S v Pekrer (276/1993) [1994] ZASCA 72 (24 May 1994)


SShape1 aak nr 276/93 E du Plooy

IN DIE HOOGGEREGSH0F VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

COLLIN TREVOR PEKRER Appellant

en

DIE STAAT Respondent

Coram: VAN HEERDEN, F H GROSSKOPF et HARMS ARR.

Verhoordatum: Lewerinqsdatum:

11 Mei 1994 24 Mei 1994.

2

UITSPRAAK

F H GROSSKOPF AR:

Die appellant is in die Kaapse Provinsiale Afdeling skuldig bevind op twee aanklagte van moord asook aan roof met verswarende omstandighede en poging tot verkragting. Hy is die doodvonnis opgelê op elkeen van die twee moordklagtes. Vir die roof is hy tot 5 jaar gevangenisstraf gevonnis en vir die poging tot verkragting tot 10 jaar gevangenisstraf. Hoewel die appellant aanvanklik teen sowel die skuldigbevindings as die vonnisse op die twee moordklagtes geappelleer het, is sy appèl nou beperk tot die twee doodvonnisse wat hom opgelê is.

Dit was 'n bejaarde egpaar wat op 18 Maart 1991 in die slaapkamer van hulle huis in Seepunt vermoor is. Hulle was beide 79 jaar oud. Albei is verwurg, die man met 'n das wat drie maal baie styf om sy nek gebind was en toe geknoop was, en die vrou met 'n serp wat twee keer

3

baie styf om haar nek gedraai en toe geknoop was. Die man se hande was met 'n das aanmekaar gebind gewees, en so ook sy voete by die enkels. Daar is 'n lang skerp vleismes langs hom op die bed gevind, maar die enigste besering wat daardeur veroorsaak kon gewees het, was 'n snywond aan die man se linkerduim.

Dit blyk uit sekere erkennings wat by die aanvang van die verhoor gemaak is dat die oorledenes se dogter hulle omstreeks 20:15 die aand gebel het en dat hulle toe nog televisie gekyk het. Die getuienis dui daarop dat hulle binne 'n halfuur nadat hulle geëet het, en voordat hulle gaan slaap het, in hulle slaapkamer oorval en vermoor is. Die boosdoener se aanvanklike oogmerk was klaarblyklik roof, maar dit het toe uitgeloop op die sinnelose moord van hierdie twee weerlose ou mense.

Die appellant se vingerafdrukke is op die deurkosyne van die twee slaapkamers in die huis gevind. Die appellant het dan ook by die aanvang van die verhoor

4

erken dat hy die betrokke aand in die huis van die oorledenes aanwesig was. Hy het egter aangevoer dat hy nie op sy eie soontoe is nie, maar dat hy saam met 'n sekere Igshaan Herman na die huis gegaan het. Hierdie Herman was 'n staatsgetuie. Hy het ontken dat hy enige kennis van die misdade dra. Volgens sy getuienis het hy die appellant slegs van sien geken. Hy het uitdruklik ontken dat hy ooit by die oorledenes se huis was, hetsy saam met die appellant of alleen. Hy weet nie eens waar die huis geleë is nie. Geen van die vingerafdrukke wat in die huis gevind is, het Herman met die misdade verbind nie. Die Hof a quo het Herman se getuienis dat hy nie daar was nie, aanvaar.

Die appellant het getuig dat hy die betrokke aand vir Herman op die Parade ontmoet het en dat hy toe op uitnodiging van Herman saam met hom na die huis in Seepunt gegaan het. Herman het hom laat verstaan dat hy daar woon en dat hy net gou wou gaan verklee. Die appellant het beweer dat hyself dronk was en dat hy niks

5

vreemds die aand by die huis agtergekom het nie. Hierdie weergawe van die appellant was in die lig van al die getuienis so ongeloofwaardig en vergesog dat die Hof a (quo bevind het dat dit nie redelik moontlik waar kan wees nie. Die appellant se getuienis was trouens so swak dat die Hof a quo dit onomwonde en in die geheel as vals verwerp het. Die appellant se poging om Herman valslik by die pleging van die misdade te betrek en om die skuld op hom te pak, het gevolglik misluk. Die appellant het dus vals inligting omtrent die identiteit van sy beweerde mededader aan die Hof a quo verstrek. Die enigste redelike afleiding is dat daar inderdaad geen mededader was nie. Die appellant kan tog nie in die alternatief aanvoer dat daar nogtans 'n redelike moontlikheid bestaan dat daar 'n ander ongeïdentifiseerde persoon teenwoordig was toe die misdade gepleeg is nie. Die Hof a quo was inderdaad nie bereid om te spekuleer oor die moontlike teenwoordigheid van so 'n ander persoon nie. Gevolglik sou dit myns insiens ook geen doel dien om te spekuleer

6

oor die rol wat die appellant moontlik by die pleging van die misdade sou gespeel het indien daar wel so 'n denkbeeldige mededader teenwoordig was nie. Die vraag of die doodvonnisse die enigste gepaste vonnisse was, moet dus beoordeel word in die lig van die bewese feite, naamlik dat die appellant alleen vir die pleging van die misdade verantwoordelik was.

Die appellant se advokaat het by die aanvang van die verhoor in hierdie Hof betoog dat die oplegging van die doodvonnis onkonstitusioneel is in die lig van die bepalings van arts 9 en 11(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 200 van 1993 soos gewysig, ("die Grondwet"), wat op 27 April 1994 in werking getree het. Die respondent se advokaat het hom daarenteen op die oorgangsbepalings van art 241(8) van die Grondwet beroep. Daar sal later na hierdie aspek teruggekeer word nadat daar beslis is of die doodvonnisse op meriete bekragtig behoort te word.

Na my oordeel is daar slegs enkele

7 strafversagtende faktore wat in ieder geval nie veel gewig dra nie. Die appellant was weliswaar nog redelik jonk toe hy hierdie misdade gepleeg het, naamlik 21 jaar en 8 maande. Hoewel hy destyds drie vorige veroordelings gehad het, was die appellant nie voorheen aan enige geweldsmisdaad skuldig bevind nie. Hy het wel voorheen 'n termyn van gevangenisstraf uitgedien nadat hy in 1989 tot 30 maande gevangenisstraf gevonnis is vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal. Die appellant se advokaat het sy problematiese kinderjare en agtergrond as 'n verdere strafversagtende faktor beklemtoon. Dit slaan veral op die probleme wat daar later tussen die appellant en sy stiefpa ontstaan het. Dit blyk egter uit die getuienis van die appellant se moeder dat sy hom deurgaans met liefde ondersteun en gehelp het en dat sy hom 'n goeie opvoeding gegee het. Wat die appellant se beweerde dronkenskap betref, het die Hof a quo myns insiens tereg bevind dat sterk drank geen rol by die pleging van die misdade gespeel het nie.

8

Die strafverswarende faktore is voor die hand liggend en beslis van veel groter gewig as die enkele strafversagtende faktore. Die appellant het die huis wederregtelik in die nag betree met roof as oogmerk. Hy het die twee weerlose ou mense in hulle slaapkamer oorval en hulle daar sonder genade en met direkte opset wreed vermoor, waarskynlik slegs om latere uitkenning te verhoed.

Hierdie Hof het reeds by herhaling beslis dat die gemeenskapsbelang in dergelike omstandighede swaar weeg, en dat afskrikking en vergelding sterk na vore tree wanneer die hoof oogmerke van straftoemeting in sulke gevalle oorweeg word. Hoewel die moontlikheid van die appellant se rehabilitasie sekerlik nie buite rekening gelaat kan word nie, moet dit egter ook in gedagte gehou word dat die appellant hierdie misdade gepleeg het skaars 'n maand nadat hy op parool vrygelaat is.

In die lig van die voorgaande oorwegings is ek van oordeel dat die doodvonnisse vir die twee moorde die

9

enigste gepaste straf vir die appellant is, en was dit nie vir die bepalings van die Grondwet nie, sou hierdie Hof die appêl afgewys het en die doodvonnisse bekragtig het. Weens die bepalings van art 101(5), gelees met art 98(2) van die Grondwet het die Konstitusionele Hof uitsluitlike jurisdiksie ten aansien van die vrae wat ontstaan rondom die konstitusionaliteit van die doodvonnis en die oplegging daaryan. Die Staat steun weliswaar op die oorgangsbepalings vervat in art 241(8) van die Grondwet, maar aangesien daar meer as een moontlike uitleg van hierdie artikel bestaan, is dit wenslik dat die vertolking daarvan ook aan die Konstitusionele Hof oorgelaat word. Dit volg dus dat die huidige appél nie afgehandel kan word totdat die Konstitusionele Hof uitsluitsel oor hierdie vrae gegee het nie.

10

Die afhandeling van die appèl teen die doodvonnisse word gevolglik uitgestel na 'n datum wat deur die griffier in oorleg met die Hoofregter bepaal sal word.

F H GROSSKOPF AR

VAR HEERDEN AR)

HARMS AR) Stem saam

▲ To the top