S v Hayes (242/1992) [1994] ZASCA 87 (30 May 1994)


Saaknommer 242/92

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA APPèLAFDELING

In die saak tussen:

ROBERT HAYES Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: CORBETT HR, NESTADT et HOWIE ARR

VERHOOR: 2 Mei 1994 GELEWER: 30 Mei 1994

UITSPRAAK

HOWIE AR

2

HOWIE AR,

Appellant kom kragtens art 316A van die Strafproseswet 51 van 1977 ("die Wet") in hoër beroep teen die doodvonnis wat in die Transvaalse Provinsiale Afdeling weens die verkragting van 'n 6-jarige dogter hom opgelê is.

By die aanvang van die aanhoor van die appèl op 2 Mei 1994 - hierdie Hof se eerste hofdag na die inwerkingtreding van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 200 van 1993 ("die Grondwet") - is die advokate versoek om ons toe te spreek met betrekking tot die vraag of die bepalings van die Wet wat oplegging van die doodstraf magtig nie in stryd was met die bepalings van arts 9 en 11 (2) van die Grondwet nie.

Namens appellant is betoog dat eersgenoemde bepalings wel in stryd met die Grondwet mag wees en dat hierdie vraag die aandag van die Konstitusionele Hof

3

behoort te geniet wat alleen regsbevoegdheid daaromtrent het. Die advokaat vir die Staat aan die ander kant het ter oorweging gegee dat art 241(8) van die Grondwet hierdie Hof magtig om voort te gaan en, indien gepas, die doodvonnis te bekragtig asof die Grondwet nie aangeneem is nie.

Die advokate is verder versoek om hulle tot daardie geskilpunte te beperk en nie die meriete van die appèl op daardie stadium te beredeneer nie.

Uitspraak is toe voorbehou.

Dit kom my voor dat die betekenis van art 241(8) van die Grondwet nie so duidelik is dat dit sonder wetsuitleg toegepas kan word nie. En wat sodanige uitleg betref is dit die Konstitusionele Hof wat finale regsbevoegdheid daaromtrent het: sien art 98(2) van die Grondwet.

Hierdie Hof het nie regsbevoegdheid met

4

betrekking tot daardie vraag nie (sien art 101(5) van die Grondwet).

Wat die konstitusionele vraag betref, daar ook is dit slegs die Konstitusionele Hof wat regsbevoegheid het om die grondwettigheid van die magtigende bepalings van die Wet te beslis.

Dit volg dus dat die saak nie nou finaal afgehandel kan word nie. Betoog op die meriete sal aangehoor moet word en die appèl moet derhalwe uitgestel word. Dit mag wees dat by die hervattingsdatum uitsluitsel al klaar gegee mag gewees het oor die grondwettigheid van die doodvonnis en indien wel sal dit dan die werklike geskilpunt op die meriete moontlik inkort indien nie uitskakel nie.

5

Die afhandeling van die appèl word uitgestel tot 'n datum wat deur die griffier in oorleg met die Hoofregter bepaal word.

C T HOWIE AR

Corbett HR )

Nestadt AR ) Stem saam

▲ To the top