "ek nog

nooit soiets gedoen het nie en die persoon kom altyd

voor my". Elders het hy beskryf hoe van die werkers

op 'n naburige plaas hom oorrompel en aan die

polisie oorhandig het en bygevoeg:

"Ek keer toe nie, ek wil graag mense hê wat my na die polisie kan vat."

Die indruk is onvermydelik dat hy, nie net bereid

nie, maar inderdaad begerig was om sy skuld te

beken.

In die lig van die voorafgaande het die versuim om die appellant in te lig geen effek op die toelaatbaarheid van die bekentenis nie en is dit tereg by die verhoor toegelaat.

Namens die appellant is voorts betoog dat sy skuld nie bo redelike twyfel bewys is nie omdat

10

sy bekentenis wesenlik afwyk van die bewese feite. Die enigste feit waarna ons egter verwys is, is dat die oorledene se dood heel waarskynlik te wyte was aan 'n gebreekte nek eerder as aan verwurging soos die appellant in the bekentenis te kenne gegee het. Dit is myns insiens nie 'n wesenlike afwyking nie. Na haar dood het die lykskouer skaafmerke aan die oorledene se nek gevind wat in ooreenstemming is met die appellant se weergawe dat hy haar verwurg het. Sy was 'n tenger vrou wat slegs 48kg geweeg het; dat hy nie besef het dat hy haar nek in die proses gebreek het nie, doen geen afbreuk aan die aanvaarding van sy weergawe in die bekentenis nie.

Appellant se advokaat het verder aangevoer dat die verhoorhof foutiewelik staat-gemaak het op die getuienis van die appellant se vrou as wesenlike stawing vir die bekentenis ten spyte daarvan dat dit uitdruklik in die uitspraak

11

vermeld word dat haar getuienis ongeloofwaardig was. Die betoog is ongetwyfeld korrek maar daar is in elk geval voldoende stawing van die bekentenis in ander getuienis. Boonop staan dit buite twyfel dat die oorledene vermoor is sodat voldoen is aan die vereistes van art 209 van die Strafproseswet.

Om hierdie redes kan daar nie ingemeng word met die skuldigbevinding nie.

Die appêl teen die vonnis van twintig jaar gevangenisstraf kan ook nie gehandhaaf word nie. Appellant se advokaat het bloot aan die hand gedoen dat die vonnis buitensporig swaar is. Dit blyk egter uit die bekentenis dat die appellant met vier beeste gehuur is om die moord te pleeg. Gedagtig aan die opmerkings in uitsprake soos S v Mlumbi en 'n Ander 1991(1) SACR 235 (A) op 251 g-h en S v Dlomo and Others 1991(2) SACR 473 (A) op 477 j -

12

478 a, kan hy homself gelukkig dat hy nie die doodvonnis opgelê is nie.

Die appèl word van die hand gewys.

J J F HEFER AR.

NESTADT AR )

Stem saam VAN DEN HEEVER AR )

▲ To the top