SAAKNOMMER : 399/92 N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA (APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
WILLEM JACOBUS ROUX Appellant
teen
DIE STAAT Respondent
SMALBERGER, AR:-
SAAKNOMMER : 399/92
N v H
IN DIE HOOGGEREGSHOF VAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen:
WILLEM JACOBUS ROUX Appellant
en
DIE STAAT Respondent
CORAM: VAN HEERDEN, SMALBERGER,
et NIENABER, ARR
VERHOORDATUM: 23 MEI 1994
LEWERINGSDATUM: 30 MEI 1994
UITSPRAAK SMALBERGER, AR:-
Die appellant, wat skuldig gepleit het, is in die streekhof te Germiston skuldig bevind aan ses aanklagte van onsedelike aanranding. Die aanklagte is vir doeleindes van vonnis saamgeneem en hy is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar
2
voorwaardelik opgeskort is. Behalwe dat die opskortende voorwaardes gewysig is, het sy appél teen vonnis na die Witwatersrandse Plaaslike Afdeling misluk. Verlof is egter aan hom toegestaan om in hoër beroep na hierdie Hof te kom.
Ten tye van die pleging van die misdade was die appellant 'n 25-jarige onderwyser verbonde aan 'n laerskool te Alberton. Die onsedelike aanrandings is oor 'n tydperk van nagenoeg vyf maande teenoor van sy seunsleerlinge gepleeg. Hulle was tussen 11 en 13 jaar oud. Vanuit erkennings deur die appellant gemaak, blyk dit dat hy nie net self van die betrokke leerlinge onsedelik aangerand het nie, maar ook bygestaan het terwyl van hulle onsedelike dade met mekaar gepleeg het. In een geval het hy 'n video opname gemaak van 'n ontklede leerling wat gemasturbeer het. Sodanige optrede, gepaard met die skandelike wyse waarop die appellant sy vertrouensposisie as onderwyser misbruik
3
het, en sy verantwoordelikheid versuim het, is erg
verswarend. Enige vonnis moet noodwendig die
verontwaardiging en misnoeë van die gemeenskap
weerspieël.
Die appellant self het nie getuienis afgelê
nie. Dr Van der Merwe, 'n kliniese sielkundige, het
egter namens hom getuig. Uit sy getuienis blyk onder
andere die volgende: Die appellant kan as 'n pedofiel
beskryf word. As kind was hy self seksueel
gemolesteer en sy huidige probleem het oor 'n lang
tydperk ontwikkel. Hy het by geleentheid 'n predikant
geraadpleeg oor sy situasie. Hy is aanbeveel om
professionele hulp in te win maar het destyds daarteen
besluit. Die appellant het berou oor sy optrede. Hy
het behandeling nodig en is begerig om dit te ondergaan.
Dr Van der Merwe het ook getuig:
"Hy het nog vormingsmoontlikhede oor en met indringende psigoterapeutiese hulp glo ek tog kan 'n mens by hom verandering teweegbring."
4
Later sê hy:
"Prognosties lyk die geval nie regtig so sleg
nie dat 'n mens sou kon sê daar is geen
veranderingsmoontlikhede nie."
Hieruit blyk dit dat alhoewel daar beslis veranderings-
en rehabilitasiemoontlikhede vir die appellant bestaan
daar geen sekerheid daaromtrent kon wees nie. Blykbaar
sou behandeling buite gevangenis-verband meer
bevorderlik vir hom wees. Behandeling is egter ook
binne die gevangenisopset moontlik ofskoon dienste nie
altyd beskikbaar is nie.
Daar is ook verskeie ander relevante persoonlike faktore wat uit die oorkonde voorkom maar dit is nie nodig om vir die doeleindes van hierdie uitspraak daarop in te gaan nie.
Namens die appellant is daar betoog dat 'n vonnis van korrektiewe toesig ingevolge art 276(1)(h) van die Strafproseswet 51 van 1977 die aangewese vonnis sou wees in sy geval. Dié vonnisopsie was nie
5
beskikbaar toe die appellant destyds gevonnis is nie, maar is tans wel. Dit is ook 'n regtens veroorloofde vonnis (S v R 1993(1) SASV 209(A) op 218g-219d). Dit beteken egter nie dat dit hierdie Hof vrystaan om die bestaande vonnis te vervang deur een van korrektiewe toesig bloot omdat dit veroorloof is en moontlik as meer geskik geag kan word nie. Dit is geykte reg dat hierdie Hof op appèl alleenlik by magte is om met die diskresie -uitoefening van 'n verhoorhof met betrekking tot vonnis in te meng waar daar 'n wesenlike mistasting of 'n onreëlmatigheid was, of die opgelegde vonnis ontstellend onvanpas is. Alleenlik as daar gronde bestaan om met die tans bestaande vonnis in te meng, kan oorweging aan korrektiewe toesig as 'n vonnisopsie geskenk word (S v R (supra) op 219d-g).
Na my mening openbaar die verhoorlanddros se uitspraak 'n ewewigtige benadering ten opsigte van alle relevante oorwegings by vonnisoplegging insluitend die
6
vereistes van straftoemeting. Ondanks die moedige pogings van die appellant se advokaat, is ek geensins oortuig dat die verhoorlanddros in enige wesenlike opsig misgetas het nie. Van 'n onreëlmatigheid is daar nie sprake nie. Daar is gepoog om die onderhawige vonnis met wat aan die hand gedoen is ooreenstemmende gevalle is, te vergelyk. Elke saak moet egter op sy eie besondere meriete beoordeel word. Die onderhawige vonnis is weliswaar swaar, maar daar bestaan goeie rede daarvoor. Dit kan geensins as buitensporig of I ontstellend onvanpas aangeteken word nie, Gevolglik bestaan daar geen grondslag vir inmenging met die opgelegde vonnis nie. Daar sal egter 'n gepaste aanbeveling gemaak word ten einde te probeer verseker dat die appellant behandeling in die gevangenis ontvang. Dit staan natuurlik ook die Kommissaris van Korrektiewe Dienste vry om mettertyd op te tree ooreenkomstig die bepalings van art 276A(3) van Wet 51 van 1977 sou hy dit
7
gerade ag.
Die appèl word afgewys. Die Griffier van hierdie Hof word versoek om te reël dat 'n afskrif van die getuienis en verslag van die kliniese sielkundige, Dr Van der Merwe, aan die Departement van Korrektiewe Dienste gestuur word met die versoek dat, sover doenlik, psigoterapeutiese hulp, soos deur Dr Van der Merwe in die vooruitsig gestel, aan die appellant verleen word.
J W SMALBERGER APPèLREGTER
VAN HEERDEN, AR ) stem saam NIENABER, AR )