S v Kruger and Another (508/1992) [1994] ZASCA 88 (24 May 1994)


NIE-RAPPORTEERBAAR

SAAKNOMMER: 508/92

J VD M

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

C J KRUGER Eerste Appellant

P J E VAN DER MERWE Tweede Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: HEFER, EKSTEEN et HARMS, ARR

VERHOORDATUM: 3 MEI 1994 LEWERINGSDATUM: 24 MEI 1994

UITSPRAAK

HARMS, AR:

Die twee appellante appelleer teen 'n uitspraak van Coetzee R wat met assessore in die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling gesit het. Hulle het

2

op nege aanklagte tereggestaan. Kruger (appellant nr 1) is op al die aanklagte skuldig bevind terwyl Van der Merwe (nr 2) aan sewe skuldig bevind is. Nr 1 se vonnisse was, opgesom, die doodsvonnis ten aansien van drie moorde en, op die ander aanklagte 65 jaar gevangenisstraf in totaal. Nr 2 is die doodsvonnis opgelê vir twee moorde, ten aansien van 'n derde moord lewenslange gevangenisskap en wat die ander misdrywe betref, 60 jaar gevangenisstraf. (Die 60 jaar loop natuurlik saam met die lewenslange gevangenisstraf).

Die appellante gebruik ten dele hulle outomatiese reg van appél en, wat die orige skuldigbevindings en vonnisse betref, is verlof tot appèl deur Coetzee R toegestaan.

Alvorens met die betoog tydens die appèl gehandel word, is dit gerieflik om die verhoorhof se feitebevindings kortliks op te som. Al die aanklagte het uit drie voorvalle voortgespruit en in al drie die

3

gevalle is dieselfde modus operandi gevolg. Vreemde mans met waarskynlik homoseksuele neigings is by die botaniese tuin by die Emmarentiadam in Johannesburg uitgelok. Hulle is daarna van hulle motors beroof en 'n poging is aangewend om geld van hulle te bekom of om toegang tot hulle bankrekenings te verkry. Hulle is vasgebind en in die motors se kattebakke vermoor. Die lyke is daarna weggegooi, die voertuie vir 'n rukkie gebruik en daarna vervreem of geabandoneer. In twee gevalle is van die slagoffers se bankfasiliteite gebruik gemaak maar in een geval nie, omdat daardie slagoffer geen geld gehad het nie.

Die eerste voorval het op 1 Maart 1991 plaasgevind. Nr 1 en ene Niewenhuis het, met die oog om geld te bekom, na die park op nr 1 se motorfiets gery. Niewenhuis het vir ene Combrink wat met 'n BMW motor daar was, uitgelok. Hy en Combrink is toe na sy huis. Nr 1 het op sy motorf iets gevolg. By die huis het

4

Niewenhuis en nr 1 vir Combrink met 'n vuurwapen aangehou en is hy geterroriseer en aangerand. Nr 2 het terloops sonder voorafgaande afspraak daar opgedaag en van toe af deelgeneem aan die verdere gebeure. Nr 1 het Combrink gedwing om sy tjekboek se tjeks in blanko te onderteken. Sy kredietkaarte en geld is afgeneem. Daarna is hy in sy motor se kattebak gegooi, sy mond met 'n lap toegebind en die drie rowers het toe drank gekoop, tjeks ingevul en getrek en op 'n verlate plek stilgehou. Daar het nr 1 vir Niewenhuis opdrag gegee om in die voertuig te sit. Nr 2 het gepoog om Combrink te verwurg maar kon dit nie effektief regkry nie. Nr 1 het toe 'n vuurwapen teen Combrink se bors vasgedruk en vir nr 2 aangesê om die skoot af te trek. Óf nr 1 óf nr 2 het dit toe gedoen.

Nadat hulle verder drank gekoop het, is Combrink se lyk na die uitloop van die Westdenedam geneem, en nadat nr 2 Combrink se skoene vir sy eie

5

geruil het, is die lyk in die water afgestamp. Sy klere is later verbrand. Daardie aand het die drie hulle nuut gevonde rykdom benut deur nagklubs te besoek, te drink en prostitute te huur. Op 4 Maart het nr 1 'n halsketting wat van Combrink se nek afgehaal is, aan 'n vriend by name Nel geskenk. Op 8 Maart het hy die voertuig aan 'n persoon genaamd Larry oorhandig om dit óf te repareer óf te verkwansel.

Ek mag net op hierdie stadium daarop wys dat Niewenhuis apart verhoor is vir die moord op en roof van Combrink en dat hy skuldig bevind en gevonnis is. Hy is as staatsgetuie in die huidige verhoor gebruik en, ten spyte van sy mededadigheid, is sy getuienis deur die verhoorhof sonder kwalifikasie aanvaar. Dit is nie betoog dat die verhoorhof se beoordeling van Niewenhuis as getuie verkeerd was nie.

Voortspruitende uit hierdie voorval is beide appellante aan roof skuldig bevind (aanklag 1) en is nr

6

1 tot 25 jaar en nr 2 tot 20 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hulle is ook albei skuldig bevind aan die moord op Combrink en nr 1 is die doodsvonnis opgelê terwyl nr 2 lewenslange gevangenisstraf ontvang het. Dit was die onderwerp van aanklag 2. Aanklagte 7 en 8 het gehandel met die besit van die vuurwapen en ammunisie by daardie geleentheid en ten aansien hiervan is nr 1 skuldig bevind en het twee jaar gevangenisstraf ontvang. Hierdie gevangenisstraf moes saamloop met 'n vonnis op aanklag drie. (Ek keer mettertyd terug na aanklag drie.) Nr 2 is onskuldig aan aanklagte 7 en 8 bevind.

Voorvalle 2 en 3 het op 23 Maart 1991 plaasgevind. Niewenhuis was nie 'n party tot die gebeure nie. Nrs 1 en 2 is weereens na die betrokke park op nr 1 se motorfiets. Nr 2 het hom voorgedoen as 'n homoseksueel en hy het ene Van Loggerenberg wat in 'n wit Toyota Conquest voertuig gesit het, uitgelok. Hy

7

het in die motor geklim en toe het nr 1 agter in die motor ingeklim en sy geselskap aangebied. Hy het vir Van Loggerenberg van agter om die nek gegryp, agteroor geruk en op die vloer vasgedruk terwyl hy hom teen die keel trap. Nr 2 het gehelp en die motor na 'n begraafplaas gery waar niemand hulle kon sien nie. Van Loggerenberg is beveel om in die kattebak van die motor te klim en nadat hy hulle vertel het dat hy nie geld of kredietkaarte het nie, het nr 2 hom probeer wurg. Dit was nie effektief nie en nr 2 het Van Loggerenberg toe vyf messteke in die hart toegedien.

Met die lyk in die bak is hulle terug na die park en toe het die aanloop tot die derde voorval begin. Die proses van uitlokking is herhaal maar in hierdie geval was die slagoffer ene Kruger wat in 'n rooi BMW gesit en wag het. Nr 1 het na die uitlokkery opgedaag en voorgegee dat hy 'n polisiebeampte is. Hulle het na 'n sportterrein gery en daar het nr 2 die sitplekgordels

8

afgesny en Kruger se hande agter sy rug vasgemaak. Hy

is gedwing om sy geheime identifikasienommer vir sy bankkaart te verskaf en daarna het nr 2 'n lus om Kruger se nek gesit en terwyl hy in die bak van sy motor gelê het, het hy met sy een voet sy nek (in sy eie woorde) "afgetrap" en die gordel agteroor styfgetrek en nek en voete na mekaar vasgetrek. Kruger het waarskynlik 15 minute na die verwurging gesterf.

Die twee lyke is in een motor se bak gegooi en eers is die een lyk en toe die ander lyk in die veld afgegooi en ingesleep. Van Loggerenberg se motor se nommerplaat het afgeval en dié is in die gras ingegooi. Van Loggerenberg se motor is kort daarna geabandoneer. In Kruger se motor is langspeelplate gevind wat nr 2 aan sy moeder geskenk het. 'n Dag of wat later het nr 2 die motor se radio en die bakvlerk verkwansel of weggegee. Hierdie motor is daarna ook geabandoneer.

Die tweede voorval het aanleiding gegee tot

9

skuldigbevindings aan roof (aanklag 3) waarvoor beide appellante 20 jaar gevangenisstraf opgelê is. Die moord (aanklag 4) het tot doodsvonnisse vir beide gelei. Die derde voorval het aanleiding gegee tot aanklagte 5 (vir roof) en 6 (vir moord) en weereens was beide se vonnis op die roof 20 jaar en vir die moorde die doodsvonnis.

Aanklag 9 was een vir ontsnapping wat op 23 Oktober 1991 plaasgevind het. Die appellante het daaraan skuldig gepleit, is skuldig bevind en is elk tot twee jaar gevangenisstraf gevonnis. Hierdie vonnisse moet ook saamloop met die vonnisse opgelê op aanklag 3. Geen betoog is tydens die appél teen die resultaat op aanklag 9 voorgelê nie.

Die bevindings van die hof benede het grootliks met die bekentenisse, uitwysings en getuienis van nr 2 ooreengestem. Nr 2 se beperkte verweer teen die moordaanklagte was dat hy onder dwang van nr 1 die moorde gepleeg het en, ten aansien van die eerste

10

voorval, dat toe die skoot op Combrink afgevuur is, hy 'n epileptiese toeval gehad het. Wat dwang betref, het die verhoorhof tot die gevolgtrekking gekom dat, selfs al sou nr 2 se getuienis in hierdie opsig waar wees, hy nie aan die objektiewe maatstaf neergelê in S v Goliath 1972 (3) SA 1(A) en S v Bailey 1982 (3) SA 772(A) voldoen het nie. Hoewel tydens betoog in hierdie Hof na hierdie verweer verwys is, is dit nie betoog dat die verhoorhof homself wanvoorgelig het ten aansien van enige feit of dat hy die neergelegte regsbeginsels verkeerd toegepas het nie. Dit sou in die lig daarvan geen doel dien om die getuienis weereens te behandel nie en is die onvermydelike gevolg dat hierdie verweer ook nie op appèl nie kon slaag nie. Wat die epileptiese aanval betref, het nr 2 se advokaat nie met hierdie verweer volhard nie. Sy besluit was heeltemal geregverdig. Dit is so dat nr 2 van tyd tot tyd epileptiese aanvalle kry maar die vraag is of hy so 'n

11

aanval vir enkele sekondes gekry het gedurende die tydperk waartydens, volgens hom, nr 1 hom die vuurwapen in die hand gedruk het en die skoot afgegaan het. Van deurslaggewende belang is die feit dat nr 2 vier buite-geregtelike verklarings oor die eerste voorval gemaak het en dat in nie een daarvan hy melding gemaak het van sy epileptiese aanval nie. Dit kon hy nooit verduidelik nie. Maar al het hy 'n epileptiese aanval gehad, kon dit geen verskil aan die uitslag maak nie omdat minstens hy 'n medepligtige was. Net soos Niewenhuis wat voor in die motor gesit het toe die skoot geskiet is, is hy ook skuldig aan die moord omdat, soos die verhoorhof tereg bevind het, het die drie vooraf besluit om Combrink om die lewe te bring omdat hy hulle kon identifiseer en wis waar Niewenhuis gebly het. Daarbenewens het nr 2 pas voordat die skoot gevuur is, gepoog om Combrink te verwurg en slegs omdat dit nie geslaag het nie, is van die vuurwapen gebruik gemaak. Nr 2 se appêl teen sy

12

skuldigbevindings moet dus afgewys word.

Benewens nr 1 se appél op die meriete is daar ook 'n aansoek vir die lei van verdere getuienis. Hierdie aansoek het voor die verhoorhof gedien na skuldigbevinding en is afgewys. Daar is 'n appêl teen die afwysing en daar word ook van die bepalings van art 316A (3) van die Strafproseswet 51 van 1977 gebruik gemaak. Dit verg vir die sukses van so 'n aansoek dat, onder andere, die verdere getuienis vermoedelik as waar aanvaar sal word. Die getuienis waarom dit gaan, is getuienis wat nr 2 nou aanbied om te lewer. Hy het naamlik in die gevangenis en na afhandeling van die verhoor twee briewe aan nr 1 gestuur waarin hy beweer dat nr 1 nie by enigeen van die drie voorvalle teenwoordig was nie. Volgens hom was hy en Niewenhuis die enigste persone wat by die drie voorvalle betrokke was. Die wese van sy nuwe getuienis en f rontverandering is:

13

  1. dat by die eerste voorval Niewenhuis vir Combrink geskiet het terwyl hy (nr 2) net begin bewe en "geheel verdwyn" het;

  2. dat by die tweede voorval Niewenhuis die slagoffer gewurg en daarna met 'n mes in die bors gesteek het;

  3. dat tydens die derde voorval Niewenhuis die sitplekgordel om die slagoffer se nek geknoop het, op sy nek getrap en die gordel styfgetrek het totdat hy "werklik dood" was.

Die nuwe getuienis wat nr 2 wil aanbied, is dus nie net dat nr 1 afwesig was nie maar ook dat al die dade wat hy in talle verklarings, uitwysings en tydens getuienis op homself geneem het, nou aan Niewenhuis toegedig word. Hy verduidelik sy frontverandering deur te sê dat hy bang was vir Niewenhuis as hy andersins die waarheid sou praat en dat Niewenhuis (!) en die ondersoekbeampte hom belowe het dat as hy die skuld op

14

homself sou neem, hy onskuldig bevind sou word, 'n opgeskorte vonnis sou kry of vir hoogstens drie jaar na 'n inrigting verwys sou word.

Ek is bo alle twyfel oortuig dat geen hof ooit hierdie nuwe getuienis van nr 2 sal aanvaar nie. Die uiteensetting daarvan spreek vir sigself. Sy lojaliteite is besonder labiel : tydens die aanvanklike aanhouding is hy apart van nr 1 en saam met Niewenhuis op sy versoek opgesluit. Tydens die ontsnapping het hy en nr 1 ontsnap terwyl Niewenhuis nie wou deelneem nie. Tydens die verhoor het hy nr 1 só gevrees dat aparte aanhouding gelas is. Daarbenewens is nr 1 se skuldigbevinding nie op die getuienis van nr 2 gebaseer nie maar het gevolg na aanleiding van 'n akkumulasie van onafhanklike stukke getuienis. Omdat daardie getuienis ook relevant is by oorweging van nr 1 se appèl teen sy skuldigbevinding, handel ek kortliks daarmee: 1. Op 18 Maart 1991, 18 dae na die eerste voorval en

15

vyf dae voor voorvalle 2 en 3, is nr 1 gearresteer omdat die besit van die gesteelde BMW na hom teruggevoer is. Hy is ook met drie tjeks van die oorledene wat hy ingevul en gewissel het, gekonfronteer. Op daardie stadium was die polisie onbewus van die feit dat Combrink dood was en het hulle nr 1 versoek om 'n verduideliking te gee van sy besit van die voertuig en van die tjeks. Dit het hy gedoen van die hand van 'n ongelooflike verhaal van hoe Combrink hom op 1 Maart (toevallig die dag van die moord) opgelaai het waar hy geryloop het en dat Combrink hom toe versoek het om mee te werk om (Combrink se) verdwyning te bewerkstellig wat hy ter wille van 'n sogenaamde assuransie-bedrog wou doen. Na aanleiding daarvan het Combrink aan nr 1 die motor gegee, getekende tjeks en R200 (toevallig die bedrag kontant wat Combrink by hom gehad het). Hy het 'n beskrywing

16

gegee van Combrink se kleredrag wat ooreengestem het met die drag wat Combrink inderdaad aangehad het toe hy verdwyn het.

  1. Niewenhuis is op 25 Maart gearresteer en het klaarblyklik onmiddellik 'n bekentenis gemaak. Dit het aanleiding tot die arres van nr 2 gegee en hy het ook 'n bekentenis gemaak. Die deels ontbinde lyk van combrink is uitgewys. Daarna is nr 1 op 26 Maart gearresteer en gedurende die vroeë oggendure van die 27ste het hy 'n bekentenis gemaak oor sy aandeel aan die eerste voorval. Die inhoud van hierdie bekentenis stem met die getuienis van Niewenhuis, nr 2 en die bevindings van die verhoorhof ooreen.

  2. Op daardie stadium was die polisie onbewus van die moorde in voorvalle 2 en 3. Nadat die twee motors opgespoor is en bloed in die kattebakke gevind is, is 'n verband tussen aldrie die voorvalle vermoed.

17

Dit het daartoe aanleiding gegee dat nr 1 gedurende die nag van 28 tot 29 Maart uitwyslngs aan speurder-adjudant offisier Tiedt gemaak het en het hy die lyk van Kruger en die nommerplaat van Van Loggerenberg se motorvoertuig uitgewys. Hy het Tiedt ook tot enkele treë van die lyk van Van Loggerenberg geneem. As gevolg van hierdie uitwysing is die lyke en die nommerplaat gevind. Later die aand het nr 2 'n soortgelyke en onafhanklike uitwysing gedoen.

  1. Op 31 Maart en 1 April het nr 1 uitwysings en 'n verklaring aan kaptein Landman gemaak wat op skrif gestel en onderteken is. Hierdie uitwysings en verklaring het betrekking op aldrie die voorvalle gehad en het inhoudelik ooreengestem met die objektiewe feite, nr 2 se getuienis en die uitspraak van die hof benede.

  2. Dit is bevind dat nr 1 'n deurtrapte leuenaar is

18

wat geheel en al ongeloofwaardig is. T a v die eerste voorval was sy verweer dat hy by Niewenhuis se huis na die moord opgedaag het en, onbewus van die roof en moord, in die ander twee se nuut gevonde rykdom gedeel het. T a v die ander voorvalle het hy 'n alibi gehad. Dit is bevind dat hy saamgespan het met sy alibi-getuies en dat hy 'n opgekookte weergawe aan die hof voorgelê het. Hiermee saam is nr 1 se verduideliking van sy besit van Combrink se goue ketting en sy beheer oor Combrink se voertuig verwerp.

Tydens die verhoor was dit nr 1 se saak dat hy die verklaring van 18 Maart uit die duim gesuig het. Hy kon nie enige rede vir die toevallige ooreenstemming met die ware feite (waarvan hy nie kennis kon hê volgens sy getuienis) en die verklaring se inhoud gee nie. Wat die bekentenis ten aansien van die eerste voorval betref, was dit sy saak dat hy aangerand en voorgesê is

19

om die verklaring te maak. Daardie getuienis van hom is ná 'n binneverhoor verwerp en dit is nie betoog dat die bevinding van die verhoorhof in hierdie verband verkeerd was nie. Dit bring 'n einde aan die appèl op die skuldigbevinding op voorval 1.

Wat die uitwysing van die lyke en die nommerplaat aan Tiedt betref en wat nr 1 aan die tweede en derde voorval verbind, is betoog dat daardie uitwysings in stryd met die beginsels neergelê in S v Sheehama 1991 (2) SA 860(A) is. In daardie saak is beslis dat getuienis van 'n gedwonge aanwysing ontoelaatbaar is (op 879D-F) tensy die beginsel van die sogenaamde "theory of confirmation by subsequently discovered facts" van toepassing is (op 877F-I). Dit is nie betoog dat die verhoorhof gefouteer het deur te bevind dat die lyke en die nommerplaat deur die polisie gevind is uitsluitlik as gevolg van nr 1 se uitwysing nie. Hieruit volg dit dat, wat hierdie saak betref, die

20

uitsondering na verwys die aangeleentheid reël. Daar was dus geen noodsaak dat 'n binneverhoor gehou moes word alvorens hierdie getuienis aangebied is nie. Dit is naamlik namens die appellant betoog dat 'n binneverhoor 'n voorvereiste vir die toelaatbaarheid van Tiedt se getuienis oor die aanwysing was. Daardie betoog kan nie slaag nie. Maar, in ieder geval, was dit nr 1 se saak dat hy nie hierdie aanwysings gedoen het nie. Hy is bloot deur die polisie na hierdie tonele geneem. Die feit dat hy ook beweer dat hy aangerand is voordat hy uitgeneem is, is gevolglik irrelevant omdat die aanranding nie kousaal met die uitwysing verbind is nie. Daar was immers, volgens nr 1, geen uitwysing nie. Daar moet ook net daarop gewys word dat die verhoorhof bo redelike twyfel bevind het dat daar geen aanrandings op nr 1 was nie -'n bevinding wat nie aangeval is nie.

Wat die uitwysings en verklaring aan Landman

21

betref, was daar wel 'n binneverhoor maar, is dit betoog, is ontoelaatbare getuienis tydens hierdie binneverhoor geopenbaar. Landman het naamlik tweemaal getuig. By die eerste geleentheid het hy getuig hoe nr 1 hom na meerdere punte geneem het. Wat deur nr 1 gesê is, is van die hof op daardie stadium weerhou. Die Staat het gepoog om die foto's wat tydens die uitwysing geneem is voor die hof te plaas maar die hof het, na 'n beswaar, gelas dat die foto's eers na die afhandeling van die binneverhoor as bewysstukke ingehandig kon word. Die beswaar is nou dat die hof nie moes toegelaat het dat Landman getuig oor uitwysings alvorens daar vasgestel is of nr 1 hierdie uitwysings vrywillig gemaak het nie. Weereens was dit nr 1 se saak dat hy voor die beweerde uitwysings aangerand is maar, het hy bygevoeg, hy het hoegenaamd nie die uitwysings gemaak nie. Hy is bloot na sekere tonele geneem. Nogeens was daar geen kousale verband tussen die beweerde aanranding en die

22

uitwysings nie. Die Staat wou bewys dat nr 1 uitwysings gemaak het. Ek weet nie hoe die Staat dit kon doen behalwe om Landman se getuienis te lei dat nr 1 wel uitwysings gemaak het nie. Dit is dan opvallend dat nr 1 se advokaat nie beswaar teen hierdie getuienis gemaak het nie, klaarblyklik omdat dit sy saak was dat hy nie gehandel het nie.

In ieder geval weet ek nie watter nadeel in die omstandighede van hierdie saak nr 1 gely het indien die getuienis nie in die korrekte volgorde gelei is nie. As ek die betoog reg verstaan, het dit daarop neergekom dat nr 1, toe hy gekonf ronteer is met ontoelaatbare getuienis, besluit het om leuenagtige getuienis tot sy nadeel te gee. Hierdie submissie, op die veronderstelling dat dit juridies meriete het, is nie op enige feite gebaseer nie.

Teen hierdie getuienis ten opsigte van voorvalle 2 en 3 moet nr 1 se alibi oorweeg word. Hy

23

het 'n aantal alibi-getuies geroep, maar die hof het bevind dat daardie getuies saamgesweer het om valse getuienis te gee en dat hulle getuienis ongeloofwaardig is. Dit is weereens nie betoog dat die verhoorhof homself wanvoorgelig het oor enige tersaaklike feit nie. En as die uitwysings aan Tiedt of aan Landman toegelaat word, kon die alibi nie die waarheid wees nie en was dit bo redelike twyfel vals. Dit volg dus dat die appêl van nr 1 teen die ander skuldigbevindings ook van die hand gewys moet word.

Vervolgens oorweeg ek die gepastheid van die vonnisse wat op die roofklagtes (1, 3 en 5) opgelê is. Soos reeds gesê, is nr 1 respektiewelik tot 25, 20 en 20 jaar gevonnis terwyl nr 2 tot 20 jaar op elk van die drie aanklagte gevonnis is. Die verhoorhof het nie gelas dat hierdie vonnisse saamloop nie met die gevolg dat hulle agtereenvolgend uitgedien moet word. Namens die Staat is betoog dat die verhoorhof in hierdie

24

verband 'n oorsig begaan het aangesien die aspek van samelopendheid hoegenaamd nie in die uitspraak gemeld word nie. As dit die verhoorhof se bedoeling was, kan 'n totale vonnis van 25 of 20 jaar moontlik gepas wees maar dit regverdig nog nie die vonnisse wat op elke individuele aanklag opgelê is nie. Die indruk is dat daardie vonnisse op 'n duplisering van die vonnisse op die moordaanklagte neergekom het en dat die moorde nie na behore weggedink is nie.

Die verhoorhof het tereg 'n onderskeid getref by aanklag 1 tussen die twee appellante omdat nr 2 'n laatkommer was. Daar is egter ook ander wesenlike verskille tussen die appellante: nr 1 was ten tye van die gebeure 24 jaar oud en iemand met 'n indrukwekkende lys vorige veroordelings (waarna ek mettertyd terugkeer). Nr 2 was op daardie stadium 19 jaar oud en het geen vorige veroordelings gehad nie. Aan die ander kant moet toegegee word dat daar nie 'n onderskeid

25

te treffe was in die uitvoerings- of toe-eieningshandelinge nie. Om 'n voorbeeld te gee: Kruger (die slagoffer in die derde voorval) se geld is weliswaar verdeel maar die motor en sy inhoud het nr 2 geneem.

Om reg te laat geskied, is dit dus nodig om die individuele vonnisse afwaarts aan te pas en om, waar toepaslik, te gelas dat die vonnisse saamloop. Na my oordeel is, wat hierdie deel van die saak betref, die gepaste vonnisse ten aansien van nr 1 as volg: aanklag 1 - 12 jaar; aanklag 3 - 10 jaar; aanklag 5 - 10 jaar; en dat die vonnisse op aanklagte 3 en 5 saam moet loop. In nr 2 se geval sou die gepaste vonnisse die volgende wees: aanklag 1 - 8 jaar; aanklag 3 - 10 jaar; aanklag 5 - 10 jaar; en ook in hierdie geval behoort die vonnisse op aanklagte 3 en 5 saam te loop.

Dis reeds vermeld dat nr 1 24 jaar oud was toe hierdie gebeure plaasgevind het. 'n Maatskaplike

26

werksverslag het aangetoon dat hy binne 'n gesonde gesinsmilieu grootgeword het en dat tydens sy laerskoolloopbaan hy goed gepresteer het. Hy het 'n standerd 8-kwalifikasie behaal en gedurende sy standerd 9-jaar die skool verlaat. Hy het 'n besondere onstabiele werkrekord en hy het hom skynbaar aan die lewe gehou deur op meisies te teer en uit misdaad. Hy het die rang van onder-korporaal in die Weermag verwerf maar het in dié periode 'n voertuig gesteel. Sy verhouding met sy ouers was.goed. Hy het 'n geskiedenis van drankmisbruik sedert die ouderdom van 22.

Nr 1 se misdadige loopbaan het reeds in 1980 op 13-jarige ouderdom begin toe hy aan onsedelike aanranding skuldig bevind is. In 1981 is hy aan twee aanklagte van huisbraak skuldig bevind en het lyfstraf ontvang. In 1984 is hy skuldig bevind aan die diefstal van posorders en ook aan huisbraak. Die vonnis was in totaal sewe jaar gevangenisstraf waarvan hy drie moes

27

uitdien. Gedurende 1986 is hy weer skuldig bevind aan huisbraak en dan ook die diefstal van 'n motorvoertuig op 'n militêre basis. Dit was in die destydse Suidwes-Afrika en hy het 'n opgeskorte vonnis ontvang. Gedurende 1990 was daar weer 'n geval van onsedelike aanranding en pas voor die huidige drie voorvalle het hy 'n roof van 'n motorvoertuig gepleeg onder omstandighede soortgelyk aan die huidige en daarvoor is sewe jaar gevangenisstraf opgelê. Daar was ook twee skuldigbevindings aan bestuur onder die invloed van drank. Ook van belang is die feit dat nr 1 na die eerste voorval en voor die tweede en derde voorvalle in hegtenis geneem is en verdink is van een of ander betrokkenheid by Combrink se verdwyning. Bewus daarvan, het hy vyf dae later moorde 2 en 3 gepleeg. In sy geval is dit dus duidelik dat straf geen afskrikkings- of rehabiliterende waarde het nie.

Dit is as 'n versagtende faktor betoog dat

28

die moorde 'n toevallige gevolg van die rooftogte was en nie met 'n vooropgestelde beheptheid met geweld gepleeg is nie. Hierdie submissie doen nie reg aan die getuienis nie. Die wyse waarop die rooftogte beplan en uitgevoer is, moes noodwendig tot moorde lei omdat die booswigte identifiseerbaar was. Die betoog kon miskien nog ten aansien van die eerste moord meriete gehad het, maar die pleeg van die tweede en die derde moorde weerlê dit bo alle twyfel.

Dit is so dat daar getuienis is dat nr 1 voor al hierdie voorvalle sterk drank ingeneem het en, tydens die verloop van voorval 1 ook gedrink het. Die verhoorhof het bevind dat hierdie drankinname nie 'n versagtende faktor was nie. Ek stem daarmee saam. Die onafwendbare afleiding is dat die drank verbruik is met die oog op die pleeg van die misdrywe en nie dat die misdrywe as gevolg van die drankinname gepleeg is nie. Daar is ook geen aanduiding dat hierdie drank enige

29

invloed op die misdadigers se inhibisies gehad het nie. Ten spyte van die drankinname het hulle die wêreld platgery, outomatiese banktellers gebruik, tjeks ingevul, bewysstukke versigtig vernietig, en op uiters effektiewe wyse van die slagoffers ontslae geraak, soos byvoorbeeld vyf messteke in die hart, 'n enkele rewolwerskoot en 'n besonder behendige vasbind met veiligheidsgordels met die oog op die verwurging van slagoffer 3. Dit volg uit voorgaande dat ek dit eens is met die verhoorhof dat daar, wat nr 1 betref, geen versagtende faktore by die pleeg van enigeen van die moorde was nie.

Wat verswarende faktore betref, staan die wyse waarop hierdie misdrywe uitgevoer is, voorop. Die verhoorhof het tereg bevind dat beide appellante elemente van sadisme en bravade geopenbaar het en soos psigopate opgetree het. So ook was die optrede met direkte opset gepleeg. Die seksuele oriëntering van die

30

slagoffers is uitgebuit. Wat veral skok, is dat pas na die moord op Combrink en met die bloed beswaarlik afgewas, hulle sy tjeks en geld aangewend het om prostitute te huur en in al wat nagklub is te baljaar en moeilikheid te maak.

Die verhoorhof het bevind dat nr 1 die leiersfiguur by al drie die voorvalle was. Wat voorval 1 betref, het Niewenhuis nie die oorspronklike idee om 'n roof te pleeg aan die deur van nr 1 gelê nie. Dit is so dat hy die indruk skep dat nr 1 gesê het waarheen hulle moes ry vir die moord en vir die wegdoen van die lyk. Omdat hy aangerand en beroof is in Niewenhuis se huis, is ek van oordeel dat, uit Niewenhuis se oogpunt, die moord op Combrink ook onvermydelik geword het. Ek is dus nie bo redelike twyf el tevrede dat nr 1 'n buitengewone leiersrol by die moord gespeel het nie. By die uitvoer van al drie die moorde het nr 2 getuig dat nr 1 die leiersfiguur was en die opdragte gegee het.

31

Dit was alles deel van nr 2 se verweer van dwang. Daardie verweer is verwerp. Daar is geen ander getuienis wat wys dat nr 1 wel daardie rol vervul het nie. Sy persoonlikheid regverdig wel daardie afleiding maar dit is nie 'n noodwendige afleiding nie. Ek is dus ongeneë om tussen die onderskeie deelnemers in hierdie opsig blaam verskillend toe te deel.

Teen hierdie agtergrond is ek gedwonge om te bevind dat die enigste gepaste vonnis vir die drie moorde vir nr 1 die doodsvonnis is. Ek het reeds daarop gewys dat afskrikking of rehabilitasie geen rol by hom speel nie. Dit is 'n geval waar die gemeenskapsbelang deurslaggewend is.

Vervolgens word die versagtende en verswarende faktore wat in nr 2 se geval teenwoordig was, behandel. Daar is reeds op gewys dat hy ten tye van die pleeg van hierdie misdrywe slegs 19 jaar oud was. Hy was ook tydens die eerste voorval 'n eerste

32

oortreder maar ten tye van die tweede en derde klaarblyklik nie meer nie. Hy mag nie vorige veroordelings gehad het nie maar die eerste geleentheid het, pleks om hom met walging te vervul, aangespoor tot 'n verdere misdadige lewe. Dit blyk verder dat nr 2 uit 'n gewone gemiddelde huis kom en geen sosiale probleme word in die verslag van die maatskaplike werkster vermeld nie. Sy beweer egter dat sy epilepsie daartoe aanleiding gegee het dat hy skool tydens standerd 8 verlaat het en dat dit sy gewone aanpassing geaffekteer het. Hy is selfs vir militêre doeleindes medies ongeskik verklaar. Ek moet egter meld dat, volgens die psigiatriese verslag wat kragtens art 79 van die Strafproseswet voor die hof geplaas is, daar geen aanduiding was dat nr 2 ten tye van die misdrywe aan 'n geestessiekte of -gebrek gely het nie en dat daardie toestand ook tydens die verhoor gegeld het. Ek mag net daarop wys dat nr 2 nooit getuig het dat die letsels wat

33

hy van sy epilepsie oorgehou het, enige rol by die pleeg van hierdie misdrywe gespeel het nie. Hy het dit slegs as 'n flits tydens die moord van Combrink (nadat hy reeds Combrink met die hande probeer verwurg het) geopper. Hierdie faktore het daartoe gelei dat die verhoorhof ten aansien van aanklag 2 (voorval 1) tot die gevolgtrekking gekom het dat die doodvonnis nie die enigste gepaste vonnis was nie.

Die vraag is of hierdie versagtende faktore 'n wesenlike invloed kan hê op die tweede en derde voorval. Die verswarende faktore wat toe aanwesig was was die direkte opset en, veral, die feit dat nr 2 die laksman was. Daardie rol het hy sonder om te blik of te bloos, aanvaar en sonder om te ril, vervul. Hy het in elke geval eers probeer om die slagoffer te verwurg. Hy was besig om die vuurwapen in die eerste voorval in besit te neem toe, volgens sy getuienis, die skoot afgegaan het. Omdat die verwurging in die tweede

34

voorval nie geslaag het nie, het hy sy mes gebruik om die oorledene vyf doodsteke in die hart toe te dien. Dit is hy wat by die derde geleentheid die veiligheidsgordels losgesny het en die oorledene daarmee vasgebind en verwurg het. Die f eit dat in die drie gevalle telkens van uiteenlopende wyses van doodmaak gebruik gemaak is, regverdig die afleiding dat nr 2 besig was met 'n eksperiment.

Ook sý optrede was dié van ' n psigopaat -koelbloedig, arrogant en gevoelloos. So byvoorbeeld, nadat Combrink vermoor is, het hy Combrink se seilskoene aangetrek, nie omdat hy hulle nodig gehad het of daar iets met sy skoene verkeerd was nie maar net om te kyk of hulle pas. Daardie gevoelloosheid het deurgespoel na die ander geleenthede. Dit walg om te dink dat hy die plate wat hy in Kruger se motor gekry het aan besonder sy moeder geskenk het. Hoewel hy beweer dat hy berou gehad het, het die hof daardie getuienis verwerp en

35

daarmee is ek dit eens. Sy getuienis weerspreek enige teken van emosie of berou.

Na my oordeel is die volgende aanhaling uit die uitspraak van Botha AR in S v Mofokenq 1992 (2) SASV 710(A) 719a-c van toepassing:

"Ek aanvaar dat 'n 19-jarige misdadiger nie ter dood veroordeel sal word behalwe in buitengewone omstandighede nie. Ek is egter van oordeel dat daar in die huidige saak wel buitengewone omstandighede aanwesig is. Daardie omstandighede is geleë in die grusaamheid van die appellant se optrede, wat aanduidend is van 'n verwronge en boosaardige geestesgesteldheid. Dit blyk ten dele reeds uit die appellant se doelgerigtheid met die doodmaak van die oorledenes en die verwydering van hulle besittings; maar dit blyk veral en ten duidelikste uit wat die appellant met die liggame van die oorledenes gedoen het nadat hy hulle vermoor het ..."

Na my oordeel is nr 2 in 'n swakker posisie as wat die beskuldigde Mofokeng in die aangehaalde saak was.

36

Die kanse op die rehabilitasie van die appellant deur 'n langtermyn gevangenisstraf is so onbeduidend dat dit nie verder oorweging verdien nie. Na my oordeel verg die gemeenskapsbelang in hierdie twee gevalle dat die doodvonnis opgelê moet word. Die persoonlike omstandighede van die appellant moet daarvoor wyk. Ek is dus van oordeel dat die doodvonnis op aanklagte 4 en 6, wat nr 2 betref, die enigste gepaste vonnisse vir die moorde is.

Namens die appellante is egter betoog dat die doodvonnis ongrondwetlik is en, namens die Staat weer, dat die bepalings van art 241(8) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika 200 van 1993 die saak afgehandel moet word asof die Grondwet nie aangeneem is nie. Oor beide vrae het hierdie hof geen jurisdiksie nie en geleentheid moet dus aan die appellante verleen word om hulle grondwetlike regte in die juiste forum te laat bepaal.

37

Die bevel is dus:

  1. Die appèl teen al die skuldigbevindings word afgewys.

  2. Die appèl teen die vonnisse op aanklagte 1, 3 en 5 slaag en die opgelegde vonnisse word vervang met die volgende:


  1. Beskuldigde nr 1: aanklag 1 - 12 jaar; aanklag 3 - 10 jaar; aanklag 5 - 10 jaar. Die vonnisse op aanklagte 3 en 5 loop saam.

  2. Beskuldigde nr 2: aanklag 1 - 8 jaar; aanklag 3 - 10 jaar; aanklag 5 - 10 jaar. Die vonnisse op aanklagte 3 en 5 loop saam.


  1. Die appèl teen die vonnisse op aanklagte 7, 8 en 9 word afgewys.

  2. Wat die appèl teen die doodvonnis op aanklagte 2, 4 en 6 betref, word die afhandeling van die appèl uitgestel tot 'n datum deur die Griffier in oorleg met die Hoofregter bepaal in afwagting

38

van 'n beslissing van die Konstitusionele Hof ten aansien van die vraag of die bekragtiging van die doodvonnis deur hierdie Hof in hierdie geval konstitusioneel sal wees, in die lig van die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993, soos gewysig.

L T C HARMS

APPèLREGTER

HEFER, AR )

) STEM SAAM EKSTEEN, AR )

▲ To the top