S v Kruger (298/1993) [1994] ZASCA 99 (19 August 1994)


/CCC SAAK NR 298/93

IN DIE HOOGGEREGSHOFVAN SUID-AFRIKA
(APPèLAFDELING)
In die saak tussen: !

THEUNIS GERTSE KRUGER APPELLANT

en

DIE STAAT RESPONDENT

CORAM: HEFER, NESTADT et HOWIE ARR DATUM VERHOOR: 15 AUGUSTUS 1994

DATUM GELEWER: 19 AUGUSTUS 1994

UITSPRAAK NESTADT. AR:

Die appellant is in die streekhof gehou te Lichtenburg aan verkragling skuldig bevind. Hy is gevonnis tot vyf jaar

2

gevangenisstraf waarvan die helfte voorwaardelik opgeskort is. Sy appèl teen beide die skuldigbevinding en vonnis na die Transvaalse Provinsiale Afdeling is afgewys. Hierdie is 'n verdere appèl.

Wat die skuldigbevinding betref, is die vraag of die Verhoorhof geregtig was om die appellant se verweer van toestemming te verwerp. Ek is nie van voorneme om die getuienis in dié verband of die landdros se redes vir sy bevinding uiteen te sit nie. Ek veronderstel dat die leser van hierdie uitspraak op hoogte is met die relevante feite. Ek gaan dan onmiddellik oor na 'n oorweging van die aanval deur mnr Grobler namens die appellant op die skuldigbevinding.

Hy het staatgemaak op die klaagster se aanvanklike versuim om die appellant se vorige besoeke aan haar woonstel te

3

openbaar; hy het aangevoer dat die klaagster se getuienis ten opsigte van die beserings wat sy beweer sy in die verkragting opgedoen het onbevredigend was; hy het ter oorweging gegee dat daar 'n wesenlike moontlikheid was dat die klaagster 'n motief gehad het om die appellant valslik van verkragting te beskuldig, naamlik om haar goeie naam en reputasie te beskerm; en, laastens, het hy aan die hand gedoen dat die klaagster se weergawe verskeie onwaarskynlikhede bevat, naamlik dat die appellant nie eers toenadering gesoek het nie; dat, terwyl hy met die klaagster "besig" was, hy ter selfde tyd gesê en herhaal het dat "ek is jammer"; dat sy nooit uitgeroep of gegil het en dat haar klere nie geskeur is nie.

Sekere van mnr Grobler se stellings is nie ongegrond nie. Die klaagster se getuienis is wel vir kritiek vatbaar. Dit moet ook

4

in gedagte gehou word dat sy 'n enkel getuie was en dat ons te doen het met 'n geslagsmisdaad. Bygevolg is die versigtigheidsreël van toepassing. Aan die ander kant egter is daar verskeie oorwegings wat in die Staat se guns tel. Hulle is die volgende: (a) Die beweerde motief wat haar sou geweeg het om 'n saak van verkragting teen die appellant te versin is tereg deur die landdros verwerp. Dit is onwaarskynlik dat die appellant net na hulle gemeenskap gehou het, aan die klaagster sou gesê het dat hy met Heleen gaan trou. Dit was 'n ongeleë geleentheid om so 'n opmerking te maak. Hierbenewens was sy getuienis dat hy so pas besluit het om nie met haar te trou nie. In ieder geval het die klaagster reeds geweet van die verhouding tussen die appellant en Heleen. En laastens, op hierdie punt, is dit

5

moeilik verstaanbaar wat dit die klaagster sou gebaat het om 'n saak teen die appellant te versin. Niemand het geweet van wat tussen hulle gebeur het nie.

(b) Dit is juis dat in haar getuienis in hoof die klaagster geen melding van enige vorige besoeke deur die appellant aan haar woonstel maak nie. Maar heel aan die begin van haar kruisverhoor het sy vrywillig aangebied dat "hy was by my woonstel ook gewees twee keer". Ek kan bygevolg nie saamstem dat sy die hof probeer mislei het ten aansien van die omstandighede waaronder sy die appellant voorheen gesien het nie.

(c) Dit is onwaarskynlik dat die klaagster sou ingestem het om geslagsomgang met die appellant te hê. Voordat die appellant

6

aan haar venster geklop het, was sy vas aan die slaap en omdat sy op medikasie was vir haar senuwees was sy "heel deurmekaar". Ek kan ook nie die appellant se getuienis dat daar alreeds 'n intieme verhouding tussen hulle was, aanvaar nie. (d) Na my mening het die klaagster 'n bevredigende verduideliking gegee vir hoekom sy nie geskreeu het nie. En wat die appellant se buitengewone optrede betref, blyk dit dat hy in 'n besondere bui was. Die klaagster sê dat hy nie soos sy hom geken het was nie; sy oë was "so half verwilderd gewees, hy was nie vir my normaal nie". (e) Onmiddellik na die insident het die klaagster by 'n buurman gaan kla en beweer dat sy verkrag is. Sy was in 'n emosionele

7

toestand. Sy het gehuil en gebewe en sy was "redelik bleek in haar gesig". Hierdie getuienis is nooit aangeval nie. Dit is klaarblyklik onversoenbaar met die appellant se relaas dat gemeenskap met toestemming plaasgevind het.

  1. Wat die klaagster verder staaf is die beserings waarvan sy getuig het, dws die blou kolle op haar bene en op haar bors. Ek stem nie saam dat sy haar hier weerspreek nie. Toe sy na die dokter is, was die blou kolle nog nie sigbaar nie. Hulle het eers die volgende dag na vore gekom. Dit kan nie betwyfel word dat sy hierdie beserings in die voorval opgedoen het nie (kyk in dié verband na speurder adj offisier Geldenhuys se getuienis).

  2. Boonop is daar sy optrede wat net as 'n bekentenis deur die

8

appellant beskou kan word. Ek verwys na sy besoek aan die

klaagster nadat hy dieselfde aand deur die polisie gesoek is. Dit was te verwagte dat hy sou ontken het dat hy haar verkrag het of dat hy haar sou gevra het hoekom sy hierdie aanklag teen hom gebring het. In plaas daarvan sê hy weer dat hy jammer was - en dit nadat sy vir hom gesê het "maar ek het vir jou gesê jy moenie".

Op 'n algemene oorsig van die getuienis bly ek onoortuig dat die landdros se aanvaarding van die klaagster se getuienis verkeerd was. Hy was deur haar beïndruk en het goeie redes gehad om die appellant se weergawe te verwerp. Sy uitspraak is 'n deeglike een. Na my mening kan die appèl teen die skuldigbevinding nie slaag nie.

9

Die appèl teen vonnis kan kortliks afgehandel word. Dit kan nie gesê word nie dat die vonnis óf buitensporig swaar is óf dat die landdros hom wanvoorgelig het. In dié opsig ook moet die

appèl faal.

Die appèl word afgewys.

NESTADT. AR

HEFER, AR )

) STEMSAAM HOWIE, AR )

▲ To the top