S v Plaatjies en 'n Ander (365/93; 429/93) [1994] ZASCA 91 (30 Mei 1994)


SAAKNOMMER : 365/93

429/93

N v H

IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

JOHANNES PLAATJIES 1STE APPELLANT

MIETAH VAN SCHALKWYK 2DE APPELLANT

teen

DIE STAAT RESPONDENT

SMALBERGER, AR:-

SAAKNOMMER : 365/93, 429/93 N V H

IN DIE HOOGGEREGSHOP VAN SUID-AFRIKA

(APPèLAFDELING)

In die saak tussen:

JOHANNES PLAATJIES 1ste Appellant

MIETAH VAN SCHALKWYK 2de Appellant

en

DIE STAAT Respondent

CORAM: SMALBERGER, VAN DEN HEEVER, ARR,

et OLIVIER, Wn AR

VERHOORDATUM: 9 MEI 1994

LEWERINGSDATUM: 30 MEI 1994

UITSPRAAK SMALBERGER, AR:-

Die twee appellante is in die Oranje-Vrystaatse Provinsiale Afdeling deur KOTZé, R, en assessore skuldig bevind aan twee aanklagte van moord (aanklagte 1 en 4) en twee aanklagte van roof met

2

verswarende omstandighede (aanklagte 3 en 5). Die eerste appellant is op beide moord aanklagte ter dood veroordeel; op die ander twee aanklagte is hy 15 en 18 jaar gevangenisstraf onderskeidelik opgelê. Die tweede appellant is op aanklag 4 die doodvonnis opgelê; op aanklagte 1, 3 en 5 is sy gevonnis tot 18, 7 en 12 jaar gevangenisstraf onderskeidelik - 'n effektiewe vonnis van altesame 37 jaar. Beide appellante het kragtens artikel 316A van die Strafproseswet 51 van 1977 in hoër beroep gekom teen die doodvonnisse hulle opgelê. Die tweede appellant se aansoek om teen haar vonnisse op aanklagte 1, 3 en 5 te appelleer, is deur die geleerde verhoorregter afgewys. Sy is tydens die aanhoor van die appèl die geleentheid gegun om 'n aansoek om dusdanige verlof aan hierdie Hof te rig. Die nodige aansoek, met 'n gepaardgaande aansoek om kondonasie, is gedoen en deur hierdie Hof toegestaan.

Aanklagte 1 en 3 spruit voort uit 'n voorval

3

wat in Maart 1992 plaasgevind het. Mev Elaine Maria Orphanoudakis ("die eerste oorledene") het alleen gewoon te Dan Pienaarrylaan 3, Bloemfontein. Volgens die getuienis was sy baie veiligheidsbewus. Op 5 Maart 1992 is sy in die buitetoilet van haar erf dood aangetref. Haar liggaam was bykans kaal, daar was 'n doek om haar gesig en haar hande was agter haar rug vasgebind. Daar was sleepmerke aanduidend daarvan dat sy vanaf die huis na die toilet gesleep is. Die huis binne was in 'n harwar. Kaste was gestroop gewees en goedere deurmekaar op die grond uitgegooi. Daar is vasgestel dat artikels ter waarde van Rl 500-00 vanuit die huis verwyder is. 'n Latere na-doodse ondersoek het aan die lig gebring dat die eerste oorledene dood is as gevolg van verwurging. Sy het onder meer diep kneuswonde van haar ken, nek en keel gehad, en verskeie skaafwonde was oor haar liggaam versprei. Aan weerskante van haar strottehoof was daar bloedings wat

4

deur stompgeweld veroorsaak is. Dit blyk dat sy verwurg was met óf hande om haar keel óf 'n arm wat van agter om haar nek geklem was. Seminale vloeistof is in haar vagina gevind.

Aanklagte 4 en 5 het betrekking op gebeure aangaande 'n aanval op, en die dood van, Mev Johanna Catharina Muller ("die tweede oorledene"). Sy was 69 jaar oud en het alleen gewoon te Duttonsingel 11, Bloemfontein. Op 18 November 1992 is haar half-geklede en gedeeltelike vasgebinde lyk in 'n gang in haar huis ontdek. Die kamers van die huis was deurmekaar, kaste was gestroop en goedere was rondgegooí. Daar is later vasgestel dat items ter waarde van R18 466-40 uit die huis vermis is. Die na-doodse ondersoek op haar liggaam het getoon dat sy ook aan verwurging dood is. Daar was diep kneusings teenwoordig aan sowel haar regteroog, -wang, -oor en -nek, as haar linkeroor. Haar onderste kakebeen was gebreek - die gevolg van die

5

toedíening van 'n erge mate van stompgeweld. Daar was ondervelbloedings aan beide kante van haar keel asook frakture van die hioïed -been en tiroïed-kraakbeen aan die regterkant van die strottehoof - aanduidend van verwurging deur middel van hande.

Die getuienis dui onteenseglik daarop dat die twee appellante, vanweë hulle gemeenskaplike opset en optrede, regtens aanspreeklik was vir die moorde op, en die roof van, die twee oorledenes. Bygevolg is die korrektheid van hulle skuldigbevindings nooit bevraagteken nie. Dit is egter onseker of albei appellante fisies deel gehad het aan die verwurging van die oorledenes - die waarskynlikhede is dat hulle deur die eerste appellant verwurg is. Ofskoon die eerste appellant van verkragting van die eerste oorledene aangekla is (aanklag 2), en daar bewys is (as enigste redelike afleiding) dat hy met haar gemeenskap gehad het, is hy onskuldig bevind vanweë die verhoorhof se

6

onvermoë om op die getuienis te bepaal of gemeenskap voor of na die eerste oorledene se dood plaasgevind het, en of die eerste appellant, toe hy gemeenskap gehad het, daarvan bewus was dat sy dood was of nie.

Die vraag ontstaan op appêl of die doodvonnisse die appellante opgelê die enigste gepaste vonnisse is. Dié vraag moet beantwoord word aan die hand van onder andere die verswarende en versagtende faktore wat aanwesig is met betrekking tot elke appellant.

In die geval van die eerste appellant is die verswarende faktore gewigtig en voor die hand liggend. Ten opsigte van beide aanklagte 1 en 4 was daar 'n lafhartige, koelbloedige en gevoellose aanval op 'n weerlose, bejaarde slagoffer in die knusheid en veiligheid van haar eie woning. Luidens die getuienis is sodanige voorvalle aan die toeneem. Die motief vir die aanvalle was roof en gepaardgaande

7

hebsug. Daar is nie vanweë enige besondere nood opgetree nie. Die tweede moord is minder as ses maande na die eerste een gepleeg. Daar is tereg deur die verhoorhof bevind dat minstens die tweede moord vooraf beplan is. Die afleiding is ook onvermydelik dat die tweede oorledene met direkte opset vermoor is ten einde te verhoed dat sy die twee appellante, wat albei aan haar bekend was, as haar aanvallers kon uitken. Die eerste appellant het ook 'n minagtende houding teenoor die eerste oorledene of haar liggaam ingeneem na aanleiding van die seksdaad wat hy gepleeg het. Daarbenewens het die eerste appellant ook 'n indrukwekkende lys vorige veroordelings wat nie minder nie as dertien vir huisbraak met die opset om te steel en diefstal insluit. Dit het tot gevolg gehad dat hy 'n baie groot deel van sy lewe as 'n volwassene in die gevangenis deurgebring het. Sy vooruitsigte op rehabilitasie is, om die minste te sê, uiters skraal.

8

Daar is by hom ook geen berou te bespeur nie vir die onderhawige misdade wat hy gepleeg het.

Die verhoorhof het bevind, myns insiens tereg, dat daar geen versagtende faktore ten aansien van die eerste appellant was nie. Hy het wel nie die voordeel van 'n formele skoolopleiding gehad nie en kom vanuit 'n minderbevoorregte sosiale agtergrond, maar hierdie is neutrale faktore, ofskoon relevant ten opsigte van die bepaling van 'n gepaste vonnis.

Hierdie Hof het al herhaaldelik beklemtoon dat ofskoon al die doelstellings van vonnis by vonnisbepaling aandag behoort te geniet, in gevalle soos die onderhawige die elemente van afskrikking en vergelding noodwendig na vore tree. In talle sake betreffende wrede aanvalle op weerlose, bejaarde persone op verafgeleë plase of in die privaatheid van hulle wonings, wat tot die dood van die slagoffers gelei het, is die doodvonnis as enigste gepaste vonnis beskou. Na

9

my mening geld dit ook wat die eerste appellant betref ten aansien van aanklagte 1 en 4.

Heelwat van die verswarende faktore wat ek reeds genoem het, geld ook ten opsigte van die tweede appellant. In haar geval is daar egter 'n aantal versagtende faktore aanwesig. Sy was 40 jaar oud en 'n eerste oortreder toe die misdade in Maart 1992 (wat betrekking het op aanklagte 1 en 3) gepleeg is. In Januarie 1992 het die eerste appellant by die tweede appellant en haar kinders in hulle huis ingetrek. Dit is opvallend dat, nadat sy vir soveel jare 'n skoon paadjie geloop het, haar misdaadsloopbaan juis twee maande daarna 'n aanvang neem. Soos reeds genoem, is die eerste appellant geen vreemdeling aan misdaad nie. Hulle verhouding was maar bra stormagtig. Die tweede appellant, wat kleiner is as die eerste appellant, is by tye deur hom mishandel. Die eerste appellant erken self dat hy haar geslaan het. Mej Moolman, van NIMRO, wat

10

ondersoek ingestel het na die tweede appellant se

omstandighede, het getuig dat die tweede appellant se

kinders bang was vir die eerste appellant as gevolg van

sy optrede teenoor hulle moeder. Volgens haar inligting

het die tweede appellant se gedrag begin verander nadat

sy die eerste appellant ontmoet het. Sy (mej Moolman)

het ook die indruk gevorm dat die tweede appellant

maklik beïnvloedbaar is. Gevolglik het die verhoorhof

bevind dat

"hierdie hof nie in ons gemoed bo alle twyfel tevrede is dat beskuldigde 2 nie aanvanklik by die eerste voorval deur beskuldigde 1 verlei

of beïnvloed was nie."

Na aanleiding daarvan is bevind, heeltemal tereg, dat die doodstraf nie die enigste gepaste vonnis op aanklag 1 was nie.

Gesien die aard van hulle verhouding en hulle verskillende agtergronde, en ondanks die les wat sy behoort te geleer het uit haar vorige ondervinding, en

11

die verwagting dat sy as gevolg daarvan groter weerstand sou gebied het teen optrede van die eerste appellant wat vir haar onaanvaarbaar was, kan die redelike moontlikheid myns insiens nie uitgesluit word nie dat die tweede appellant ook met die pleging van die misdade ten opsigte van aanklagte 4 en 5 tot 'n mate deur die eerste appellant beïnvloed is. Bowendien, as behoorlik gelet word op die tweede appellant se persoonlike geskiedenis en omstandighede bestaan daar wel in haar geval vooruitsigte op rehabilitasie.

Ek is gevolglik van mening dat daar nie bevind kan word dat, wat betref die tweede appellant, die doodvonnis die enigste gepaste vonnis op aanklag 4 is nie. 'n Lang termyn van gevangenisstraf sal in haar geval aan al die doelstellings van straf voldoen en behoort ook die gemeenskapsbelang te bevredig. Na my mening is 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf aangewese op aanklag 4. Dit behoort ook die

12

effektiewe vonnis te wees. Die kumulatiewe uitwerking van die vonnisse die tweede appellant op die ander aanklagte opgelê, is buitensporig hoog. Gevolglik sal daar gelas word dat die vonnisse op aanklagte 1, 3, 4 en 5 saamloop.

Was dit nie vir die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, Wet 200 van 1993 ("die Grondwet") nie sou hierdie Hof die opgelegde doodvonnisse ten opsigte van die eerste appellant bekragtig het. Artikels 9 en 11(2) van die Grondwet skep egter twyfel of die doodvonnisse die toets van konstitusionaliteit sal weerstaan. Die vertolking van hierdie artikels lê binne die uitsluitlike jurisdiksie van die Konstitusionele Hof. Ofskoon artikel 241(8) van die Grondwet 'n oorgangsbepaling bevat wat die indruk skep dat met alle verrigtinge wat onmiddellik voor die inwerkingtreding van die Grondwet hangende was voor 'n geregshof, gehandel moet word asof die Grondwet nie

13

aangeneem is nie, kan dit wees dat hierdie bepaling sou

uitgelê kon word dat dit slegs op prosessuele

en jurisdiksionele aangeleenthede betrekking het. Die

korrekte uitleg van hierdie bepaling behoort ook aan

die Konstitusionele Hof oorgelaat te word. Dit is

gevolglik onwenslik dat die appèl van die eerste

appellant afgehandel word voordat die Konstitusionele

Hof uitsluitsel gegee het oor dié vraagstukke.

Hangende die Konstitusionele Hof se beslissing daaroor

blyk die aangewese weg te wees om die finale afhandeling

van die eerste appellant se appèl uit te stel.

Bygevolg word die volgende bevel gemaak:

1) Die afhandeling van die appèl van die eerste appellant teen die doodvonnisse op aanklagte 1 en 4 word uitgestel tot 'n datum wat deur die Griffier in oorleg met die Hoofregter bepaal word, in afwagting van 'n beslissing van die Konstitusionele Hof ten aansien van die vraag of die bekragtiging van die doodvonnisse deur hierdie Hof in 'n geval soos die onderhawige konstitusioneel sal wees, in die lig van die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-

14

Afrika, Wet 200 van 1993.

2) Die appèl van die tweede appellant teen die doodvonnis op aanklag 4 slaag. Die doodvonnis word tersyde gestel en vervang met 'n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf. Dit word gelas dat die vonnisse op aanklagte 1, 3 en 5 sal saamloop met dié op aanklag 4.

J W SMALBERGER APPèLREGTER

VAN DEN HEEVER, AR )

OLIVIER, WN AR ) Stem saam

▲ To the top