1
Saaknommer: 305/93
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
CHRISTINA JOHANNA GROENEWALD Appellant
teen
DIE STAAT Respondent
CORAM: VAN HEERDEN, SMALBERGER
et NIENABER ARR
VERHOORDATUM: 23 MEI 1994
LENERINGSDATUM: 30 MEI 1994
UITSPRAAK NIENABER AR:
Die uitspraak van Smalberger AR het ek ter insae gehad. Ongelukkig verskil ek van hom. Na my mening is die vonnis van drie jaar gevangenisstraf wat die appellant opgelê is volkome vanpas en behoort haar appèl gevolglik van die hand gewys te word.
2 Die appellant, 'n 40-jarige geskeide vrou, het skuldig
gepleit maar nie getuig nie. Mens weet dus nie wat haar
presies besiel het om oor 'n tydperk van meer as vyf jaar en
by meer as 1500 verskillende geleenthede bedrieglike
inskrywings in die rekeningboeke van die Handelshuis te maak
en die voordeel daarvan vir haarself in te palm nie. Sy was
'n rekenaaroperatrise by die Handelshuis. Haar modus ooerandi
was tweërlei van aard. Die een metode was om goed uit
voorraad vir haarself te vat maar teen die rekeningstate van
'n verskeidenheid van klante van die Handelshuis te debiteer,
in die vertroue dat hulle daarvoor sou betaal sonder om agter
te kom wat eintlik aan die gang is. Die totaal was ongeveer
R32 000,00. Dat die bedraggies telkens klein was, tel nie in
haar guns nie: dit was immers deel van die slinkse plan. Was
die bedrae groter, sou haar slagoffers stellig onraad bemerk
het en sou die appellant se gekonkel vroeg reeds op die lappe
gekom het. Die ander metode was om goed aan te koop en die
joernaal so te dokter dat dit lyk of sy daarvoor betaal het.
Op dié manier het sy haarself oor dieselfde tydperk van vyf
3 jaar met minstens R6 968,85 bevoordeel.
Volgens die verhoorhof het haar optrede getoon dat die
appellant "inherent oneerlik" was. Die skaal waarop sy die
bedrog gepleeg het (R39 000,00), die lang tydperk waaroor dit
gestrek het en die bedrewendheid waarmee dit alles geskied
het, was van so 'n aard dat daar nie gesê kan word dat die
verhoorhof in sy beoordeling van die appellant se karakter-
eienskappe fouteer het nie. Dat sy 'n skelm drinker was en
meer geld nodig gehad het om drank mee te koop as wat sy op 'n
eerlike manier kon verdien, kan geredelik aanvaar word. Dit
verduidelik dalk haar optrede; dit doen nie af aan haar
oneerlikheid nie, net so min as wat 'n dobbelaar agter sy
dobbelsug kan skuil wanneer hy dobbelgeld steel. Daar was
geen getuienis voor die hof dat die appellant as gevolg van
haar verslaafdheid óf impulsief óf kompulsief opgetree het
nie. Oor 'n periode van vyf jaar sou sy, as sy inherent
eerlik was, meer as genoeg kans gehad het om te besin en tot
inkeer te kom en hulp te soek sonder om haar na skelmstreke te
wend om haar drang na drank te bevredig. Nie elke alkoholis
4 is 'n dief of 'n bedrieër nie. Per slot van rekening is daar
altyd die een of ander rede vir 'n misdaad waarby oneerlikheid
betrokke is - sy dit dranksug, dwelmsug, hebsug, of enige van
die legio redes waarom mense kul om geld of goed in die hande
te kry. Vanselfsprekend is die aansporing tot iemand se
gedrag altyd 'n faktor, dalk die belangrikste oorweging,
wanneer dit by vonnisoplegging kom. Maar les bes bly dit 'n
kwessie van graad en oordeel. Na my oordeel regverdig die
omvang, die tydsduur, die skelmagtigheid en die doelgerigtheid
waarmee die appellant opgetree het niks minder as direkte
tronkstraf nie en ek kan geen fout vind met die tydperk wat
die verhoorhof daarvoor opgelê het nie. Dit is wel so dat sy
'n eerste oortreder is en bereid was om haar werkgewer, met
behulp van haar familie, te vergoed. Daarsonder sou die
vonnis wat die verhoorhof opgelê het, stellig swaarder gewees
het.
Die appèl word afgewys.
P M Nienaber AR Van Heerden AR stem saam.
UITSPRAAK SMALBERGER, AR :-
Die appellant, wat skuldig gepleit het, is in die streekhof te Calvinia aan 1532 aanklagte van bedrog skuldig bevind. Die aanklagte is saamgeneem vir die doeleindes van vonnis en sy is drie jaar gevangenisstraf opgelê. Haar appèl teen vonnis is deur die Kaapse
2
Provinsiale Afdeling van die hand gewys. Sy kom nou in hoër beroep met verlof van hierdie Hof.
Die betrokke misdade is oor die tydperk Desember 1986 tot Januarie 1992 gepleeg terwyl die appellant by die Williston Handelskoöperasie Bpk ("die Handelshuis") as 'n rekeningklerk werksaam was. Die aanklagte het betrekking op aankope wat sy vir haarself gemaak het by die Handelshuis en oorgeplaas het na die rekeninge van verskillende klante van die Handelshuis, asook die vervalsing van haar eie rekening met die Handelshuis. Die totale bedrag betrokke was in die omgewing van R39 000-00. Dit blyk uit die besonderhede tot die klagstaat dat van die aanklagte betrekking het op bedrae van minder as R2-00 en dat die gemiddelde bedrag per aanklag beloop ongeveer R25-00.
Na die appellant skuldig bevind is, het haar regsverteenwoordiger onder andere die volgende feite (wat blykbaar deur die Staat aanvaar is - ten minste
3
stilswyend) aan die verhoorlanddros deurgegee:
"Beskuldigde is 40 jaar oud, geskei en het 2 kinders 15 en 14 jaar onderskeidelik. Sy is tans werkloos.
Sy is in 1981 die eerste maal geskei en daardie eggenoot is die vader van haar 2 kinders. Die egskeiding was baie traumaties
vir haar.
In September 1982 het sy weer getrou. Hierdie huwelik was stormagtig en problematies vir haar. Onder andere is sy fisies aangerand, sielkundig afgetakel, haar menswaardigheid is aangetas. Nogtans het sy bly vasklou aan die 2de man. Beskuldigde het egter begin drink en alkohol gebruik.
In 1983 is die 2de huwelik beëindig maar teen daardie tyd was die drink patroon gevestig. Sy het skelm gedrink.
Beskuldigde gaan bly by haar ma in Williston. In 1984 begin sy werk by die Koöperasie en haar drankgebruik het sy gang geloop.
Die probleem met die stelery begin nou. Sy betaal - sorg - vir haar drank maar het nie geld vir kos nie. Beskuldigde steel toe. So beland sy in 'n bose kringloop. Haar gewete word so gesus en dan steel sy weer.
In 1987, Desember, probeer sy selfmoord pleeg deur vergassing. Haar vriende vind haar en sy word gehospitaliseer.
4
Sy word na 'n sielkundige verwys maar sy verswyg haar drankprobleem. Later het die drank haar werk affekteer."
Die appellant is 'n eerste oortreder. Sy het blykbaar berou oor wat sy gedoen het en het haar volle samewerking aan die Polisie gebied. Mnr Reitz, die bestuurder van die Handelshuis, het getuig dat die Handelshuis sy kliënte vir hulle verliese vergoed het. Volgens hom het die appellant reëlings getref om die skade wat die Handelshuis gely het, terug te betaal. Sy het 'n lewenspolis van R30 000-00 aan die Handelshuis sedeer en gereël om met die hulp van haar familie afbetalings van R200-00 per maand te maak. Ofskoon die Handelshuis nie bereid was om haar weer in diens te neem nie, was die direksie se houding dat sy nie tronk toe moes gaan nie.
Daar is ook, met goedkeuring van die Staat, drie mediese verslae ingehandig wat betrekking het op
5
die appellant se alkohol-probleem soos dit destyds
voorgekom het. Die eerste verslag was dié van 'n
psigiater, dr Munnik, wat op 13 Februarie 1992 deur die
appellant geraadpleeg is. Soos uit sy verslag blyk,
het die appellant aanvanklik haar drankprobleem verswyg.
Dit het egter aan die lig gekom nadat sekere lewer-
funksietoetse gedoen is. Dr Munnik was van mening dat
die appellant "has a considerable alcohol problem which
has resulted in severe liver damage". Die appellant
is mettertyd na Stikland Hospitaal vir verdere
behandeling verwys. In die verslag wat namens die
mediese superintendent opgestel is, word daar onder
andere gemeld:
"[N]a konfrontasie rondom abnormale bloed-uitslae wat dui op erge alkohol-inname (abnormale lewerfunksies), bevestig sy 'n patologiese alkohol-gebruikspatroon. Sy beskryf ook 'n beeld van alkoholonttrekking wat bevestigend is — van alkohol-afhanklikheid."
6
'n Diagnose van alkohol-afhanklikheid is gemaak. Die
appellant is toe oorgeplaas na die Ramot Sentrum vir
Alkoholiste vir alkohol-rehabilitasie. Sy is vir vier
weke daar behandel. Luidens die verslag van die
Direkteur was die appellant se samewerking, motivering
en vordering goed. Vanaf haar ontslag uit Ramot tot die
datum van haar verhoor het die appellant blykbaar nie
weer alkohol misbruik nie.
Ondanks hierdie verslae en die onbetwiste
feitlike mededelings wat gemaak is, kom die
verhoorlanddros tot díe gevolgtrekking, met verwysing na
die appellant:
"Doodnormale persoon wat so 'n bietjie te diep
in die bottel gekyk het, dalk oor 'n tydperk,
maar werklik nie veel skade opgedoen het nie
en wat binne-in 'n kort tydperk gerehabiliteer
is by Ramot "
Na my mening het die verhoorlanddros die appellant se
alkohol-afhanklikheid, en die gevolge daarvan, gans te
lig aangeslaan. Dit het klaarblyklik aan die wortel
7
van haar probleme, en gepaardgaande bedrieglike optrede, gelê. Dit het die verhoorlanddros óf nie behoorlík besef nie, óf verkeerdelik nie aanvaar nie. Sy bevinding dat die appellant "inherent oneerlik" is, verleen ook nie voldoende erkenning aan die alkohol-probleem onderliggend aan haar optrede nie. Die verhoorlanddros se verkeerde beskouing en begrip in bogenoemde opsigte kom op 'n wesenlike mistasting neer. Dit staan hierdie Hof gevolglik vry om opnuut oor vonnis te besin.
Dat die misdrywe, globaal gesien, ernstig was, en dat daar verskeie verswarende faktore aanwesig is, is nie te betwyfel nie. Die appellant se optrede was beplan en berekend. Sy het oor 'n lang tydperk daarmee volhard. Die vertrouensposisie waarin sy was, het sy misbruik tot die nadeel en verlies van ander. Tereg het die verhoorlanddros daarop gewys dat sy die vertroue wat in haar gestel is "herhaaldelik, byna daagliks"
8
geskend het. Hierdie is gewigte oorwegings by die bepaling van 'n gepaste vonnis.
Indien al die tersaaklike feite en omstandighede met betrekking tot vonnis in die onderhawige geval behoorlik en ewewigtig in ag geneem is, sou die vereistes van straftoemeting myns insiens bevredig word as die appellant 'n vonnis opgelê is wat buite gevangenis-verband uitgedien kan word (vgl S v Van Vuuren 1992(1) SASV 127(A)). Die appellant is wel strafwaardig maar hoef nie uit die gemeenskap verwyder te word nie (vgl S v R 1993(1) SASV 209(A) op 221h). Die aangewese vonnis in haar geval blyk te wees korrektiewe toesig ingevolge artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1977 mits die appellant daarvoor geskik bevind word. Hierdie vonnisopsie kan wesenlike bestraffing sonder gevangesetting bewerkstellig (S v Ndaba 1993(1) SASV 637(A) op 641g). Toe die appellant aanvanklik gevonnis is, was korrektiewe toesig nie 'n
9
beskikbare vonnisopsie nie. Die is egter tans dienstig sowel as regtens veroorloof (S v R (supra) op 218g-219d). Artikel 276(1)(h) is vanaf 1 Junie 1993 in die distrik Williston van toepassing gemaak deur Proklamasie R48 soos gepubliseer in Staatskoerant Nr 14849 van daardie datum.
Ek sou die appêl handhaaf, die vonnis tersyde stel en die saak na die verhoorhof terugverwys vir die oplegging van 'n vonnis van korrektiewe toesig ingevolge die bepalings van artikel 276(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1977 of, indien die appellant om gegronde redes nie geskik is om aan korrektiewe toesig onderworpe te wees nie, 'n gepaste vonnis buiten direkte gevangesetting.
J W SMALBERGER APPèLREGTER